
Mei 31, 2009
Uit 2007 se dagboek… oor ‘n man in browns…
Gedurende 2007 het Sakkie foto’s van tydskrifte van 1978 op ʼn draad op Bravoland geplaas en gevra oor wat mense onthou van die jaar 1978 en ek het nostalgies meegevoer geraak:
Ek het gister die draad raak gelees en later gisteraand gewonder oor 1978…
Dit was vir my ʼn lentejaar soos ʼn groot oop bloeisel. Ek was in standerd nege op skool in ʼn klein dorpie in die Vrystaat. Ek het gelewe vir Vrydae, want Vrydae het my Pa na skool gestop by die Poskantoor en gewoonlik was daar vir my ʼn briefie in die pos. Dit was die jaar wat my eerste liefde sy voete gaan vind het, eers in die groot stad, maar later voor daardie jaar se einde – baie vêr weg. Ons het Sondae-aande gereeld vir mekaar geskrywe en teen Vrydae was sy brief in ons posbus.
Om op ʼn Vrydagmiddag plaas toe te gaan, na die week in die koshuis, was een groot fees. Daar was ʼn voorskoolse kleinboet wat nie kon wag om sy week se ontdekkings met my te deel nie, goggas, voëleiertjies, klippies… maar eintlik het dit meer gegaan daarom dat ek saans die radio op Springbok radio kon sit en by kerslig sy briewe kon lees. Die eerste ses maande van Universiteit, daarna ʼn paar maande van basies en die laaste kwartaal uit die militêre basis op Rundu. Versigtige vertellings van die bosoorlog, dikker briewe wat later ongereeld gekom het, baie meer ernstig van aard.
Maar, spesifiek kan ek onthou toe hy teen die einde van daardie jaar pas gekry het, so rukkie voor Kersfees, omdat hy teen Kersfees weer terug moes gaan. Wat my veral getref het – was hoe die lyne op sy gesig verander het van die skaam matriekseun – na die sterk lyne van ʼn man s’n. Hy was mý soldaat! Dit het ʼn soort-van-hartseer wete gebring dat ek moet vrede maak dat my kaalvoet-meisiekind dae vir goed verby sal gaan. Ek het tot al hoeka agter gekom dat ek nie meer so maklik in die Moerbeiboom kom soos my boeties nie. Dit het egter ook ʼn vlindergevoel in my maag gebring wat my vertel het dat ek besig is om ʼn vrou te word… en dat ek graag een wil wees…
Min het ek geweet dat daar op daardie tydstip ʼn ander – nog ʼn jong soldaat – in Angola rondgeloop het… en dat hy juis toe ʼn dear-Johhny-brief sou kry… en dat hy later in ons studentedae vir altyd my hart sou steel.
Die dag toe Steve Hofmeyr sy monument op die sypaadjie voor die ingang van Freedom Park onthul het, was daar twee manne in “browns.” Hulle twee het my gedagtewêreld terug geplaas na daardie era. Op pad terug huis toe het ek vir my dogter probeer verduidelik van daardie tyd. Dinge onbekend in haar ervaringsveld. Van liedjies soos “Troepie-Doepie wanneer kom jy huis toe?” Van naweek pas en troepies oplaai langs die pad. Van briewe en pakkies aanstuur. Van tannie Mossie wat vir elke valskermsoldaat (soos haar oom) ʼn sent gegee het, voordat hul grens toe vertrek het. Die sent moes hul altyd aan die Bybelversie oor die mossies herinner. Die volgende dag het Blitsbreker dit oortref met ʼn skrywe wat hy op die tweede pos op die draad: Helde van Suidwes/Angola oorlog op Boerevryheid geplaas het. Daarin het hy vertel van elke een in die weermag wat ʼn held was…
Daar is deesdae nie veel meer klere in my man se kas nie, maar sy “browns” hang nog in ʼn netjiese ry as jy oopmaak. 1978 is vergete verby, maar ai, ʼn mansmens in “browns” sal nog altyd my hart laat tjoklits klop!
Tussen Mis en Vermis… 30 Nov 2008
Platkuif het weggespring met ‘n groot geldinsamelveldtog vir Missing Children South Africa, maar het gou die wind van voor gekry….
