Goeienaand my e-pos vriend
Dit was al sterk skemer voordat ek die hek gaan sluit het. Daar het ‘n ander atmosfeer in die lug gehang waar die beeste, wat in die kampie langs die huis slaap, besig was om hulself vir die nag tuis te maak. Ek het vir ‘n paar minute langs die draad stil gaan staan. Ek weet nie of jy dit al opgemerk het nie, maar die energie in so trop beeste fassineer my nog al my lewe lank en dit bly nog altyd vir my lekker om tussen daardie groot lywe rond te staan. Oral voor my het daar beeste rustig gelê en herkou, maar tussen-in is daar ‘n klomp wat woel en sukkel om hul lê te kry. Ek let op dat dit veral die opgeskotes is wat die grootste gros van die rusteloses uitmaak, soos tieners mos maar maak. Daar is egter ook ‘n ouer koei met omkrulhorings wat regtig nie kan besluit waar en hoe sy wil lê nie. Sy en die jongelinge hou aan omdraai en rond trap en verstoor die rustigheid totaal en al. Dit is asof daar so ambivalensie in die lug rond hang, onrus en rus te gelyker tyd… net soos in my gemoed oor jou voorlaaste e-pos…
Wat my besiel het om na die tergduiwel op my skouer te luister en jou te vertel dat ek al die baie geld wat jy vir almal in die “Boeremag” inbetaal het in my rekening en aan my toevertrou het om uit te deel, vir myself gevat het, weet ek glad nie. En hoekom jy juis die opvolgende e-pos waar ek jou vertel het dat ek net ‘n grap gemaak het, moes mis lees, verstaan ek nog minder. Tog het jou reaksie nou al vir ‘n paar nagte by my gespook. Net soos daardie kalwers en omkrulhoring-koei wat aanhou ronddraai en nie hulle lê kan kry nie, het ek geen rus of duurte nie.
Een van daardie omkrulhoring-koei gedagtes wat aanhou om by my te spook, is dat jy te maklik bereid was om my so ‘n vermeende misstap te vergewe. Ek het groot waardering daarvoor dat jy verstaan dat ek dalk so iets kon doen, maar weet jy, vir jare luister ek in my hoekomhok na my man se verduideliking oor nie-korrupteerbaarheid en hoe dringend hy die nodigheid daarvan insien. Vir jou om nie-korrupteerbaar te wees, moes jy my dadelik aangevat het en nie probeer vertel het dat jy dit kan verstaan dat iemand wat soos ek sukkel om altyd alles bymekaar te hou, geld sal gebruik wat nie eintlik myne is nie… (Jy ken my tog net van die onpersoonlike wêreld van die internet af.) Jy hoef egter nie te sleg te voel nie, ek kry baie raas by hom oor ek neig om dieselfde te doen – omdat ek vir mense jammer is, sien ek dinge oor wat ek eintlik dadelik teen moes gestry het. Juis daarom dat dit so in my gedagtes bly maal soos ‘n kromhoring-koei wat nie haar lê kan kry nie. Maar, ek is op die pad van leer en hierdie rondmaal gedagte het my weer laat opsoek wat hy geskrywe het: “Nie-korrupteerbaarheid is iets wat jy moet leer deur die harde en moeisame weg van die lewe. Die natuur plaas ons almal in die matriks van korrupteerbaarheid en staan dan nuuskierig terug, vou haar arms en kyk of jy dit kan oorkom en dit kan ontgroei. Dit is iets wat in die kinderstadium van enige mens begin ontwikkel. As kind begin die natuur ons buig en snoei deur ons te plaas midde in elementêre lesse en word dit al moeiliker gemaak soos wat ons opgroei. Aanvanklik skool Moeder natuur jou openlik en opsigtelik sodat dit duidelik sigbaar is en met jou sintuie waargeneem word, tot dat Sy tevrede is dat jou waarnemings vermoë die sigbare tekens en bewyse van korrupsie kan raaksien. Oor en oor onderwerp Sy jou aan die toets en lesse. Sy toets jou met geld, met liefde, in jou verhouding met die natuur, met diere en op die ou einde in die verhouding met jouself. In die verhouding met jouself word jy getoets of jy die vermoë om vir jouself te lieg, oorkom het. Dit is die drumpel wat ‘n mens moet oorkom om toegelaat te word as vakleerling vir nie-korrupteerbaarheid. Dan begin Sy die toets moeiliker maak deur dinge te verskans en weg te steek agter toneelspel en egos van mense onder andere, sodat jou vermoë op die onsienlike vlak kan begin ontwikkel. Sy stel vir jou slaggate waarin jy kan val as jy nie die kamoeflering daarvan vroegtydig raaksien nie. Sy begin jou op die pad plaas van vooruit denke (forethought) en neem jou na al hoër toetse. Dié wat jy druip, gee sy jou geduldig weer en weer ‘n kans om daaruit te leer, in die hoop dat Sy van jou ‘n diamant-mens kan maak en jou op die uiteinde kan toelaat tot die geledere van die nie-korrupteerbare mens.”
