Uit my (“Boeremag”) – dagboek

February 25, 2009

sommer net

Filed under: 1 — ankoren @ 6:41 nm

druppel-2

February 20, 2009

22 Junie 2008

Filed under: 2008 — ankoren @ 9:12 nm

 

 

Aan my Bosveld-vriendin

 

 kremtart1

 

Ek kan die gedagtes en emosies wat deur my gespoel het op daardie vrou se stoep, herroep, asof dit gister met my gebeur het. Dit was iewers in April 2003 en ons is na haar huis sodat sy vir ons die toekoms kan voorspel.  Ek het met ‘n stukkie papier gesit en alles opgeskrywe waaraan ons kon dink wat ek vir haar moet vra.  Gaan ons mans uit die tronk uitkom? Hoe lank gaan die hofsaak wees? Kan ons, ons Bosveld-vriendin vertrou? Die laaste punt het ek so halfhartig neergeskrywe en gedink, miskien moet ek tog maar vra, die vrou se “ja” sal tog meer gewig dra as myne… maar dit was die minste van my bekommernisse.

 

Binne my was ‘n doodse vrees om by daardie deur in te gaan. Iets binne my het geskree: ek wil nie weet nie. Ek het egter nie geweet hoe om nee te sê nie. Nou was ek vyf tree van die deur af, hoe kan ek nou omdraai, nadat ek meer as honderd kilometer tot hier gery het? Behalwe dit, sal hierdie Boeremag-vriendin van my, wat baie tyd gespandeer het om my te oorreed om saam te kom, baie teleurgesteld en kwaad wees as ek nou omdraai.

 

Omtrent alles wat ek op die lysie neergeskrywe het, was ander graag wou geweet het. Ek het ook gedink dat ek graag wou weet, totdat ek op die stoep moes sit en wag. Dáár het net die vrees vir die onbekende in my oorgebly, geen begeerte na esoteriese kennis van enige aard nie. Ek wou so graag dapper wees en die toekoms tromp op loop, maar op daardie oomblik het die moed om oor daardie drumpel te trap, my totaal ontbreek. Ek het asof versteen op die stoepmuurtjie gesit en myself klip en sement gevoel. Net voordat ek wou versmoor van innerlike angs, het die vrou uitgekom en gesê sy moet dringend gaan en sy kan nie die kaarte vir my lees nie. Ek het gevoel hoe die lewe in my terugkeer en het van pure verligting van die stoepmuurtjie afgespring…

 

Maar die vrae oor my Bosveld-vriendin het aanhou opkom? Waar kry sy die geld vandaan? Sy werk dan nie? Hoe kan sy doen wat sy doen? – Omdat sy alles wat sy doen met haar hart doen, het ek keer op keer geantwoord. Later het ek begin dink dat ek nooit dit wat vir my so logies is, aan ander verduidelik gaan kry nie, en het ek maar laat staan.

 

Eendag egter, ‘n jaar of twee later, het ‘n vriend sy tarotkaarte uitgehaal en ek het gevra oor ‘n persoon wie se vriendskap vir my baie beteken… Die eerste kaart was ‘n vuur wat brand “…’n vurige persoon.”  Van die volgende drie kaarte het nog twee met vuur te doene gehad. “…vuur is nie altyd noodwendig positief in kaarte nie, maar…” begin hy. Ek val hom vinnig in die rede: “Ek weet. Jy hoef nie vir my die verband te verduidelik nie, ek sien dit self – dié vuur is goed vir my. Ek is in ‘n winter in my lewe en ek het die vuur nodiger as enige iets anders. …maar, ek weet ook dat vuur kan brand.” Hy het gehoop dat ek oor hom gevra het en het half melankoliek opgemerk dat hy nie sal omgee as ons twee se vriendskap ook sò in die kaarte van my lewe lê nie. Die beeld in my gedagtes toe ek die vraag gevra het, was egter nie van hom, maar dié van my Bosveld-vriendin…

 

Vuur is vir my sinoniem met kuiers in die Bosveld, kole wat gesellig gloei, sterbelaaide nagte, jakkalse wat skree en die verdwynende silhoeët van die kremetart op die horison. Dit is die afsluit van dae se bosveldpaadjies loop, tree vir tree met my oë op haar vellies gerig, wyl ek sekuur in haar voetspore volg. Sy met ‘n geweer oor die skouer en ‘n veldhoed op die kop. Sy, wat lag oor my helderkleurige laphoed, “al die koedoes hardloop van die plaas af as hulle jou bonte hoed gewaar, wat sal my jagters maak…?” Ek luister aandagtig as sy beduie wat die verskil is tussen van waar die ‘tier’ en die jakkals gesleep het. In doodse stilte en gemoedelike saamwees stap ek saam met haar na die kliprantjies waar die luiperd dalk mag hou, vol vertroue dat sy alles onder beheer het.  Sy maak my lief vir die veld. Ek leer luister na bosveld geluide van vrede en vreugde. Later sien selfs ek die bloedspoor van die gekweste bok raak. Ons doen bundu-bashing en val rond in die Cruiser, terwyl ons uitbundig lag. Ons maak ook altyd tyd vir boeke deurblaai en ou dae se paadjies in herinneringe oorloop. Met haar eindig elke dag in diep stukke gesels tot laat in die na-nag. Ten minste een maal ‘n jaar gaan soek ek haar op om my battery te herlaai…

 

Vandag het ons Sonnewende gevier en na boodskappe en vertellings geluister in Duits, Frans, Noors, Engels en Russies. Geskoei op die oud Ariese gebruike om die draai van die son te vier met vreugde en vuur. Iemand het vertel van wende vure wat hoog in die Alpe aangesteek word en ek het dadelik gedink aan ‘n hardekool vuur in die Bosveld. Tussen die twee vure net so groot verskil soos in sommige aspekte tussen my en my Bosveld-vriendin se denke. Dinge wat ek nou eers besef vir ons elk belangriker is as wat ons eens gedink het. Maar vuur bly vuur. Vuurtonge is vol lewe, warmte, vreugde, dit kan dans en lek. Dit gee lig en kan jou vleisie geurig braai. Gesellig daarlanges kan mens kuier en jou behoefte aan vriendskap vul.

