Uit my (“Boeremag”) – dagboek

February 8, 2009

11 Augustus 2008

Filed under: Vir Platkuif van Bosparra — ankoren @ 7:13 nm

Nadat Platkuif weereens gevra het skrywe ek oor ‘n melodie van ‘n tronkdeur

11 Augustus 2008

Platkuif

Ek is jammer dat ek so lanklaas van my laat hoor het, maar ek het so bietjie in die laaste tyd my wysie verloor!

‘n Tyd gelede, terwyl ek vir ‘n voorskrif wag, kyk ek na die afgemerkte parfuum in die apteek, en toetsspuit die een aan. “Het jy die fliek gesien?” vra ek vir Lucy. “Seren-in-dipitp-e-ty, soos altyd knoop my tong oor die woord, “ek meen Serendipity. Die storie gaan daaroor om toevallig iemand raak te loop en iets so waardevols soos liefde te ontdek” “Nee, ek kyk nie na flieks nie,” antwoord sy. “Hoekom nie, ek is mal oor ‘love stories’ soos diè een.” “Hoekom martel jy jouself so?” wil sy weet (- sy weet, sy het ook die pad gestap). “Nee wat, dis nie altyd ‘n marteling nie, ek kyk dat ek kan weet hoe – ek is mos besig om my eie ‘love story’ te skrywe,” lag ek.

Later is die TV-reeks  “Song vir Katryn ‘ op die kassie. Die eerste keer wat Katryn vir haar Ma in die tronk gaan kuier het, het ek eintlik besluit ek gaan nie weer na die storie kyk nie. Want sommige dinge pla mens meer as wat jy wil erken. Een daarvan is die klap van ‘n tronkdeur en dit is iets waarna ek nie in my eie sitkamer kan luister nie. Maar, later sing Jinx: die melodie van jou lewe, is op ‘n vals snaar geskrewe… Ek kyk toe wel na elke episode -  meer oor die song as die storie en elke keer op die kassie en in C-maks klap die tronkdeur my onderstebo. Wyl Jinx sing: jou oë die weerkaatsing teen ‘n muur van klip, van yster en pyn -  die deure van ‘n sel en gebarste gebede begin ek soos Katryn woon in die kamers van ‘n donker verlede( hede, in my geval) sonder deure, sonder vensters wat na buite kan sien en drome en wense en wonde en woorde - maar, Katryn het ‘n song – ek sukkel met ‘n kakofonie.

 

Tog begin ek so langsamerhand met ander oë na die melodie van ‘n tronkdeur luister - tot ek dit amper vir jou op die notebalk kan neerpen. Dit begin met ‘n stadige tempo terwyl jy staan en wag vir die bewaarder met die sleutel. Die sleutels rinkel sag teen mekaar, maar as dit in die slot kras is dit onmiddellik hard – fortissimo. ‘n Noot of twee vêrder kom dit teen jou aangeslaan as daardie slot oop of toe ruk. Dis ‘n ‘klak’ wat in ‘n enkel noot in jou murg kom sit. Dis die klank van verloor, wat ‘n letsel op jou siel laat. Ek sien ook hoe almal wat saam met my voor die deur staan, na die melodie luister. Is dit ‘n kind van jou agter daardie slot; (kan jy saam met my in die Ma en Pa se oë kom kyk) is dit ‘n liedjie sonder ‘n wysie. Is dit jou Pa of Ma; loop jy net soos Katryn met die eensaamheid van ‘n hawelose lewe. As dit jou lewensmaat agter daardie deur is, kom die vraag al met die heel eerste klap by jou op: did we dance till the end of love of is ons liefde ‘n stille rivierstroom wat vir ‘n onbepaalde tyd kan vloei om beton en deur tralies heen? Jy loop die paadjie alleen-leen-leen – want diep in jou wese die eensaamheid, die eensaamheid