‘n Maal-gedagte na die anderkant toe is dat jy tog moes geweet het dat ek die geld nie net vir myself sou gevat het nie, anders sou jou eerste reaksie nie die gewees het om vir my te lag nie. Sien, jy vertrou nog nie jou intuïsie ver genoeg nie – nee wag, ek hoor al jou besware – intuïsie is nie net vir vrouens nie! En moet nou net nie dink ek het jou geglo toe jy vir my vertel het dat jy ‘n softie is nie, want nét ‘n sterk man luister na sy intuïsie! Al is dit eers onbewustelik. Soos Manawee, vergeet menig mansmens soms van die hondjie. Het jy al die storie van Manawee gehoor? Manawee maak twee susters die hof, maar hul vader het gesê dat hy hul net mag kry indien hy hulle name kan raai. Hy stuur sy hondjie om hulle af te luister. Die hondjie hoor dan die name en hardloop dan vinnig terug na sy meester Manawee om hom dit mee te deel, maar langs die pad trek ‘n sappige vleisige been sy aandag af en kou so lank daaraan dat hy die name vergeet. Hy gaan ‘n tweede keer om hulle name af te luister maar oppad terug na Manawee, is dit ‘n heerlike pastei met ‘n neutmuskaatgeur wat maak dat hy weer die name vergeet. ‘n Derde keer probeer hy baie vasberade met die name wat hy gehoor het, maar loop hom vas in ‘n vreemdeling wat vreeslik met hom baklei. Gehawend wen hy tog die geveg en met die name nog steeds helder in sy gedagte haas hy hom na Manawee. Manawee gaan daarmee na die vader en kry al twee sy bruide en saam leef hulle vier gelukkig saam. Volgens Clarissa Pinkola, die skryfster van die boek Woman who dance with wolves, waar ek die verhaal gelees het, dui die twee susters op die dualistiese aard van vrou-wees. Die man en sy hond op die dualistiese aard van man-wees, maar die hondjie is terselfdertyd sy intuïsie wat hy vooruitstuur. ‘n Hond kan hoor en ruik waar mens nie kan nie en is in die verhaal simbolies van ‘n man se instinktiewe psige. Juis daardie psige wat hom in staat stel om bo die ego uit te hoor én te kan volg wat hy hoor. Iets wat ek eerlikwaar dink dat ons mans oor die algemeen meer aandag aan kan gee!
Maar die ronddraai gedagte wat by my bly vassteek het en in ‘n ander rigting laat draai het: is die deernis in jou antwoord. Daarom het ek vir jou oorlede oom Johan Steyn se beskrywing, na aanleiding van sy gunsteling filosoof Schopenhauer, gestuur: “In ‘n essay oor die grondslag van die etiek oorweeg hy(Schopenhauer) verskillende opsies en kom dan tot die gevolgtrekking dat deernis of medelye die egte sin van die Bybelse begrip van agape is. Want die diepste van die lewe is lyding. Die hele skepping sug en is in barensnood tot nou toe. Die diepste en spontaanste van die siel is inderdaad verdriet. Geen ander emosie word so spontaan opgeroep nie. Met die ontwaking van deernis verdwyn die afguns wat so maklik kop uitsteek. Met deernis word die ander in sy ondeurgrondelik eie leed as mede-mens omhels.”
Van die manne in die tronk het gister in die hof vir my kom vra om hul dank aan jou oor te dra vir die geld(-wat ek toe wel saam met jou brief uitgedeel het!) Waar ek nou hier in die rustigheid langs die beeste staan en vir ‘n oomblik my eie oë toemaak, is een van hulle se oë nog steeds voor my. Dit sit al van gister af soos die negatief van ‘n fotobeeld hartseer in my gedagtes vas. As jy vir ‘n oomblik langs my sou kon staan en ook in sy oë – wat na ‘n slagveld van ‘n verwoed afgelope oorlog van emosie lyk – kon kyk, sou jy kon verstaan hoe waardevol jou deernis-dade van boodskappe aan ons om moed te hou en ook die geld wat jy aan gestuur het, is. Vir elkeen van ons, ook vir my. Maar, dit gaan meer oor die daad as oor die geld: The most valuable things in life are not measured in monetary terms. The really important things are not houses and lands, stocks and bonds, automobiles and real state, but friendships, trust, confidence, empathy, mercy, love and faith. (Bertrand Russel).
As ek só daarna kyk, is die rondmaal-kromhoring-koei in my – nou met deernis tot ruste gelê.
Rustige nag