 

In wintertyd is daar niks soos ‘n vuur om jou deur te sien nie…

…in my hart sal altyd ‘n warm gloed soos van ‘n goeie vuur bly oor ‘n Bosveld-vriendin wat net soos die kremetart waar sy woon, uniek en wonderlik om te aanskou op my lewenspad sal bly staan.

February 14, 2009

Paleis jurie.

Filed under: 1, Vir Platkuif van Bosparra — ankoren @ 7:49 nm

http://www.bosparra.com/?p=7290

 

Soos die Gemaskerde Sopbeen te reg opgemerk het, is daar in hof C van die Paleis van Justisie, aan die linkerkant voor ‘n ry banke wat dwars staan. Dit was die jurie se banke in die dae wat Suid-Afrika nog ‘n Unie was. Die dag wat die ‘Boeremag’-saak begin het, was dit egter die ‘persgalery’ en het die joernaliste styf daar ingepak gesit!  In die Rapport van 25 Mei 2003 het ‘n spotprent van dr. Lets Pretorius verskyn wat ‘n goeie weergawe van die gesigte daardie dag was.

En die koerante was vol! In Mandela’s dock. Groot skare wil vermeende Boeremaglede by hof sien. Regshulp rem verraadsaak. Who’s who in the right-wing Boeremag. ‘n Onderskrif onder ‘n foto van die Paleis van Justisie wat in die lug op geneem is, in die Beeld van 20 Mei 2003 lees: “So vry soos ‘n voël – ‘n swerm duiwe vlieg oor Kerkplein in Pretoria. Diè plein is gister oorgeneem deur polisielede en ‘n skare wat wou sien hoe die 22 vermeende Boeremaglede lyk. Die hoogverraadverhoor is in die geskiedkundige Paleis van Justisie aan Kerkplein tot Maandag uitgestel.”

Motley crew squeeze into dock on treason rap:  Jare later, het ons ook dit reggekry om oor diè berig te lag, al was dit daardie tyd nie snaaks nie: “So these are revolutionaries,” begin die berig en na jare, klink dit vir my nog steeds ietwat sarkasties.  Die mees gevaarlikste kriminele in die land? vra die joernalis haarself vêrder af. Twee, beskrywe sy – met hulle ronde gesigte, kleinerige neuse en vierkantige brilglase – as sou hulle lyk “as innocuous as a pair of chipmunks.” Vir oorlede Herman Scheepers het sy met sy swart hare en netjiese snor as Saddam Hussein beskrywe – hy het nogal so gelyk. Iemand wat sy beskrywe het as sou hy soos ‘n polisie-speurder lyk en natuurlik oom Vis met sy grys baard wat soos ‘n “closet Santa Claus” lyk.

‘n Dag of wat later was dit ons vrouens se beurt – ek het dadelik vererg my Boeremag-vriendinne geskakel en gevra of gaan ons nie daarop gaan reageer nie.  Die opskrif van die berig: “Khaki fashion parade attracts camp followers”They are like schoolgirls tying to attract their boyfriends attention…They laugh and they giggle, coyly waving and some even blow kisses as the make eye contact with their husbands or boyfriends. They are the wives and girlfriends of the 22 Boeremag members charged with high treason, sabotage and terrorism for allegedly plotting to overthrow the government with the aim of proclaiming a Boer republic…. they are immaculately dressed in their Sunday best, wearing layers of make-up, accessorised with perfectly styled hair. The mood was almost jovial as the groups joked and laughed. It was as if the severity of the life sentence their loved ones potentially face if found guilty of treason wasn’t uppermost in their minds.”

Die volgende dag het ons briewe na die koerant gefaks. Een Boeremag-vriendin het gesê dat ons trots is op ons mans en vir dit waar hulle voor staan. Sy het die koerant ook gevra om nie nou al te oordeel, maar te wag en kyk wat die hof besluit. Een, wat haarself Meisiekind genoem het, het gesê dat die arrogansie in die artikel juis die sterk bande tussen familie, vriende, vrouens en meisies so beklemtoon dat dit duidelik raakgesien kan word. Ek het vir die joernalis, ‘n briefie geskrywe en haar gevra of is sy jaloers omdat daar nog steeds na van 2 tot 30 jaar van getroude lewe nog steeds ‘n vonk tussen ons en ons geliefdes te bespeur is? Haat sy ons so omdat ons onder sulke omstandighede kan lag, is sy nie dalk bang dat ons dalk op die ou einde die laaste ook sal lag? Verag sy die manne in die bank net omdat hulle nie lyk soos terroriste, waarvoor hulle uitgemaak word nie, maar eerder soos die gewone, welopgevoede manne wat hulle wel is. – Dis tog duidelik dat sy die vorige groep wat daar gestaan, as helde ag vandag.

Daardie tyd voel egter nou vir my soos ‘n ewigheid terug. Maar as ek my oë toemaak, sien ek weer hoe een van die vroue op aandag opspring, daardie eerste oomblik wat die begin van die saak was. Voor my geestesoog sien ek ook hoe al ons ander ook opstaan toe die mans van die selle onder af ingekom het, en my hele lyf slaan hoendervleis uit. Daar was ‘n gewyde stilte, soos ‘n heilige oomblik. Ek was op daardie oomblik net intens bewus van die lig wat deur die gekleurde venster bo ons geval het. Ek het geweet dat niks vir my weer dieselfde gaan wees nie… My man was omtrent ‘n maand lank in arres, op daardie tydstip ‘n jaar van te vore, toe ek een aand “wakker” geword het en opgekyk het in ‘n loodglasvenster hoog bo in die lug. Later het my man vir my vertel dat die venster in die dak vir hom ook ‘n dèavu was, aangesien hy terselfdertyd, gedurende die vorige jaar, in die Moot se polisieselle ook vir ‘n oomblik onder so ‘n venster gestaan het!

