Al het ek en oom nie so baie gereeld gesels nie, kan ek elke gesprek goed onthou en sal ek die meeste daarvan in my hart saamdra. Ek sal oom baie mis en die filosofiekafee gaan vir ‘n paar van ons ‘n leë plekkie hê, wat moeilik gevul gaaan word.
Oom se begrafnisbrief sal ’n ere plekkie op my lessenaar kry…
“Maar dobber ‘n skip sonder vrag nie rond in elke bries wat daarteen aanstoot nie? Die landing van my skip is die gewiglose lading van deernis. En vreemd genoeg, hier sluit ek weer aan by ‘n tema in die klassieke Christelike geloof. Die teks vir my proefpreek was: Dra mekaar se laste en vervul so die wet van Christus. Die ongedogmatiseerde Christus. Maar rek sluit terselfdertyd aan by die universele denker Schopenhauer. In ‘n essay oor die grondslag van die etiek oorweeg hy verskillende opsies en kom dan tot die gevolgtrekking dat deernis of medelye die egte sin van die Bybelse begrip van agape is. Want die diepste van die lewe is lyding. Die hele skepping sug en is in barensnood tot nou toe. Die diepste en spontaanste van die siel is inderdaad verdriet. Geen ander emosie word so spontaan opgeroep nie. Met die ontwaking van deernis verdwyn die afguns wat so maklik kop uitsteek. Met deernis word die ander in sy ondeurgrondelik eie leed as mede-mens omhels.
Hoe bring mens nou die kloutjie by die oortjie? Dit was my probleem vir veertig jaar. Omdat ek nie hou van herhaling nie, gaan ek die storie nie weer vertel nie. Genoeg om te bevestig dat in my skip nie meer die Heidelbergse Kategismus, die Leerreëls van Dordt, die drie geloofsbelydenisse en die formuliere van die kerk gevind word nie. Maar beteken dit nou dat ek nie meer in God glo nie? Nee, want ek glo nie; soos Jung gesê het, ek weet.
Daar is vir my niks sekerder nie as dat daar hoër en dieper as enige formule ‘n draende en verheffende Grond van die bestaan is. Hy is Meister Eckhart en Paul Tillich se GOD above God, bo die geformuleerde, gedefinieerde God. Ek is onherroeplik in my hele menswees aan Hom verbind. Hy is in elke versugting van blydskap of leed, die krag van my rus en my opstand.”
Johan Steyn
17 April 2008