Verskyn in Die Afrikaner(die HNP se weekblad) 23-29 Oktober 2009.

Wyl die son sak oor die Vrystaat se vlaktes en die lug in rooskleurige koper tooi, weer die Voortrekkerbeeld, aan die voet van Vegkop, steeds die assegaaie van sy lyf. Dit is Saterdag, 17 Oktober 2009 en die tweede dag van die herdenking van die slag van Vegkop, sowat 20 km weg van Heilbron. In die saal ʼn entjie weg, vergestalt die GK267-lede Jopie Fourie se verhaal in ʼn toneelstuk.
Die vorige aand die organiseerders van die herdenkingskamp hulself aan die kampeerders voorgestel. Gouvernements Kennisgewing no. 267(GK 267), ʼn studente organisasie van die Pukke wat hul ten doel stel om gedenkwaardighede en veral veldslae te herdenk – sodat ons erfenis vir ons kinders bewaar kan bly, maar ook om aan ons helde hulde te bring. Hul grootste beweegrede: “as jy nie weet waarvandaan jy kom nie, sal jy nie weet waarheen jy op pad is nie…”
Vroegoggend, na die opening en vlaghysing, het Jan van Zyl die gebeure wat hier afgespeel het, 173 jaar gelede, geskets. Die wonder, maar ook die vernuf waarmee omtrent 33 voortrekkermans en hul vrouens en kinders, hulself teen duisende Matabeles, verdedig het.
ʼn Kranslegging het gevolg en na ʼn besoek aan die Museum, is die koppie deur die aanwesiges bestyg. Die vlag van GK267 is geplant. Van bo af het dit helder oor die slagveld weerklink: “Dit is die lied van Jong Suid-Afrika.” “Ons sal lewe, ons sal sterwe, Ons vir jou Suid-Afrika…”Die Pukke het hul studentelied: …”want in U lig, sien ons, sien ons Die Lig” uit volle bors gesing. Barend het met die UP se lied, “…Alma Mater, bron van krag, besiel alleen tot mag…” geantwoord. Om af te sluit is die Jakaranda Cantus Gilde se lied: “Ons is trou – Jopie Fourie!” gesing.
Hierdie singery het die grondslag gelê vir die groot woordgevegte in die Cantus – wat net na die toneelopvoering sou volg. Die studente van die PUK is in getalle heelwat meer, maar TUKS se manne het besluit: “die Matabeles was ook in die meerderheid…”
Een van die GK267-lede het vroeg reeds vir oom Kruger gevra om later die aand om die kampvuur meer te vertel oor die voorgeskiedenis van Vegkop. Spesifiek oor die Liebenberg-moorde aan die Vaalrivier en die kinders wat daar ontvoer is. Geskiedenis wat aan heelwat van ons onbekend is.
Met die reënbui wat uitgesak het vroegmiddag, is op tipiese boer-maak-‘n-plan-manier besluit om die boeresport te verander na speletjies in die saal, met Neef Horst van die Handhawerjeug aan die stuur van sake.
Almal het met groot pret en vrolike deurmekaar passies, saam Volkspele gespeel.
Barend Uys, wat sy volksgesprek – soos aangetoon op die program – verander het na ʼn eenrigting-gesprek, was volgende aan die beurt. Hy het uitgelig, met ʼn enkel sin uit ʼn TV-nuusberig as voorbeeld, hoe ʼn groot sielkundige aanslag daagliks teen ons gevoer word. As ons nie die geskiedenis in harde feite gaan leer ken nie, sal ons dit nie kan afweer nie. En as ons dit ken sal ons ook besef dat ons nog altyd die morele hoë grond beklee het, en dit nog steeds met trots kan doen. “Ons is min, Ons het mense nodig om more ook die stryd te stry,” het hy gesê. Daarom moet ons die slagspreuk van Zapata om “eder op my voete te sterf as op my knieë te lewe” verwerp. Ons kan veel eder Bismarck se goeie raad volg: “Dwase sê hul leer uit eie ondervinding. Ek verkies om uit die ondervinding van ander te leer.”
Of u gedeel het in die besonderse geleentheid of nie – merk vroegtydig op volgende jaar se kalender die naweek naaste aan die 16de Oktober, om nie die volgende herdenking van Vegkop mis te loop nie!




30 November 2008