Daar was nog sulke oomblikke in daardie hof, wat my vir altyd by sal bly. ‘n Benoude oomblik soos die dag wat my naam beskuldigend deur die staat daar genoem is. Die rede was dat een van my briewe aan my man, wat by hom gekonfiskeer is, nie die tronk se stempel opgehad het nie… (Dit was in een van die vooraansoeke nog voor die saak regtig begin het). Daar was ook die dag toe Johan, of te wel JC, Smith die polisie-informant en die staat se eerste getuie deur die deur ingestap gekom het om sy getuienis te begin. Dit is ‘n oomblik wat ek agterna dikwels gewonder het, hoe het ek regtig gevoel op daardie presiese moment. Ek kan nie mooi onthou nie. Ook die dag toe Herman en Nelmarie getroud is, en ek en Esther op die trappe vir hulle gewag het. Ons het ‘n tronkkosblik vol konfetti geoes in die straat af – elke Jakarandabloeisel wat ons afgepluk kon kry!  Ons het bo gestaan en geluister hoe die ander manne uit die selle onder hulle toesing en toe Nelmarie uitkom het ons die konfetti in pers op haar laat reën. Dit was ‘n hartseer gelukkige oomblik! Ons het ons gou na die agterkant van die gebou gehaas waar Herman in die Njala sou uitkom. Ons het nog nooit so vinnig en hard gegooi, soos wat ons probeer het om ook van ons konfetti op die bruidegom te kry nie. Die Njalas het net sulke loergaatjies vir vensters. Agterna het my man my vertel dat Herman darem een blommetjie gekry het. Daardie dag het die geluid wat die Njala, met die wegtrekslag maak, my meer as ooit gepla: daardie wegtrek is ‘n geluid wat, al word ek honderd jaar, ek nooit sal vergeet nie!

Daardie joernalis het dalk meer beet gehad as wat ek op daardie stadium wou erken, en tog het ek van dag een af geweet dat hierdie nie ‘n maklike storie sou wees nie en ook nie gou sou verby gaan nie. Ek het nogal gereeld vir my een Boeremagvriendin vertel dat sy haar vir nege jaar moet gereed maak. Hoekom ek gedink het juis nege jaar? Ek weet nie, dit is maar wat by my op gekom het. Nege jaar is vir my net ‘n vreeslike lang tyd, dit is amper so lank soos tien jaar, met die verskil dat tien jaar afgebaken is in ‘n dekade. ‘n Dekade is iets: dis ‘n definitiewe tyd  – maar nege jaar wat amper net so lank is, is nie afgebaken nie. Dit is niks anders as ‘n verskriklike lang tyd nie. Ongedefinieerd soos die ses en ‘n halfjaar wat ons reeds met die saak besig is.

Net soos die Paleis ‘n plek is wat ‘n onuitwisbare indruk op my gemaak het, is die herinneringe aan die tyd wat ons dikwels daar gekom het, deel van die prentjies wat geskilder in verskillende nuanses, aan my lewensmuur sal bly hang!

February 10, 2009

Paleis van Hoogverraad

Filed under: Vir Platkuif van Bosparra — ankoren @ 12:27 nm

Dagsê Platkuif

In die begin was die “Boeremag” so baie in die nuus, dat ek myself byna bankrot aan koerante gekoop het. Na ‘n tyd het mense my dikwels gevra of gaan daar dan niks aan met die saak nie, want hulle lees niks daarvan in die koerante nie. Onlangs was die saak egter weer in die nuus, met Barend Strydom wat vir Adriaan van Wyk die vierde beskuldigde in die saak kom getuig het. In werklikheid gaan die saak nog dag vir dag aan, behalwe in resestye en wanneer daar om ‘n rede deur iemand gevra word dat dit moet afstaan. Dit kos die Staat reeds al miljoene en die oorkonde(elke dag se getikte rekord van alles wat gesê is) alleen is al meer as 32 500 bladsye.

Vyf jaar gelede, op 19 Mei 2003, het ons vroegoggend al bibberkoud gestaan op die trappe van die Paleis van Justisie, om verseker te wees van ‘n plek in die kleine hof C. Dit was ‘n dag vol vertoon - hierdie jaar was dit net ‘n doodgewone dag wat verby gegaan het. Daar was ‘n berig oor TV2 se nuus ‘n paar dae vantevore en ‘n radio onderhoud, ‘n dag na die tyd, met een van die regsverteenwoordigers, Paul Kruger oor Radio Pretoria. ‘n Opmerking van die advokaat wat besig was met kruisondervraging in die hof, dat dit die vyfde verjaarsdag van die saak is, is deur Regter Eben Jordaan met sy kenmerkende “O…” beantwoord.

 

Die naweek voor die 19de Mei deser het ek saam met ‘n vriendin by haar Pa in die Bosveld gekuier. Op sy koffietafel het daar ‘n boek gelê wat dadelik my aandag trek het: Die hof verdaag -  deur Kees van Dijkhorst.(‘n Afgetrede advokaat, regsdosent en senior regter van die Transvaalse Hooggeregshof). Daarin is ‘n interessante stukkie geskiedenis oor die Paleis van Justisie. Vanaf die eerste dag fassineer die plek my: Ek sal die gevoel van die gebou toe ek die eerste keer daar in gestap het, nooit vergeet nie. Dit is ‘n uitsonderlike plek. Omdat ek in myself begin twyfel het of ek reg onthou hoe die plek lyk, het ek laasweek weer terug gegaan, en vir ‘n wyle in die portaal gaan sit. Daar is iets oorweldigends aan die atmosfeer daar binne. Waar ek muisstil op een van die banke gesit het, met my oë beurtelings op die loodglasvensters en die figuurbelaaide koepel in die dak, het die trane vanself oor my wange begin loop. Miskien voel ek so omdat elke herinnering daar binne vir my emosie belaai is, het ek gedink. Maar, dalk lê daar op ‘n metafisiese vlak baie ander mense se emosies ook vasgevang tussen hierdie dakvensters, die patroontjie-vloere en glimmende houtwerk. Enige iemand anders, met ‘n fyn aanvoeling, behoort dit ook met die intrapslag aan te voel.

