Platkuif, dagsê
Na ek jou versoek aan my om oor die ‘Boeremag’ te skrywe, het ek nogal gedink:- Platkuif kan mos maar dink wat hy wil. Ek stel nie belang om hom nog van die ‘Boeremag’ te vertel nie. Wat anders vertel mens in elk geval van so ‘n flop-storie soos dié en hoe verduidelik mens dat dinge sò ingewikkeld kan wees, dat mense dit in elk geval nie glo nie…”
Maar toe onthou dat ek en my Boeremag-vriendin eendag, nie so lank gelede, op die sypaadjie gestaan het om vir ons mans te waai… Dit het so half ‘n gewoonte geword, om elke keer as ons kan, dit te doen. Wanneer die hof vir die dag verdaag word die gevangenes weer geboei in die selle onder die hof. (Die boeie word elke keer aangesit wanneer hulle vervoer word, maar verwyder sodra hulle weer in die tronk of in die hof is. Net Herman en Rudi se voetboeie bly in die hof die heeltyd aan, aangesien hul eens ontsnap het). Hulle word dan almal in die ‘beestrok /pampoenwa wat nou nie meer geel is nie’ (vangwa) gelaai, wat hulle dan met luide sirene begeleiding van die Njalas en ander voertuie tronk toe gevat. Deesdae is die vertoon darem ‘n fraksie van wat dit in die begin was. Al is daar is nog steeds 20 of meer swaargewapende Taakmag-lede om hulle te vergesel, word baie kalmer gedoen. In die begin dae was dit ‘n sirkus, met soveel vertoon en so luid as moontlik. Hul is met so ‘n spoed vervoer, dat die bande met die wegtrek slag op die teer geskree het… tot ‘n polisieman eendag amper die vangwa omgegooi het. Dit het in die hof gaan draai, met dié dat van die geboeide ouens binne-in seergekry het en die Regter het mooi gevra vir beter samewerking. Die laaste jare gaan dit beter) …Ons staan dan gewoonlik op die sypaadjie en waai vir hulle, wanneer die wa onder die hof uitgery kom en in die straat afdraai.
So staan ons dié dag en waai tot die konvooi voertuie om die hoek verdwyn. “Hier staan ek en jy, Poppie. Ons waai vir ons mans en daar gaan hulle. Weg van ons af. Is dit nie absurd nie?” vra sy vir my. Ek wou, soos altyd, vir haar sê: “Toemaar, eendag sal dit anders wees en dan sal ons lag oor al die absurditeite van nou,” maar toe ek opkyk sien ek haar oë vol trane. En net daar slaat die ding my mos onderstebo en begin ek soos ‘n graadeentjie tjank. Onwillekeurig maak ek die situasie toe nog meer absurd, want daar staan ek en sy toe kliphard en grens, op die sypaadjie soos twee graadeentjies op hul eerste skooldag. Al verskil is net, ons is al heelwat ouer en dis vergeet-se-tyd nie meer ons eerste dag by hierdie skool, genaamd die ‘Boeremag’ nie. Al is ek reeds ses lange jare hier, en sy bietjie minder, sommige dae verloor nooit daardie gevoel van die-eerste-dag-skool-toe nie. Die onbekende in. Gedwing in ‘n ding waarvoor jy-voel-jy-is-nie-reg-nie. Vasgevang in ‘n moet-maar-net. Iewers in jou agterkop iets wat knaag: ek-wil-nie-hier-wees-nie. Tog is jy dag vir dag getrou aan die leer. Self al sou mens, soos sommige van ons vriendinne, besluit om die skool te verlaat, deur jou man te skei, is ek oortuig daarvan dat mens hierdie skool in jou wese met jou saam dra. Of jy nou een maand, ses jaar of langer hier was, jy bly ‘n graadeentjie in die skool en jy dra die res van jou lewe die skool se naam. Tog is dit die beste leerskool van die lewe wat ‘n mens seker kan kry. Al het ek self ‘n paar toetse liederlik gedop, moet ek eerlik wees oor wat ek geleer het. Van tronk en verraad, politiek of te wel geskiedenis in wording, die dodelike magspel daaromtrent, maar ook die noodsaak daarvan, informante en intelligensie operasies, menseverhoudings en psigologie, liefde, trouheid en geloof, vasbyt, moed, en durf - ja, maar veral ook die meeste oor myself.
My Ma het ‘n gesegde van “dis ‘n matriek wat ek lankal geslaag het.” Verwysende na moeilike dinge wat sy reeds geleer hanteer het. Miskien is dit ook die enigste positiewe ding wat daaruit mag voortvloei, dat sommiges van ons ‘n sekere matriek moes skrywe, terwille van onsself. Party dinge is lekker en interessant om te leer. Ander jy kry nie ‘gekop’ nie, dit maak doodeenvoudig nie sin nie. ‘n Aantal is doodgewoon pynlik, in die ergste graad. ‘n Mens gaan nie skool toe omdat jy op ‘n dag ‘n bevlieging gekry het nie, jy gaan sodat jy toegerus kan word vir die lewe. Dit geld vir almal van ons. Ek weet, ek is nie alleen nie. Hierdie skool het my geleer om dit in mense om my, in skole van hul eie, se lewens ook raak te sien. In die ‘Boeremag’-skool, waar ek beland het, is dit egter net so bietjie meer ontbloot. In plaas van ‘n jaarblad te haal, beland ons soms op die TV of die voorblad van die koerant of in ‘n bespreking op die internet… (Miskien, is dit die beste ding wat nog in ons volk se geskiedenis gebeur het… maar, dit sal net tyd ons leer).
“Life is not a private affair.
A story and its lessons are only made useful if shared”
Dié woorde van Dan Millman is my inspirasie om aan te hou vertel van die skool waar ek beland het.
Net sodra ek weer ‘n kansie het, vertel jou meer.
Groetnis
Ankoren
Ns.
Ai tog, hoekom sit jy daardie foto van die Boereoorlog by jou pos oor my “(Boeremag)”-dagboek? Ek hoop nie dis die enigste ding waarmee jy my wil assosieer nie! Moet my nie verkeerd verstaan nie, ek het ‘n rak vol boeke oor die Boereoorlog, en ek lees en gesels graag daaroor en wil graag nog meer daaroor weet. Maar, dis ‘n oorlog wat in my Oupagrootjie se tyd verloor is. Dit het nie direk met my of die ‘Boeremag’ baie te doen nie. Oeps, maar nou het ek te gou gepraat, want ek sal seker vir jou iets in ruil moet stuur. Ek weet nie wat nie. Miskien, is dit wat ek sou verkies het, iets wat in die toekoms lê…daarom sal ek maar volstaan (vir eers) met dié een. Ek sit heel agter saam met ‘n Boeremag-vriendin en voor is die jongstes van die kinders van die manne in die tronk. Die foto is geneem deur die Pretoria News, na ons einde-van-die-jaar-partytjie, Desember 2006.
Want, meer as in die geskiedenis, glo ek in die toekoms!