30 November 2008
Dagsê Platkuif
Vroeg een oggend laas week, dit was nog skemerpienk in die lug, het die stropers begin keelskoon maak in die oop stukkie veld hier voor die huis. In hierdie geweste was die koring klaar gestroop. Die logge vreet-monsters, wat so breedvoet oor die pad loop, het gereed gemaak om aan te skuif, terug Vrystaat toe…
Die geluid van die stropers het my laat terugdink aan ʼn toneeltjie wat ek gedurende my laaste hoërskooljare, vanaf die koshuis se voorstoep, ʼn hele paar maal gade geslaan het. Dit het hom afgespeel in ʼn baie klein dorpie in die Oos-Vrystaat. Daardie jare was een van die land se grootste stroopkontrakteurs se werkswinkel in die hoofstraat skuins oorkant die Korporasie geleë. Die Hoërskool-koshuis, soos die Garage, Kafee, die Landdroskantoor(met die Polisiestasie direk daar agter), die Algemene Handelaar, die Poskantoor en Sentrale, Volkskas- en Barclays-banke was alles in dieselfde straat. Dit is trouens net die Hotel, Drankwinkel en die Kerk wat in die kruisstraat geleë is. Die teerpad het opgehou presies net waar die eerste straatblok begin. Die strate was nie geteer nie. Dit het wel later jare so ʼn gebrekkige lagie teer bo-oor gekry. (Dié het egter so verbrokkel dat die state nou minder rybaar is, as daardie jare se stofstrate).
Soos in alle klein dorpies het daar teen skemertyd altyd so ʼn stilte oor die dorp kom hang en die aankomende stropers was dus duidelik hoorbaar. Entourage en al! Al wat ʼn jongeling is van die swart woonbuurt voor jy die dorp binnekom, het agter die stropers aan gestreep. Al jillende en gillende! Menigte met die nodige instrumente daarby: stokke wat teenmekaar gekap word en sulke draadkar-gedoentes – ʼn lang stuk draad wat skuins tot op die grond bykom, met die agterkant in ʼn handvatsel gebuig en aan die voorkant ʼn blikkie-wiel. Dit is dan vooruit gestoot op ʼn stywe draffie en met die rol van die blik was die geklingel daar. Sommiges het ʼn stokkie by gehad wat met die omdraaislag teen die blikkie kon tik of klippies binne-in – alles vir die nodige akoestiese effek.
Daardie kontrakteur se groot geel stropers was gewoonlik vir maande aanmekaar weg en het so in sarsies van twee of meer teruggekeer. Hul moes seker ook op ander tye van die dag aangekom het, maar dié in my herinneringe is die wat saans gekom het. Ek het dikwels gewonder waaroor die opgewondenheid werklik gegaan het. Die geld wat die man op vêr onbekende paaie gaan verdien het en nou huis toe gebring het, het seker ʼn integrale rol gespeel. Ek glo egter nie dit was al nie. Die vreugde sou ook met kinderlike opregtheid gewees het oor ‘iemand van ons’ terug gekom het. Boon-op het daardie pa, oupa of oom stories saamgebring van vreemde mense, nuwe ervarings en ʼn ander wêreld by die teerpad verby.
Ek kon my altyd verkyk aan al die onverbloemde vreugde van die toneeltjie – wat net so wel die tuiskoms van die stropers – kon geheet het. Jare later ervaar ek nog so opgewonde tinteling deur my as ek die stropers se dreuning hoor, al woon ek nou vêr van daar. Dit bring altyd die gedagte saam: as iemand weg was en terug kom is dit net vreugde…
…maar as iemand weg is, mis jy daardie persoon…
Ek het gewonder hoekom gebruik ons juis die woord mis of te wel vermis? Praat ons in ons slegte Afrikaans-mengelmoes-taal van iemand of iets “missing” in jou lewe. Sing ons “…ek mis jou so…”
ʼn Boek uit my boekrak, Skryf Afrikaans van A tot Z, verduidelik dit as volg: mis x vermis: Die verskil tussen die twee werkwoorde kom daarop neer dat mis gebruik word wanneer mens na iets verlang of iets nie vind waar dit verwag of hoop om dit te vind nie: bv. Ek mis my kind…Vermis: Wanneer jy agterkom dat dinge of mense weggeraak of soek geraak het” bv. drie stappers word vermis…”(ʼn kind wat vermis word, word nie as opsie gegee nie…) My woordeboek verduidelik mis as werkwoord: “sonder iets klaar kom, ontbeer” As bywoord beteken mis: “verkeerd” Mis- as “ eerste woorddeel in samestelling wat beteken: verkeerd, ontkennend, teenoorgesteld, nie treffend nie.” Vermis weer as werkwoord: “merk dat iets afwesig of nie teenwoordig is nie.” Vermis as bywoord: “weg, wegraak, verdwene.” Vermiste(s) is ʼn persoon of persone wat spoorloos verdwyn het, wat nie teruggekeer het of gevind is nie”
Maar, dan is daar ook mis – sigbare waterdamp. In die natuur is dit ʼn pragtige verskynsel. Tog is dit nie iets waarin mens jou graag bevind nie. Hoe kan mens nie in mis verdwaal nie? Hoe min kan jy nie sien nie? Hoe onseker raak mens nie van jouself nie? Die ergste van alles vir my is, wanneer ek myself op ʼn vreemde plek in die mis bevind. Dit voel altyd vir my of daar ʼn afgrond moet wees net daar waar ek ophou om te sien. Dit is vir ʼn gevoel wat angswekkende vir my dieselfde is: om iemand te mis en myself in die mis te bevind.