Ek het altyd gedink dat daar besluit was om die “Boeremag”-saak in die Paleis van Justisie te hou, omdat die Rivonia-saak daar was. Nadat ek die vertelling van Dijkhorst gelees het, is dit vir my duidelik dat die saak net nie op enige ander plek in die land kon begin het nie, as juis in die Paleis nie. Die plek se hele geskiedenis draai rondom hoogverraad, of beweerde hoogverraad en geskiedenis het mos ‘n manier om homself te herhaal!

In kort is van Dijkhorst se stukkie geskiedenis as volg, (meeste is woordeliks aangehaal):
“Gedurende 1882 het die Volksraad besluit om nie meer ander geboue te huur nie, en het die Hof weer sitting gehou in een of meer van die vertrekke van die Goewermentsgebou waarin die Volksraad ook gesit het. Die gebou was te klein om groot sake te akkommodeer en die 64 lede van die Reform Committee, die room van Johannesburg se society, het op aanklag van hoogverraad tereg gestaan in die Marksaal, waar die huidige Strjidomplein geleë is. Die beskuldigdes het saamgesweer ter ondersteuning van die Jameson inval. Die verhoor is gehou in April 1896 en die vier leiers is skuldig bevind aan crimen laesae maiestatis en benewens gevangenisstraf van twee jaar en verbanning van drie jaar met £ 2 000 elk beboet. Wat veral opspraak verwek het was die gerug dat die balk wat Kommandant Henning Pretorius saamgebring het na ‘n besoek aan Bedford in die Kaapkolonie en wat vroeër deel was van die galg wat te Slagtersnek gebruik is, aangewend sou word om die rebelle aan op te hang, as daad van geskiedkundige geregtigheid. Die vier is later begenadig en elk met £ 25 000 beboet en die res se gevangenisstraf en verbanning is opgehef. Die totale boetes was die dubbeld die boukoste van die Paleis van Justisie en dit is seker nie vêrgesog nie om te vermoed dat die Agbare President laasgenoemde in gedagte gehad het toe hy sy voorwaardes vir begenadiging vasgestel het.

Die terrein waarop die Paleis van Justisie gebou is, was vroeër die eerste woonplek van Kommandant-Generaal Marthinus Wessel Pretorius en het later ‘n staatskool, kantoortjie van die mynkommissaris en pastorie van Ds AJ Begeman bevat. Die geboue is gesloop ten einde met die bouwerk te kan begin. Soos alle boubedrywighede was daar probleme. Die sandsteen se kwaliteit was swak en dit is verwerp. Sandsteen moes vanaf Vereeniging aangery word. Daar was ‘n tekort aan bakstene. Twee keer het die klipmesselaars werk gestaak en die terrein verlaat.

Die Kommandant-Generaal sou die hoeksteen lê maar die regters het beswaar gehad daarteen en President Kruger het dit toe gedoen op 8 Julie 1897. Die werk is vertraag deurdat die regering in 1898, terwyl die werk reeds meer as twee jaar aan die gang was, ter elfder ure besluit het om nog ‘n vêrdere verdieping by te voeg. Toe die Tweede Vryheidsoorlog uitbreek was die gebou nog nie voltooi nie. Na die Britse besetting op 5 Junie 1900 is die Paleis van Justisie gebruik as die “Irish Hospital” Met Lord Roberts se vertrek uit Pretoria is daar ‘n konsert gehou met twee dokters as soliste. Eers in 1902 het die gebou sy funksie as geregshof begin vervul.

Die Paleis het algaande te klein geword al is in 1965 kantoorvertekke op verskillende vloere verander en verbreek om plek te maak vir klein hofsale. Die Sinagoge is van tyd tot tyd ingespan wanneer ‘n marathon-saak gedreig het om die verloop van sake by die Paleis te ontwrig. Die bekendste strafsaak wat daar verhoor is, is die hoogverraadsaak teen 91 leiers van die Congress Alliance wat in 1956 begin het en jare geduur het. Uiteindelik is almal, waaronder Nelson Mandela, vrygespreek.

Die paleis van Justisie het ‘n sentrale rol gespeel by Republieke wording. Op 31 Mei 1961 het die eerste staatspresident CR Swart sy rede vanaf die balkon gelewer, terwyl trietsige reën probeer het om die entoesiasme te demp.

In 1975 het die Minister van Justisie beslis dat die Paleis van Justisie vir die Hooggeregshof behou moet word en dat ondersoek ingestel moet word na die moontlikheid om ‘n terrein op die hoek van Paul Kruger- en Vermeulenstrate aan te wend vir ‘n gebou wat dan oorhoofs met ‘n brug of deur middel van ‘n tonnel met die Paleis verbind is.”

Volgens Dijkhorst het “interessante graffiti verlore geraak deur dat die selle onder die gebou van tyd tot tyd uitgeverf is. In 1989 was daar nog Umkhonto We Sizwe slagspreuke en die name van bekendes op die mure uitgekrap, onder andere die Delmas Treason Trialists. Andere het agter hul name hul vonnisse aangeteken. In 1989 is begin met die bouwerk aan die Nuwe Hooggeregshof op die noordwestelike hoek van Paul Kruger- en Vermeulenstrate, Pretoria.”

Die ‘Boeremag’-saak was egter net vir ‘n paar maande in die Paleis van Justisie, want die hof daar is baie ongerieflik. Klein, swak verlig en met die swakste akoestiek! Ek wonder hoe het hulle in die ou dae hofsake daar aangehoor, of het ons gehoor verswak oor die gedurige lawaai waarin ons lewe? Dr Lets Pretorius het in sy boek van die Boeremag-sage ‘n paar spotprente daaroor geteken. Een nadat die regter spottenderwys gesê hulle moet ’saamsweer’ om die saak na die Hooggeregshof aan die anderkant van die straat verskuif te kry. ‘n Ander een waar die assessore vir die regter lanterns vashou sodat hy “lig op die onderwerp” kan hê.

