Uit my (“Boeremag”) – dagboek

November 2, 2008

Aan ‘n onbekende vriend

Filed under: 2008 — ankoren @ 9:13 nm

 

Goeienaand my e-pos vriend

 

Dit was al sterk skemer voordat ek die hek gaan sluit het. Daar het ‘n ander atmosfeer in die lug gehang waar die beeste, wat in die kampie langs die huis slaap, besig was om hulself vir die nag tuis te maak. Ek het vir ‘n paar minute langs die draad stil gaan staan. Ek weet nie of jy dit al opgemerk het nie, maar die energie in so trop beeste fassineer my nog al my lewe lank en dit bly nog altyd vir my lekker om tussen daardie groot lywe rond te staan. Oral voor my het daar beeste rustig gelê en herkou, maar tussen-in is daar ‘n klomp wat woel en sukkel om hul lê te kry. Ek let op dat dit veral die opgeskotes is wat die grootste gros van die rusteloses uitmaak, soos tieners mos maar maak. Daar is egter ook ‘n ouer koei met omkrulhorings wat regtig nie kan besluit waar en hoe sy wil lê nie.  Sy en die jongelinge hou aan omdraai en rond trap en verstoor die rustigheid totaal en al. Dit is asof daar so ambivalensie in die lug rond hang, onrus en rus te gelyker tyd… net soos in my gemoed oor jou voorlaaste e-pos…

 

Wat my besiel het om na die tergduiwel op my skouer te luister en jou te vertel dat ek al die baie geld wat jy vir almal in die “Boeremag” inbetaal het in my rekening en aan my toevertrou het om uit te deel, vir myself gevat het, weet ek glad nie. En hoekom jy juis die opvolgende e-pos waar ek jou vertel het dat ek net ‘n grap gemaak het, moes mis lees, verstaan ek nog minder. Tog het jou reaksie nou al vir ‘n paar nagte by my gespook. Net soos daardie kalwers en omkrulhoring-koei wat aanhou ronddraai en nie hulle lê kan kry nie, het ek geen rus of duurte nie.  

 

Een van daardie omkrulhoring-koei gedagtes wat aanhou om by my te spook, is dat jy te maklik bereid was om my so ‘n vermeende misstap te vergewe. Ek het groot waardering daarvoor dat jy verstaan dat ek dalk so iets kon doen, maar weet jy, vir jare luister ek in my hoekomhok na my man se verduideliking oor nie-korrupteerbaarheid en hoe dringend hy die nodigheid daarvan insien. Vir jou om nie-korrupteerbaar te wees, moes jy my dadelik aangevat het en nie probeer vertel het dat jy dit kan verstaan dat iemand wat soos ek sukkel om altyd alles bymekaar te hou, geld sal gebruik wat nie eintlik myne is nie… (Jy ken my tog net van die onpersoonlike wêreld van die internet af.) Jy hoef egter nie te sleg te voel nie, ek kry baie raas by hom  oor ek neig om dieselfde te doen – omdat ek vir mense jammer is, sien ek dinge oor wat ek eintlik dadelik teen moes gestry het. Juis daarom dat dit so in my gedagtes bly maal soos ‘n kromhoring-koei wat nie haar lê kan kry nie.  Maar, ek is op die pad van leer en hierdie rondmaal gedagte het my weer laat opsoek wat hy geskrywe het: “Nie-korrupteerbaarheid is iets wat jy moet leer deur die harde en moeisame weg van die lewe. Die natuur plaas ons almal in die matriks van korrupteerbaarheid en staan dan nuuskierig terug, vou haar arms en kyk of jy dit kan oorkom en dit kan ontgroei. Dit is iets wat in die kinderstadium van enige mens begin ontwikkel. As kind begin die natuur ons buig en snoei deur ons te plaas midde in elementêre lesse en word dit al moeiliker gemaak soos wat ons opgroei. Aanvanklik skool Moeder natuur jou openlik en opsigtelik sodat dit duidelik sigbaar is en met jou sintuie waargeneem word, tot dat Sy tevrede is dat jou waarnemings vermoë die sigbare tekens en bewyse van korrupsie kan raaksien. Oor en oor onderwerp Sy jou aan die toets en lesse. Sy toets jou met geld, met liefde, in jou verhouding met die natuur, met diere en op die ou einde in die verhouding met jouself. In die verhouding met jouself word jy getoets of jy die vermoë om vir jouself te lieg, oorkom het. Dit is die drumpel wat ‘n mens moet oorkom om toegelaat te word as vakleerling vir nie-korrupteerbaarheid. Dan begin Sy die toets moeiliker maak deur dinge te verskans en weg te steek agter toneelspel en egos van mense onder andere, sodat jou vermoë op die onsienlike vlak kan begin ontwikkel. Sy stel vir jou slaggate waarin jy kan val as jy nie die kamoeflering daarvan vroegtydig raaksien nie. Sy begin jou op die pad plaas van vooruit denke (forethought) en neem jou na al hoër toetse. Dié wat jy druip, gee sy jou geduldig weer en weer ‘n kans om daaruit te leer, in die hoop dat Sy van jou ‘n diamant-mens kan maak en jou op die uiteinde kan toelaat tot die geledere van die nie-korrupteerbare mens.”

