|
Uit my (“Boeremag”) – dagboek
4 Januarie 2008
Vandag was en later in die maand is die twee verjaarsdae van Oom Vis(beskuldigde nr 22) se twee jongste seuns. As ek aan die twee dink kom onwillekeurig by my op hul Ma se skrywe (eintlik oor haar honde), in die Augustus 2006-nuusbriefie van die Helpmekaar Hulpfonds:
“
Lank, lank gelede– nie ‘n paar eeue, soos dit soms voel nie– maar eintlik net meer as 10 jaar, was ons `n gewone gesin met `n Pa, `n Ma en twee seuns. Ons het op `n baie mooi plasie gewoon aan die kant van die Waterberge. Omdat ons maar altyd lief was vir honde, het ons met Boerboele geboer—pragtige groot getroue waghonde wat bekend was vir hulle goeie temperament. Maar al was daar soms tot 20 honde op die plaas, wou die seuns elkeen graag `n eie hond hê. Die oudste het toe ’n baba Boerboeletjie gekry en omdat hy eendag ’n groot sterk hond sou word, is hy Buffel genoem. Die jongste het toe ’n Jack Russel gekry en omdat hy so oulik en lewendig was, is hy Fielies genoem.
Hierdie twee honde was alles wat hulle vir die kinders moes wees. Buffel het saam met sy kleinbasie in die veld gestap, geleer om nie die wild te verjaag nie en my (die Ma van die twee) gemoedsrus gegee—as Buffel saamgaan is die kind veilig. Fielies weer het snags binne-in sy kleinbasie se bed geslaap(totdat hy nie meer die grond en bosluise kon verduur nie – onthou dis Bosveld) Fielies het soos ‘n mashoof regop voor op die pypkar gestaan waarmee hulle twee op die plaas rondgery het.
Maar, soos seuntjies maar maak, het hierdie twee groot geword en koshuis toe gegaan.
Gelukkig het die Pa baie op die plaas rondgestap en Fielies het oral saam rondgedraf. Dit was vir hom baie lekker, want hy kon gereeld (tot my ontsteltenis) die ribbokke en bobbejane teen die berg uitjaag. Buffel het sy plek as liefling-hond op die plaas vol gestaan.
En toe, op ‘n baie slegte dag in Sept 2002 is die Pa skielik weg—en tot nou toe nog het hy nie terug gekom nie.
Niemand van ons het dit verstaan nie…”
[Voorts het sy vertel hoe die honde in die slegte tyd vir haar meer beteken het as wat hulle ooit vir hulle Kleinbasies of hul Oubaas beteken het. Ook hoe sy vir Buffel, nadat sy hom moes uitsit, amper net so baie mis as die seuntjies(wat nou groot mans en uit die huis uit is) en hul Pa.]
Ouboet was ‘n eerstejaartjie gewees op in 2002. Hy het intussen sy graad BSc Agric (veeteelt en weidingkunde) voltooi en is deesdae ‘n plaasbestuurder op ‘n groot plaas vêr van hier. Kleinboet het kort daarna in Graad 11 Matriek-geskiedenis met ‘n onderskeiding geslaag, en die volgende jaar aan die einde van sy skoolloopbaan nog ses bygevoeg. Hy is tans finale jaar student in Elektroniese Ingenieurswese. Hy kom gereeld vir sy Pa kuier wanneer ons besoektyd by die hof het. So met die jare het ek gesien hoe die ‘seuntjie’ heeltemal uit sy gesig verdwyn en ‘n pragtige sterk jongman voor my oë gedy.
Ten spyte van ‘n Pa in die tronk, het hul gewys watter staal in hul steek, iets wat ons geleer het om wel deeglik te verstaan…
|