Die melodie van ‘n tronkdeur is nie noodwendig vreemd aan ander nie. Al het ek op ‘n tyd gedink dit is net aan my en Katryn, en die mense wie ek weekliks in Potgieterstraat raakloop, bekend. Later het ek agter gekom dat ‘n tronkdeur se klap nie eintlik ‘n melodie is nie, maar ‘n rusteken in mens se lewe. Dit ruk alles tot stilstand. Dit dwing jou om na jou melodie tot dusvêr te luister, die potlood op te neem en die toon te verander. Elke mens loop daardie rusteken een of ander tyd raak. Daar, waar jy die note verloor. Dit hoef nie noodwendig ‘n tronkdeur te wees nie. Soms is dit die sagte sjhhoes van die hospitaaldeur, die skel breek van ‘n glasdeur, die pneumatiese toemaak van ‘n vliegtuigdeur, selfs net die toeklap van ‘n doodgewone deur of soms net ‘n woord of twee. Dit is daar waar jy besef Sir John Barbarolli was reg: Die lewe gee ons ‘n skoon blad met musiekbalke en ‘n hele toonleer note, wat jy speel en hoe jy sing is elkeen se eie keuse en uitdaging.

My man vertel vir my dat musiek uit diep, diep emosie gebore word. Ek nooi jou kom luister saam met my na die melodieë, wat oral om my eggo, wyl ek vir jou gunstelinge uit my musiekrak speel:

- laatnag deur my elektroniese posbus: ” is dit wat werklik saak maak jou gesin en baie van ons dom mense vind dit eers uit as ons dit verloor..” Onder die Jakaranda boom langs die hof die volgende dag het ek weer aan die woorde gedink en aan Jinx wat sing in Jakaranda strate: die spore na geluk loop in sirkels en draaie en lei my weer terug na die huis. Maar uit my CD-rak haal ek die Second Waltz…

- “Moeder Natuur het my in die katabasis afgesleep” “ek worstel, dit gaan nie goed met my nie” Luister na die Stradivarius as die Wolga lied speel. Dit is die lied van ‘n eensame soldaat, ‘n song vir alle eeue. As mens lief is vir klassieke musiek is daar niks op aarde wat tegelyker tyd vreugde en seer kan spel soos ‘n viool nie. Tog interessant, dat die weëklank van grootse treurigheid sielsmusiek altyd soet maak. Soos ‘n tronkdeur se klap kan dit jou bring by die besef van wat werklik saak maak. Van Marcus Aurelius se Meditasies lees die een: “Jou sielesfeer bly getrou aan sy vorm as dit nie uitgerek word of ineenkrimp of verstrooi word of ineenstort nie.” En ‘n ander: ”Wat ook al met jou gebeur, dit is van ewigheidsher vir jou berei; die ingevlegtheid van oorsake het jou hele bestaan, en wat daar tydens gebeur, van ewigheid af in een kleed saamgeweef.” Net soos note en rustekens op ‘n notebalk.

- Op my selfoon ‘n Boeremag-vriendin se SMS: “ek is vis nog vlees, ek is nie ‘n weduwee nie, ek is nie geskei nie, ek voel of ek in ‘n vakuum lewe, (getroud, maar manloos) Ek weet nie hoe om aan te gaan met my lewe nie!” Hoor jy die melodie van ‘n amper gebreekte snaar? Verpletter teen die wêreld se harde wand, versplinter in die niet van die hemel se some? Sal ek Annie’s song vir haar speel? You fill up my senses, come fill me again… Of miskien liewer: I have a dream. Eendag sal die tronkdeur vir oulaas klap, dan kan ons die dubbel strepies trek op die notebalk van hierdie blad. Daardie dag kan sy en haar man weer voor begin, met ‘n lewe vol drome en op ‘n nuwe notebalk hul eie gesamentlike melodie.

- In die siekekamer van ‘n jong moeder waar ek weerloos en stom saam met haar gesin staan: “…my onkoloog is baie positief, ek gaan baie lank chemo kry, maar ek sien kans daarvoor, ek wil net graag by my man en kinders wees…” Haar ingesonke oë laat skielik haar man se woorde, twee weke gelede by my opkom: “Ek sê vir jou, ek het ge’crack’ toe hulle haar uit die operasiesaal gestoot het.” Ek wil graag Greig se Oggendstemming uit die Peer Gynt Suite vir hulle opsit, want in daardie rustige herhalende melodie lê daar vir my die belofte dat elke dag, wat hoe donker ook al kan raak, more weer met ‘n oggend breek.