Die nuwe Hooggeregshof in Vermeulenstraat is nou die gebou wat gereeld op die TV-nuus gewys word. Daar worstel ons manne nog steeds voort dag vir dag. Dit sal seker so bly(soos dit vir my lyk) ten minste tot die einde van volgende jaar!

… intussen kan ek darem nie kla oor ‘n vervelige lewe nie en droom ek elke dag van die dag wat my man by daardie deur uit sal stap…

Groetnis
Ankoren

Ns. Ek merk interessantheidshalwe op dat die beskrywing onder regter Ngoepe(1998- ) se borsbeeld wat daar staan saam met die van oud-regter CF Eloff(1991-1998) en hoogedele agbare Jacob de Villiers(Unie van SA) nog steeds die Hooggeregshof van TRANSVAAL is!
Uit ‘n Pretoria News van 2003 het ek hierdie pragfoto van die Paleis van Justisie gebêre.

 

paleis-van-jusitsie

 

 

 

  

 


February 8, 2009

11 Augustus 2008

Filed under: Vir Platkuif van Bosparra — ankoren @ 7:13 nm

Nadat Platkuif weereens gevra het skrywe ek oor ‘n melodie van ‘n tronkdeur

11 Augustus 2008

Platkuif

Ek is jammer dat ek so lanklaas van my laat hoor het, maar ek het so bietjie in die laaste tyd my wysie verloor!

‘n Tyd gelede, terwyl ek vir ‘n voorskrif wag, kyk ek na die afgemerkte parfuum in die apteek, en toetsspuit die een aan. “Het jy die fliek gesien?” vra ek vir Lucy. “Seren-in-dipitp-e-ty, soos altyd knoop my tong oor die woord, “ek meen Serendipity. Die storie gaan daaroor om toevallig iemand raak te loop en iets so waardevols soos liefde te ontdek” “Nee, ek kyk nie na flieks nie,” antwoord sy. “Hoekom nie, ek is mal oor ‘love stories’ soos diè een.” “Hoekom martel jy jouself so?” wil sy weet (- sy weet, sy het ook die pad gestap). “Nee wat, dis nie altyd ‘n marteling nie, ek kyk dat ek kan weet hoe – ek is mos besig om my eie ‘love story’ te skrywe,” lag ek.

Later is die TV-reeks  “Song vir Katryn ‘ op die kassie. Die eerste keer wat Katryn vir haar Ma in die tronk gaan kuier het, het ek eintlik besluit ek gaan nie weer na die storie kyk nie. Want sommige dinge pla mens meer as wat jy wil erken. Een daarvan is die klap van ‘n tronkdeur en dit is iets waarna ek nie in my eie sitkamer kan luister nie. Maar, later sing Jinx: die melodie van jou lewe, is op ‘n vals snaar geskrewe… Ek kyk toe wel na elke episode -  meer oor die song as die storie en elke keer op die kassie en in C-maks klap die tronkdeur my onderstebo. Wyl Jinx sing: jou oë die weerkaatsing teen ‘n muur van klip, van yster en pyn -  die deure van ‘n sel en gebarste gebede begin ek soos Katryn woon in die kamers van ‘n donker verlede( hede, in my geval) sonder deure, sonder vensters wat na buite kan sien en drome en wense en wonde en woorde - maar, Katryn het ‘n song – ek sukkel met ‘n kakofonie.

 

Tog begin ek so langsamerhand met ander oë na die melodie van ‘n tronkdeur luister - tot ek dit amper vir jou op die notebalk kan neerpen. Dit begin met ‘n stadige tempo terwyl jy staan en wag vir die bewaarder met die sleutel. Die sleutels rinkel sag teen mekaar, maar as dit in die slot kras is dit onmiddellik hard – fortissimo. ‘n Noot of twee vêrder kom dit teen jou aangeslaan as daardie slot oop of toe ruk. Dis ‘n ‘klak’ wat in ‘n enkel noot in jou murg kom sit. Dis die klank van verloor, wat ‘n letsel op jou siel laat. Ek sien ook hoe almal wat saam met my voor die deur staan, na die melodie luister. Is dit ‘n kind van jou agter daardie slot; (kan jy saam met my in die Ma en Pa se oë kom kyk) is dit ‘n liedjie sonder ‘n wysie. Is dit jou Pa of Ma; loop jy net soos Katryn met die eensaamheid van ‘n hawelose lewe. As dit jou lewensmaat agter daardie deur is, kom die vraag al met die heel eerste klap by jou op: did we dance till the end of love of is ons liefde ‘n stille rivierstroom wat vir ‘n onbepaalde tyd kan vloei om beton en deur tralies heen? Jy loop die paadjie alleen-leen-leen – want diep in jou wese die eensaamheid, die eensaamheid

Die melodie van ‘n tronkdeur is nie noodwendig vreemd aan ander nie. Al het ek op ‘n tyd gedink dit is net aan my en Katryn, en die mense wie ek weekliks in Potgieterstraat raakloop, bekend. Later het ek agter gekom dat ‘n tronkdeur se klap nie eintlik ‘n melodie is nie, maar ‘n rusteken in mens se lewe. Dit ruk alles tot stilstand. Dit dwing jou om na jou melodie tot dusvêr te luister, die potlood op te neem en die toon te verander. Elke mens loop daardie rusteken een of ander tyd raak. Daar, waar jy die note verloor. Dit hoef nie noodwendig ‘n tronkdeur te wees nie. Soms is dit die sagte sjhhoes van die hospitaaldeur, die skel breek van ‘n glasdeur, die pneumatiese toemaak van ‘n vliegtuigdeur, selfs net die toeklap van ‘n doodgewone deur of soms net ‘n woord of twee. Dit is daar waar jy besef Sir John Barbarolli was reg: Die lewe gee ons ‘n skoon blad met musiekbalke en ‘n hele toonleer note, wat jy speel en hoe jy sing is elkeen se eie keuse en uitdaging.