 

‘n Maal-gedagte na die anderkant toe is dat jy tog moes geweet het dat ek die geld nie net vir myself sou gevat het nie, anders sou jou eerste reaksie nie die gewees het om vir my te lag nie. Sien, jy vertrou nog nie jou intuïsie ver genoeg nie – nee wag, ek hoor al jou besware – intuïsie is nie net vir vrouens nie! En moet nou net nie dink ek het jou geglo toe jy vir my vertel het dat jy ‘n softie is nie, want nét ‘n sterk man luister na sy intuïsie! Al is dit eers onbewustelik. Soos Manawee, vergeet menig mansmens soms van die hondjie. Het jy al die storie van Manawee gehoor? Manawee maak twee susters die hof, maar hul vader het gesê dat hy hul net mag kry indien hy hulle name kan raai. Hy stuur sy hondjie om hulle af te luister. Die hondjie hoor dan die name en hardloop dan vinnig terug na sy meester Manawee om hom dit mee te deel, maar langs die pad trek ‘n sappige vleisige been sy aandag af en kou so lank daaraan dat hy die name vergeet. Hy gaan ‘n tweede keer om hulle name af te luister maar oppad terug na Manawee, is dit ‘n heerlike pastei met ‘n neutmuskaatgeur wat maak dat hy weer die name vergeet. ‘n Derde keer probeer hy baie vasberade met die name wat hy gehoor het, maar loop hom vas in ‘n vreemdeling wat vreeslik met hom baklei. Gehawend wen hy tog die geveg en met die name nog steeds helder in sy gedagte haas hy hom na Manawee. Manawee gaan daarmee na die vader en kry al twee sy bruide en saam leef hulle vier gelukkig saam. Volgens Clarissa Pinkola, die skryfster van die boek Woman who dance with wolves, waar ek die verhaal gelees het, dui die twee susters op die dualistiese aard van vrou-wees. Die man en sy hond op die dualistiese aard van man-wees, maar die hondjie is terselfdertyd sy intuïsie wat hy vooruitstuur. ‘n Hond kan hoor en ruik waar mens nie kan nie en is in die verhaal simbolies van ‘n man se instinktiewe psige. Juis daardie psige wat hom in staat stel om bo die ego uit te hoor én te kan volg wat hy hoor. Iets wat ek eerlikwaar dink dat ons mans oor die algemeen meer aandag aan kan gee!

 

Maar die ronddraai gedagte wat by my bly vassteek het en in ‘n ander rigting laat draai het: is die deernis in jou antwoord. Daarom het ek vir jou oorlede oom Johan Steyn se beskrywing, na aanleiding van sy gunsteling filosoof Schopenhauer, gestuur:In ‘n essay oor die grondslag van die etiek oorweeg hy(Schopenhauer) verskillende opsies en kom dan tot die gevolgtrekking dat deernis of medelye die egte sin van die Bybelse begrip van agape is. Want die diepste van die lewe is lyding. Die hele skepping sug en is in barensnood tot nou toe. Die diepste en spontaanste van die siel is inderdaad verdriet. Geen ander emosie word so spontaan opgeroep nie. Met die ontwaking van deernis verdwyn die afguns wat so maklik kop uitsteek. Met deernis word die ander in sy ondeurgrondelik eie leed as mede-mens omhels.”

 

Van die manne in die tronk het gister in die hof vir my kom vra om hul dank aan jou oor te dra vir die geld(-wat ek toe wel saam met jou brief uitgedeel het!) Waar ek nou hier in die rustigheid langs die beeste staan en vir ‘n oomblik my eie oë toemaak, is een van hulle se oë nog steeds voor my. Dit sit al van gister af soos die negatief van ‘n fotobeeld hartseer in my gedagtes vas. As jy vir ‘n oomblik langs my sou kon staan en ook in sy oë – wat na ‘n slagveld van ‘n verwoed afgelope oorlog van emosie lyk – kon kyk, sou jy kon verstaan hoe waardevol jou deernis-dade van boodskappe aan ons om moed te hou en ook die geld wat jy aan gestuur het, is. Vir elkeen van ons, ook vir my. Maar, dit gaan meer oor die daad as oor die geld: The most valuable things in life are not measured in monetary terms. The really important things are not houses and lands, stocks and bonds, automobiles and real state, but friendships, trust, confidence, empathy, mercy, love and faith. (Bertrand Russel).