- “Nadat ek na middernag met die inbrekers in my huis slaags geraak het, slaap ek nie meer snags nie. My vrou en kinders is my alles, ek moet hulle beskerm!” Die man het moeg met sy wilde oë weggekyk. En ek het dadelik gedink aan ‘n ander man wat op die radio vertel het, hoe hy sy oorlede broer se bloed van die mure af moes skrop, na ‘n soortgelyke voorval. Voor my musiek-rak het ek lank gestaan, vir hierdie man kon ek niks vind. Nie ‘n song van enige aard nie. Nie ‘n enkele melodie. Hy het my laat wonder hoe klink die melodie van ons volk? Het ons dit iewers op ‘n berg in die nag tussen De La Rey en de Klerk verloor? Kan ons probeer om ‘n nuwe melodie te skrywe? Een van hoop? Of gaan ons die wysie laat vervaag?

Jan Scholtz se woorde en Valiant Swart se melodie sit aan my, dit draai heeldag en aldag in my kop. Dis ‘n weerklank wat sê, daar’s liefde en vrede, miskien. Nie miskien nie, beslis. Met ‘n strooi-storie soos diè in my gemoed, kan ek die tronk se deure trotseer. Ek weet as ek sterk genoeg kan word, ek op my eie wysie vir einste daardie tronkdeur sal kan sing: you rise me up, so I can stand on mountains!

Ek skrywe vir jou, in my sit-/studeerkamer vol van die Strauss walse soos net Andrè Rieu dit kan laat klink. My vingers wals saam oor die toetsbord se klawers, daar is vir die eerste keer in maande vrede in my gemoed. Ek dink in die besonder aan briefies in my e-pos wat ek, in die laaste tyd onbeantwoord gelaat het. Half-bekende gesiglose vriende, wie se woorde my soos melodieë van hul eie omvou. Wat soos jy, my so mooi gevra het om te skrywe en ek oorweeg het om jou in die steek te laat, omrede die wysie vir my te erg geraak het. ‘n Ander een, wat gereeld vir my vertel dat ek moet moedhou en aanhou, die eerste keer nog voordat ek (of hy) geweet het hoe nodig ek sy woorde nog gaan kry! Ook ‘n gewaardeerde vriend wat my by uitstek geleer het hoe nodig dit is om met jou oë te luister en jou ore te sien.

En dis my liedjie vir vanaand. Ek hoop jy en al die ander parras het songs wat rock!
Groetnis


  • ns. Ek kan die Afrikaanse vertaling Marcus Aurelius se Meditasies van Francois Bredenkamp by enige iemand wat in sielekos belangstel, aanbeveel. (Dit is by Protea Boekhuis beskikbaar).
  • Die kursief is aangehaal uit liedjies se woorde, meeste daarvan uit Hawelose lewe, van Valiant Swart.

7 Kommentaar »

  1. Geen mens sal weet waardeur jy gaan nie, maar hierdie skrywe van jou ruk diep in my binneste. Ongelooflik hoe ten spyte van alles, jy nogsteeds so sterk kan skryf en deel.
    Ankoren, ek wil hierdie op my blog gaan plaas – ek voel dis nodig. Weet nie hoekom nie, maar dis vir my belangrik. Dankie vir jou innerlike krag.

    Comment deur Sammi — Oktober 14, 2009 @ 3:48 nm | Reply

  2. Sammi

    Ek kan nie onthou dat ek al vantevore van jou skrywes gelees het nie, maar het gistraand lekker gekuier op jou blad. – Jou ‘Stukkies Vreugde’ is woorde so na my hart!

    ‘n Jongman het eendag as kommentaar vir my geskrywe my stukke is darem baie emosioneel… en as ek nou weer kyk na ‘die melodie van ‘n tronkdeur’ dan sien ek hy was reg, maar ek moes dit net uit my sisteem uitgekry het! Was ‘n moeilike tyd vir my – so stryd met wat jy beskrywe as ‘die aanvaarding van wees’… dit gaan nou baie beter! En daai storie gaan ‘n gelukkige einde hê – jul sal nog sien!
    As jy dit graag wil opsit op jou blog mag jy maar… ek het vir 2 dae daaroor geloop en wonder en besluit dat dit jou keuse is.