My man vertel vir my dat musiek uit diep, diep emosie gebore word. Ek nooi jou kom luister saam met my na die melodieë, wat oral om my eggo, wyl ek vir jou gunstelinge uit my musiekrak speel:

- laatnag deur my elektroniese posbus: ” is dit wat werklik saak maak jou gesin en baie van ons dom mense vind dit eers uit as ons dit verloor..” Onder die Jakaranda boom langs die hof die volgende dag het ek weer aan die woorde gedink en aan Jinx wat sing in Jakaranda strate: die spore na geluk loop in sirkels en draaie en lei my weer terug na die huis. Maar uit my CD-rak haal ek die Second Waltz…

- “Moeder Natuur het my in die katabasis afgesleep” “ek worstel, dit gaan nie goed met my nie” Luister na die Stradivarius as die Wolga lied speel. Dit is die lied van ‘n eensame soldaat, ‘n song vir alle eeue. As mens lief is vir klassieke musiek is daar niks op aarde wat tegelyker tyd vreugde en seer kan spel soos ‘n viool nie. Tog interessant, dat die weëklank van grootse treurigheid sielsmusiek altyd soet maak. Soos ‘n tronkdeur se klap kan dit jou bring by die besef van wat werklik saak maak. Van Marcus Aurelius se Meditasies lees die een: “Jou sielesfeer bly getrou aan sy vorm as dit nie uitgerek word of ineenkrimp of verstrooi word of ineenstort nie.” En ‘n ander: ”Wat ook al met jou gebeur, dit is van ewigheidsher vir jou berei; die ingevlegtheid van oorsake het jou hele bestaan, en wat daar tydens gebeur, van ewigheid af in een kleed saamgeweef.” Net soos note en rustekens op ‘n notebalk.

- Op my selfoon ‘n Boeremag-vriendin se SMS: “ek is vis nog vlees, ek is nie ‘n weduwee nie, ek is nie geskei nie, ek voel of ek in ‘n vakuum lewe, (getroud, maar manloos) Ek weet nie hoe om aan te gaan met my lewe nie!” Hoor jy die melodie van ‘n amper gebreekte snaar? Verpletter teen die wêreld se harde wand, versplinter in die niet van die hemel se some? Sal ek Annie’s song vir haar speel? You fill up my senses, come fill me again… Of miskien liewer: I have a dream. Eendag sal die tronkdeur vir oulaas klap, dan kan ons die dubbel strepies trek op die notebalk van hierdie blad. Daardie dag kan sy en haar man weer voor begin, met ‘n lewe vol drome en op ‘n nuwe notebalk hul eie gesamentlike melodie.

- In die siekekamer van ‘n jong moeder waar ek weerloos en stom saam met haar gesin staan: “…my onkoloog is baie positief, ek gaan baie lank chemo kry, maar ek sien kans daarvoor, ek wil net graag by my man en kinders wees…” Haar ingesonke oë laat skielik haar man se woorde, twee weke gelede by my opkom: “Ek sê vir jou, ek het ge’crack’ toe hulle haar uit die operasiesaal gestoot het.” Ek wil graag Greig se Oggendstemming uit die Peer Gynt Suite vir hulle opsit, want in daardie rustige herhalende melodie lê daar vir my die belofte dat elke dag, wat hoe donker ook al kan raak, more weer met ‘n oggend breek.

- “Nadat ek na middernag met die inbrekers in my huis slaags geraak het, slaap ek nie meer snags nie. My vrou en kinders is my alles, ek moet hulle beskerm!” Die man het moeg met sy wilde oë weggekyk. En ek het dadelik gedink aan ‘n ander man wat op die radio vertel het, hoe hy sy oorlede broer se bloed van die mure af moes skrop, na ‘n soortgelyke voorval. Voor my musiek-rak het ek lank gestaan, vir hierdie man kon ek niks vind. Nie ‘n song van enige aard nie. Nie ‘n enkele melodie. Hy het my laat wonder hoe klink die melodie van ons volk? Het ons dit iewers op ‘n berg in die nag tussen De La Rey en de Klerk verloor? Kan ons probeer om ‘n nuwe melodie te skrywe? Een van hoop? Of gaan ons die wysie laat vervaag?

Jan Scholtz se woorde en Valiant Swart se melodie sit aan my, dit draai heeldag en aldag in my kop. Dis ‘n weerklank wat sê, daar’s liefde en vrede, miskien. Nie miskien nie, beslis. Met ‘n strooi-storie soos diè in my gemoed, kan ek die tronk se deure trotseer. Ek weet as ek sterk genoeg kan word, ek op my eie wysie vir einste daardie tronkdeur sal kan sing: you rise me up, so I can stand on mountains!

Ek skrywe vir jou, in my sit-/studeerkamer vol van die Strauss walse soos net Andrè Rieu dit kan laat klink. My vingers wals saam oor die toetsbord se klawers, daar is vir die eerste keer in maande vrede in my gemoed. Ek dink in die besonder aan briefies in my e-pos wat ek, in die laaste tyd onbeantwoord gelaat het. Half-bekende gesiglose vriende, wie se woorde my soos melodieë van hul eie omvou. Wat soos jy, my so mooi gevra het om te skrywe en ek oorweeg het om jou in die steek te laat, omrede die wysie vir my te erg geraak het. ‘n Ander een, wat gereeld vir my vertel dat ek moet moedhou en aanhou, die eerste keer nog voordat ek (of hy) geweet het hoe nodig ek sy woorde nog gaan kry! Ook ‘n gewaardeerde vriend wat my by uitstek geleer het hoe nodig dit is om met jou oë te luister en jou ore te sien.