 

As ek só daarna kyk, is die rondmaal-kromhoring-koei in my – nou met deernis tot ruste gelê.

 

 

Rustige nag

9 APRIL 2008

Filed under: 2008 — ankoren @ 8:59 nm

9 April 2008

 

Aan ons liefde-kind

 

Van baie klein af het Pa jou graag regop gehou en gekyk of jy self kan staan. En so het ek eendag die foto’tjie geneem: “kyk Ma, ek staan op my eie bene” het hy gesê. (Dit was daardie tyd wat hy besluit het dat hy vir homself wil werk, sy eie baas wil wees).

          – ek sien jou nog met jou krullebol voor my geestesoog rondtrippel met jou eerste deftige skoene wat Tanna vir jou gebring het, as ek reg onthou uit Spanje uit. Sulke blinkleer swartetjies. Dit was vir my die mooiste skoene en ek en jy was omtrent ewe in ons skik daarmee…

          – van ons skoene waarmee jy graag kleintyd rondgestap het, was Pa se ‘army-boots’ vir ‘n lang tyd jou gunsteling, al het jy meer geval as geloop met dit aan…

          – ek sien jou ook ewe kordaat en babbelbek in jou graad een skoolskoene busstop toe stap…

           – ek onthou so goed hoe vies jy was vir my en Ouma oor ons gegiggel oor jou eerste hoëhakskoene…

           – maar, jy was eintlik ons kaalvoet-kind… ons grootste vreugde…

 

Onthou my nog verontwaardig Pa was oor jy vir die ander oom gesê het dat hy ‘‘n soort van ‘n ingenieur’ is – omdat jy nie op die oomblik van die meganies kon onthou nie. Hy vertel vandag vir my dat jy dit vandag vir hom gestil het in sy gemoed dat hy nooit ‘n graad maar ‘n diploma gedoen het…

 

Met jou opstap vandag op die verhoog in die Aula om jou graad te ontvang, is jy nou vandag die ‘regte’ ingenieur in ons gesin. Die oomblik was te groot vir my – nou het jy regtig op jou eie twee bene begin staan… Met die lees van jou naam het die man wat reg agter my gesit het, vir sy vrou hard genoeg gefluister dat ek dit duidelik kon hoor: “darem nog ‘n meisiekind met ‘n Afrikaanse van”. Ek wou omdraai en vir hom vertel: …nie sommer net nog enetjie met ‘n Afrikaanse van nie, dis ‘n baie, baie spesiale meisiekind:  Een wie die grootste deel van haar matriekjaar en haar hele universiteitsloopbaan met haar Pa in die tronk deurgesien het…

 

Ons is nog altyd trots op jou, maar vandag ontbreek die woorde…

Veels geluk! My kind – dít wil gedoen wees!

Al my Liefde

Ma

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

19 April 2008

Filed under: 2008 — ankoren @ 8:41 nm

Op die berg het ek nogal gedink hoekom is ons so min? Hoekom kon ek nie al die talle mense wat ek gevra het om saam te kom met my entoesiasme aansteek nie? Miskien het ek nie hard genoeg probeer nie…

 

Gelukkig hoef ek nie vir Oupa(my Skoonpa) twee keer te gevra het nie, inteendeel hy het gevra of hy mag saamry.  Op sy 80-jarige leeftyd het hy voetjie vir voetjie die klipperige afdraande aangedurf, die stukkie van waar ons geleentheidsvoertuig gestop het tot waar die punt van die vlag is. (Mense, ek’t nie geweet 4 X 4’s is so spoggerig nie!) Daar was ‘n lekker groot klip net reg vir hom vir ‘n sitplek. Hier kon hy ons rustig sit en betrag en ook sy geliefde wêreld waar hy groot geword het en nog steeds daagliks arbei, uitgestrek voor sy voete.

magaliesberg

 

 

 