    Ek is nie juis ‘n baie fluks ‘blogger’ nie, (maar wil tog graag al my skrifsels bymekaar hou) en ek lees tog so af en toe ander mense s’n(as ek meer tyd gehad het, sou ek dit baie meer gedoen het.) Daar is nogal baie inspirasie te vind daarin ~ van nou af aan sal jy ook op my lys wees.

    Dankie vir jou boodskappie – ek het seker weer net bietjie woorde-aanmoediging nodig gehad, en dit het jy nou aangedra.

    Groete
    Anita

    Comment deur ankoren — Oktober 21, 2009 @ 7:17 nm | Reply

  3. Baie dankie Anita! Dit sal vir baie mense iets besonders beteken. Sterkte vir jou (ja, dit klink seker na leë woorde) maar op ‘n manier kan ek myself so ietwat indink waardeur jy moet gaan. Nee, nie werklik nie, maar enige verlies en vind is maar bitter en seer om deur te werk. Jy bly in ons gedagtes.

    Comment deur Sammi — Oktober 21, 2009 @ 9:08 nm | Reply

  4. [...] Aan die leser, gaan lees hierdie stuk van Ankoren… [...]

    Pingback deur Ankoren se Melodie van ‘n tronkdeur « Sammi soek nie meer nie! — Oktober 22, 2009 @ 4:29 vm | Reply

  5. Anita, daardie sleutels en slotte se knars het jare lank in my drome gespook, maar die ergste vir my was die lang ondergrondse gang van Lokaal. Dit ontsnap nou nog soms uit my vergeet, al het ek dit al meer as n dekade gelede toegesluit. My storie het uiteindelik n gelukkige einde gehad, ek glo joune sal ook, maar dit sal nie n einde wees nie, eerder n gelukkige begin. Dit bid ek vir jou.

    Comment deur Sonkind — Oktober 22, 2009 @ 6:11 vm | Reply

    • Sonkind

      Daardie einste gang het ek beskryf as ‘n geboortekanaal…. donker en baie pyn, verwarring en vrees… en ek dink nie mens sal ooit daardie gevoel van daardie gang REGTIG vergeet as jy dit een maal beleef het nie. Maar, gelukkig loop ons al jare nie meer daardeur nie. Die mans word in C-maks aangehou. En raai, daar is nou sterk buisligte in – (ek het in Maart ‘08 gevra of ek nog een keer daardeur kon loop en die trappies kon tel – en tot my verbasing was die plek geverf – hul het mos die hele plek opgeknap en geverf) Dis byna die teenoorgestelde van toe ek die eerste dag in April 2002 daar deur is – is net die klousterfobiese benouing wat nog dieselfde is.

      Soos jy sê ‘n nuwe begin’

      Dankie aan julle almal.

      Comment deur ankoren — Oktober 24, 2009 @ 7:50 nm | Reply

  6. Hello Anita

    Vriendin Sammi het my na jou blog toe verwys. ;) Ek het nou so wyle op jou blog rondgekuier om jou storie te lees, en ek stem saam Sammi, jy is ‘n inspirasie!

    Ek dink altyd so daaroor, as mens nie weet wat swaarkry is nie hoe gaan jy geluk ken. Dis alles aanmekaar verbind: gelukkig – ongelukkig, soet – bitter, liefde – haat, mens moet al die kante al beleef het om dit te verstaan of om dit te mis.

    Ek dink jy is baie dapper en positief. Jy is heeltemal reg, jou storie gaan ‘n gelukkige einde hê, juis omdat jy so sterk daarin glo.

    Sterkte

    Comment deur Wipneus! — Oktober 22, 2009 @ 6:24 nm | Reply


RSS skakeling vir menings op die blad. TrackBack URI

Lewer kommentaar

Blog at WordPress.com.