En dis my liedjie vir vanaand. Ek hoop jy en al die ander parras het songs wat rock!
Groetnis


  • ns. Ek kan die Afrikaanse vertaling Marcus Aurelius se Meditasies van Francois Bredenkamp by enige iemand wat in sielekos belangstel, aanbeveel. (Dit is by Protea Boekhuis beskikbaar).
  • Die kursief is aangehaal uit liedjies se woorde, meeste daarvan uit Hawelose lewe, van Valiant Swart.

13 Augustus 2008

Filed under: 1 — ankoren @ 7:09 nm

Ek sou egter eers na maande myself bymekaar kry om te antwoord, en dan as volg

Scheepers

Ek het op alles, op die draad waarna jy verwys gereageer, op daardie tydstip, maar het dit vir eers toegemaak op my rekenaar gelaat en later sommige dinge heeltemal uitgevee. Edwin behoort jou te kan vertel dat die eerste meningsverskil wat ek en hy gehad het juis was omdat ek sterk in die inverse werking van aksies, veral in politiek, glo. Toe Koos my ‘n dag of wat later vertel dat die ondersoekbeampte die skindernuus van hierdie draad baie vinnig by hom kom aandra het, het die gedagte by my opgekom dat in my geval daardie rympie van “alles wat jy sê kan teen jou gebruik word”, dalk in dié geval ook kan beteken dat alles wat ek sê kan/sal teen my man en moontlik dalk ook ander gebruik kan word. My gedagte was dalk nie so vêrgesog nie, tydens Koos se kruisondervraging deur die staat, het hulle tot dinge wat hy tien, vyftien jaar gelede geskrywe het, as bewyse teen hom probeer inbring.

Na ons huise deursoek is in Oktober 2001, het Koos alle bande met Mike en die ander ouens gebreek, net om hom in April 2002 weer in die hof te ontmoet, as mede-beskuldigde in die saak wat later as die Boeremag bekend sou raak. Ek weet nie of ek dit kan verduidelik nie, hoe Koos die Boeremag ‘verraai’ het, behalwe deur te raai hoekom die wat die beweringe maak so sê of om seker aannames te maak nie. In kort om jou vraag te antwoord het Koos gekies om homself te verweer teen die klagtes wat Staat teen hom ingebring het en sy verweer het verskil van Mike s’n. Alles behoort selfverduidelikend te wees, (tot selfs die ongelukkigheid wat daar net na Mike se getuienis onder almal geheers het), ten tye van die advokate se betoog op die einde en ek dink dit sal wys wees om maar geduldig vir daardie dag te wag.

Intussen wil ek graag op my dagboek vertel van ‘n paar interessante dinge vertel wat gebeur het in die hof die laaste tyd. Die beriggewer-lêer speel ‘n baie sentrale rol in die hele saak, soos nou al bekend is. Dit is nou die lêer waaruit JC Smith se verklaring opgestel is, soos wat sy hanteerder in die hof getuig het – Dis nou die Staatsgetuie, sup. Louis Pretorius, wie getuig het die dag wat BV se mense saam gegaan het hof toe met die vierde verjaarsdag van die saak. (Jy was nie daardie dag daar nie, of was jy?) Hy het verduidelik dat ‘n beriggewer-lêer dit is waar ‘n hanteerder alles opskrywe wat sy beriggewers aan hom rapporteer, synde persoonlik, per telefoon, of op skrif. Op grond van dié verklaring van JC is die lasbrief vir die eerste arrestasies uitgereik. Eers hoofsaaklik op ‘n klag van terrorisme, maar dit is later na die ernstige klag van hoogverraad verander. Die staatsaanklaer, mnr. Luyt, moes die hof omverskoning vra tydens Koos se kruisondervraging omdat hulle die hof so mislei het deur almal te laat verstaan dat dit alleen JC se beriggewing is wat in die lêer opgeteken is, terwyl daar meer as een beriggewer se berigte in is. Ook o.a. dat twee vergaderings wat as twee aangeteken is, as een vergadering in die hof voorgehou is, nadat ‘n staatsgetuie sy verklaring verander het. Terloops, tydens Andre se getuienis het hy ook aangetoon dat daar met die rekenaar se ondersoek, waar dokument 12(die kern van die saak) volgens die staat op gevind was, net soveel dinge is wat nie lekker klop nie. Adriaan van Wyk, (beskuldigde 4) het tydens sy getuienis ook aan die hof uitgewys dat van die handgeskrewe notas verskil van die getikte verklaring wat dan nou uit die beriggewer-lêer opgestel is, terwyl dit deur die staat as presies dieselfde voorgehou is. Adriaan(van wie daar terloops ook vertel was dat hy vir die polisie werk) het laasweek sy getuienis afgesluit, hy het volgehou dat hy in die saak ge-’frame’ is nadat ‘n aanslag op sy lewe misluk het. (Lees gerus ook Stoffel se pos #44) Vandag was Chris Streicher in die bank, net om die regter te vertel dat hy nie kans sien om te getuig nie, omdat dit net vir hom probleme sal inhou en wat hy te sê het net met sy eie saak te doen het en nie te veel in diè een sal help nie…