Toe ons terug ry oor Silkaatsnek is die verkeer bietjie druk, maar ek hou aan omkyk, “kyk bietjie of Oupa al kan sien” “Nee, waar” hy sukkel so bietjie om hom in die bakkie so gedraai te kry dat hy kan sien. Die ongeskikte motorbestuurder agter my, probeer my omtrent van die pad afry, ek sien net hoe hy skel omdat my aandag nie by die pad is nie. “Maak nie saak nie, ons is nou by oom Manie se indraai”, sê ek, my seer keel ten spyt. By die indraai draai ek om: “Kyk, Oupa, kyk! Is dit nie ongelooflik!!” Ek begin in my sak krap na my selfoon: “Nou wat maak jy nou?” “Oupa, ek moét vir Edwin bel” “Hoe nou?” vra Oupa. Ek probeer verduidelik, “In September-maand laas jaar het ek saam met Edwin-hulle hier gery en hy het vir my gesê hy wil nog die vlag teen daardie hang oopmaak”. As ek my oë toemaak kan ek die oomblik in my gedagtes herleef, hy het so half skuins uit die bestuurder sitplek vir my na agter gekyk, waar ek nog vrotter van die griep as vandag half teen die deur gelê het. Dit was ‘n amper belofte, of ‘n droom daardie dag, en hier lê die vlag helder groot teen die berg… Voor hy nog behoorlik kan antwoord, val ek hom in die rede:  “Edwin, dit lyk ongelooflik mooi van onder af!!! Dis fantasies!”

 

 

van oom Manie se huis af

 

Ons ry terug om by Oom Manie Maritz se huis te gaan groet en tref hom op die trap aan, op sy toer deur sy huis. Oral is teen die mure prente, skilderye, aandenkings, nuusberigte en foto’s. Van sy Pa en die Boereoorlog, sy stoei jare, sy Brahmaan-beeste se toekennings wat amper die plafon vol hang(die meeste by een teler in Suid-Afrika), sy perdry dae, die Loftus blou-bul, AWB-stories, sy geskeurde hemp van die Boere beleg in Pretoria, die koerant berig wat ek ook gebêre het waar hy en Koos in die moeilikheid was oor hul die deur opgestamp het, en die klomp saam met hulle vir die NP-LV Louis Nel van die verhoog af gaan haal het, ten spyte daarvan dat Kallie Knoetze R1000-00 betaal was om oom Manie in bedwang te hou(knipoog hy), sy skoolfoto’s en aandenkings… Hy vertel weer van sy verblyf in Engeland, en loer na my – [vroeër die oggend het hy na aanleiding van my T-hemp, waarop staan BOEREMAG engelse maggie (bedoelende mag nie) reeds vir my vertel dat as hy moet oorsee gaan bly hy weer Engeland toe sal gaan, nie Amerika, Australië of Nieu Seeland nie – die Engelse het hom goed behandel. Ek het net gelag en hom vertel ek mág maar die hempie dra].  Ek vra Tannie Beatrix uit na die lieflike beelde wat oral staan en ek en sy raak vêrder aan die gesels. Later sluit ek by die groep aan toe hulle teen die trap op is. Dit is toe net waar oom Manie wys van sy Pa se boeke en hy vertel van hom en sy Ma se stryd om dit gepubliseer te kry. Hy kyk my stip in die oë as hy sê “My Pa het ‘n strewe gehad…” Hoekom het ek nog nie die boek gelees nie, verwyt ek myself. Heel laaste gaan wys hy vir ons die volstruis, gemonteer in die groot toilet teen die muur, tesame met ander koerantberigte.  Hy vertel hoe die volstruis hom wou doodskop maar hy die volstruis gestoei het en op die einde vir die volstruis kon vertel hulle was gelykop – een val elk.  Laaste het hy weer van sý Beatrix vertel, terwyl sy verleë en skaam langs my gestaan het, het ek na haar foto teen die muur gekyk. Sy staan langs die ingevoerde koei, wat hulle die meeste toekennings besorg het, pas na sy van Amerika af gekom het. Ek het die woorde onder dit seker drie keer gelees, maar kan dit nog steeds nie onthou nie. Ek weet dit gaan oor die kosbaarste ding in die lewe om ‘n lewensmaat te hê, wat jou in alles bystaan in vriendskap…

Photobucket

 

 

Nadat Oom Manie alles op die boonste stoep aan ons gewys het, het ek langs hom gaan staan: “Wat ‘n ryk lewe, Oom.”  Hy het met ‘n sagte lig in sy oë na my gekyk, met die wyse begrip van ‘n ou mens: “Ja, ‘n ryk lewe…

 

Toe ek en Oupa by die huis kom rondom drie uur, het ek dadelik ‘n kamera gaan leen, wat ons kon nog steeds die vierkleur sien, as jy agter die bome verby stap. As jy deur die vêrkyker kyk, is dit egter baie duidelik. Gou egter het met my grieplyf op die bed gaan neer val, ‘n rukkie later het ek weer wakker geword en gou uitgehardloop om te gaan kyk – ek kon die vlag nie meer sien nie. Ek het gou Oupa en Ouma se vêrkyker gaan leen, ek kon dofweg die opgevoude wit op die grond sien lê en twee voertuie daar naby. Daar het so winteraand gevoel in die lug kom lê en ek het gou weer gaan inkruip. Die opwindende dag was verby.

 

vlag magaliesb

 

 

Miskien sal ek eendag vir my ook so galery soos Oom Manie bou… die 19de April 2008 toe ons die Reuse Vierkleur teen die Magaliesberg oop gemaak het, as van die  hoogtepunt in my lewe sal beslis ook daar wees… Edwin het toe hy afgekom het van die berg af, ‘n liedjie laat speel, wat my vollyf laat hoendervleis uitslaan het:

“saam, saam, saam sal ons saam

  vir ons land Suid-Afrika”

 

Saam ja, saam kan ons nuwe drome droom, en werk om dit te laat waar word…net soos vandag – selfs al is ons min.

 

 

5 April 2008

Filed under: 2008 — ankoren @ 7:47 nm

Vandag is dit ses jaar gelede dat die eerste drie mans gearresteer is vir die “Boeremag”-saak. Ek het vir my Boeremagvriendinne gevra of een van hulle nie eder iets wou sê nie en het die volgende briefie van tannie Genevé (Mike en Andrè du Toit se moeder) ontvang (sy het ook gevra dat ek dit aangestuur vir die Helpmekaar Hulpfonds se nuusbriefie):

‘n Boodskap aan my twee seuns Mike en Andre du Toit.

Na ses jaar kan ek maar net sê: Dankie, dankie dat julle so moedig die onskuldige straf dra.

Ek het geleer dat daar ‘n begin en ‘n einde is. Ek weet waar julle begin was toe julle vir ons gebore is. Met liefde en sorg het Pappa en ek julle versorg, groot gemaak. Later skool toe nog later Universiteit en Kollege toe. Ja, en nog later moes ons julle afgee aan jul lewensmaats.

Die leemte in die huis was erg. Ons het besef ons kan julle nie in die nes hou nie.

Nou na soveel jare bly julle nog my seuns vir wie ek baie lief is.

Jul vader is nie meer met ons nie. Hy het sy lewe voluit geleef. Hy was ook baie trots op julle.

Wees verseker dat ek opgewonde wag op julle terugkoms wat nie meer lang gaan wees nie. Die einde is insig. Die lig in die tonnel skyn nou helder.

Liefde
Ma Genevé du Toit

19 Maart 2008

Filed under: Uncategorized — ankoren @ 7:34 nm

afrikoon andre
Andrè ontvang die Afrikoon toekenning van die ATKV van Oom Martin du Preez tydens ‘n glansgeleentheid in Pretoria.

Rudi se verjaarsdag 18 Januarie 2008

Filed under: 2008 — ankoren @ 7:10 nm

Ek het per ongeluk hierdie dag uitgeskeur uit my dagboek…

Jan Rudolf Gouws skryf hy altyd sy naam – die Rudi-kind, hy verjaar vandag. Hy het sommer in my hart gekruip van dag een af. Soos op die foto’tjie wat ek van hom gebedel het, by die vlakvark – kind van die wye veld…Houdini nr 2, sou ek darem baie graag hom oor my skoot wou trek en hom ‘n loesing gee nadat hy en Herman uit die hof weggeloop het. Sy Pa het mos hoeka al vertel dat hy hom op 5jarige ouderdom die eerste keer gevang rook het…

 

 “ek sal groot word en sterk” lees ek in sy gedig, en hoor hom met sy voetboeie aanklingel teen die trap af na die selle onder die hof… en dis sommer rou en seer vir hom binne my.

 

 

HIERDIE LAND

                           

Hierdie land met sy edel prag,

Vir my het hy onder sy mag.

Van hier af sal ek nooit nie trek,

Hier het ek tot bloedloop gewerk.

 

Hier is ek gebore en gedoop,

Hier sal ek nooit nie loop.

Die land met sy immergroen bos,

Met berge wat oortrek is met mos.

 

Van onder in die Suide tot in die Springbokvlakte,

Het hierdie land tot diep gekruip in ons harte.

Dit was nog altyd ons land hierdie gewees,

Ons is hierheen gestuur saam met God se Gees.

 

Ek het hierdie land baie lief,

En niemand sal dit weer steel soos ‘n dief.

Ek sal nog my eie grond bewerk,

En ek sal groot word en sterk.

 

 Tweede foto van News24

 

 

Blog at WordPress.com.