Ek wil jou ook graag vertel van die dag wat die Regter uitspraak gegee het op die staat se aansoek dat mevrou van der Walt, Koos se vorige advokaat moet onttrek: Ek het Mnr. Luyt, die staatsaanklaer se kop sien ruk tydens die uitspraak – Hy het met die grootste bravade gevra dat sy moet onttrek. Ek is oortuig daarvan dat hy in sy wildste drome nie gedink het dat Koos en Regter Eben Jordaan die voorstel sal aanvaar dat ‘n ander advokaat namens mev. Van der Walt die kruisondervraging mag waarneem nie. Die hele bizzare situasie het egter gelei tot een van dié beste dinge(na my mening) wat in ‘n lang tyd in die hof gebeur het. Kolonel Giel Burger, beskuldigde nr 7 het gevra om die hof toe te spreek(terloops, ek onthou dat daar in die begin jare ook ‘n storie was dat hy ook die ander ouens verraai het). Sy advokaat het dadelik beswaar aangeteken, maar Giel was onstuitbaar! Hy het vir die Regter vertel van hoe sy lewe ontwrig is deur hierdie saak, dat die Weermag hom reeds verhoor het en skuldig bevind het, en van dieselfde spelfoute in sy naam op daardie saak se papiere as in hierdie saak, dat hy binnekort sy soldy en pensioen gaan verloor, dat hy na aftree se kant toe staan en die saak hom ongelooflik frustreer. Hy het gewys op die rooi ligte wat hy sien deurdat hierdie scenario homself gaan herhaal, aangesien hy ook deur ‘n advokaat verteenwoordig word wat ander kliënte ook het, en dat daar nog ‘n advokaat en kliënte is met dieselfde opset. Hy het ook sy ernstige kommer uitgespreek oor die na bewering drie beskuldigdes wat volledig met die Staat gekonsulteer het vir 204-getuienis, maar dat dit nie deur die Staat aanvaar is nie. Hy was veral bekommerd oor die etiese aspekte verbonde daaraan. Hy het sy kommer oor die regsverteenwoordigers wat eintlik in diens van die Staat is uitgespreek en gevra dat die advokate asseblief moet saamwerk. “Al hierdie dinge tas my reg op ‘n spoedige verhoor ernstig aan”, het hy afgesluit. Later die dag het ek eenkant gesit en myself verkneukel in die situasie: As jy nou al ooit ‘n spul pikkewyne op ‘n warm plaat gesien het – advokate wat heen en weer loop en ernstig dinge bespreek – sommiges, van dieselfde advokate wat meeste van die tyd in hof sit en òf kaart speel op hul skootrekenaars òf slaap òf gesels – was so ernstig besig om te beredder dat hulle togas sulke punte in die wind agter hulle aan gestaan het…

Scheepers, ek het al baie gewonder deur die jare oor verraad – een so dag onthou ek besonder goed: Na ‘n einde-van-die-jaar-partytjie in die hof, het Koos voorgestel dat ek ‘n bakkie eetgoed na Dirk(Gerhard Smith se vriend) toe neem, wat op daardie stadium vir depressie behandeling in Weskoppies was. Ek het gedink dat Weskoppies een gebou is, maar toe ek daar kom kon niemand my vertel in watter een van die geboue, wyd verspreid van mekaar met bloekombosse tussen-in, ek Dirk se bakkie eetgoed moet afgee nie. Uit radeloosheid,(ek was toe reeds laat vir ‘n ander afspraak by my werk) skakel ek toe maar die ondersoekbeampte en vra waar moet ek soek. “Soek die plek met die hoogste, dikste muur en meeste beveiliging, jy sal hom daar kry,” was sy antwoord. Woordeliks herhaal ek toe die antwoord aan die eerste skepsel wat ek teëkom en die pad word toe noukeurig vir my beduie. Besoekers mag egter nie deur die sekuriteitshek ry nie en alles moet vooraf gereël wees voordat jy mag ingaan, daarom moes ek ‘n entjie voor die hek stop. Ek het uit die bakkie geklim en hek toe gestap. Toe ek opkyk teen die hoë muur vas, het die kleur daarvan tot in my siel geslaan. Dit was somber – grouer as grys. Tragies, het ek by myself gedink, dat Dirk agter hierdie muur moes wees. Hy kon net sowel Denmar toe gegaan het, met sy kalm kleure en vensters vol sonlig. Die gedagte het onwillekeurig by my op gekom dat een van die eerste dinge wat ek van Dirk gehoor het, was dat hy vir dr. Lets verraai het. Miskien, het ek gedink, as verraad ‘n kleur het, is dit seer en grys en grou en koud soos die muur… en miskien lyk verraad dalk anders as wat ek gedink het…

In my hoekomhok het Koos vir my verduidelik dat die regterkant van die politieke spektrum gekenmerk word deur haat en wreedheid en die linkerkant deur ‘n misplaaste altruïsme en korrupsie. Wat ook aan die regterkant lê, het ek nou al oor en oor gesien, is ‘n gewoonte om iemand wat van jou verskil as ‘n verraaier uit te kryt.

Ek wonder tog, of daar nie juis uit hierdie volslae gemors nuwe benaderings te voorskyn sal kom nie, ten opsigte waarvan ons “praktiese politiek”(met apologie aan Beert) sal kan begin pleeg nie? Ek hoop regtig so. Ek wil graag so glo. Al is dit ook hoe pynlik…. Koos het ook getuig in die hof dat ‘n bewaarder vir hulle gesnou het: al word daar nou(mei), in die xenofobiese geweld, eers swart op swart geweld gepleeg – “you whites are next!”

Groetnis
Anita.

Ns. Ek sien Cicero het meer dinge te sê gehad – o.a. “summum ius summa iniuria
Die hoogste reg is die grootste onreg.

19 Mei 2008

Filed under: 2008 — ankoren @ 7:06 nm

Op Boerevryheid vra Scheepers:

“Na bewering is die 204 siekte aansteeklik,hoe motiveer jy,Ankoren jou inskrywing van 15/01/2008 as jou man nou blykbaar ‘n 204 geword het? Is dit hoekom jy jou dagboek so lanklaas opgedateer het? Of sit ek die pot mis? Skryf vir ons wat sê Koos nou in sy getuienis. Impliseer hy die ander aangehoudenes, probeer hy die staat se saak vir hulle bevestig? Kom nou, moenie nou ophou met jou dagboek nie. Of is jy skaam? Kan jy nog mense soos emmaret in die oë kyk nadat jy as agent vir die vervolging opgetree het? Het jy nou nie meer die vriendskap en simpatie van die BVF nodig nie? Het Mbeki al die 30silwerstukke begin uitdeel, of wil jy net nie aan ons sê wat nou in die getuiebank kwytgeraak word nie? Ons brand om van jou te hoor!”

Blog at WordPress.com.