Van vermis hoop ek om nooit te leer nie, maar ek kan jou ʼn stukkie vertel van iemand te mis. Of altans daar waar die klap van ʼn tronkdeur my gelaat het, ʼn stasie tussen mis en vermis. In die begin na my man opgesluit is, is ek gedurig aan die gemis herinner deur die plek aan tafel wat leeg is, die kant van die bed waarin nie geslaap word nie en ʼn stem wat ek verwag om te hoor, maar wat stil is. Ek het verwag dat ek dit later sou gewoond raak, tog het die gemis vir my soveel erger geraak dat ek met rukke nie geweet het hoe om dit te hanteer nie en soos een verdwaal in die mis bang was vir afgronde rondom my. Die gemis het in ʼn gebasterde vermis verander – omrede sy ‘nie-teenwoordigheid’ na ses en sewe maande nog steeds nie in terme van tyd vasgestel is nie. Dit kan dalk nog jare duur voordat hy ‘terug kan keer’. Selfs al probeer ek my bes, kan ek nie werklik verstaan van die geslote wêreld waarin hy homself bevind nie, en is hy dus uit my alledaagse wêreld ‘weg’ vir my.
Die ergste van jouself op daardie stasie te bevind is dat mens so mis-kombersie met jou saamdra. Hoe meer jy dit probeer wegsteek, hoe meer word dit sigbaar aan almal, asof daar permanent ʼn lig daarop skyn. Na ʼn onlangse besoek aan die tronk, klim daar ʼn man by die vroue-afdeling in die kombi skuins voor my in. Ek sien dadelik raak hoe hy met homself spook om daardie wêreld van die besoekhokkie waar hy nou net in was, van hom af te skud. Maar, soos ʼn miskombers kleef dit hom aan – hy is nie gebore in staat om dit af te gooi nie. Ek wil my hand op sy skouer sit, maar ek weet uit ondervinding dat so ʼn gebaar dit net vir hom nog moeiliker sal maak. Ek wil hom vertel dat ʼn mens dit moet agterlaat – daardie mis-wêreld van die tronk! Los jy dit nie net daar nie, kan jy nie in die werklikheid van die genadelose sonskyn wêreld daar buite funksioneer nie. Daar moet jy teen ʼn verbysterende spoed byhou en deug deur die mis-wees wat tronkbesoeke jou bring, doodeenvoudig net nie. Dit is iets wat jy moet aanleer, in die begin is dit uiters moeilik. Later, al het jy dit bemeester, vang dit jou soms nog onverhoeds. Dit kom hang soos ʼn mis-kombers, gewoonlik wanneer jy dit die minste kan bekostig, om jou – vir almal om te sien – op ʼn stasie tussen mis en vermis…
Dit is die ergste as iemand uit jou lewe weggeruk word, die feit dat die wêreld vir jou stil gaan staan en vir die res aanhou beweeg. So ʼn gebeurtenis kan soos ʼn ontydige stroper deur die lande van jou lewe kom dreun en jou voor die voet van alles stroop. En as daardie stroper keel skoonmaak en vertrek, laat dit jou verdwaal in die mis…
Dit is my ervaring van om iemand te mis – jy mag dalk dink dis uit plek uit om dit met vermis te vergelyk – ek weet dis nie naastenby so erg nie…
Om te besef jou kind word vermis
KAN ek my nie indink nie
DIT moet ʼn erge hel wees…
Maar, op my stasie het ek tog ʼn klein stukkie meer, as Jan Alleman, daarvan geleer ken. Uit ondervinding weet ek dat ander mense en hulporganisasies wat bo die mis kan sien, en met praktiese hulp jou hand kan vat en die nodige fondse het om dinge te doen, soos vlerkelose engele in jou lewe is.
Daarom moes ek jou net sê:
Moedhou en vasbyt met jou poging om geld in te samel vir die MISSING CHILDREN-projek!
Groetnis
Ouma se panorama
Ouma(my skoonma) het die mooiste skildery gemaak van die panorama wat mens groet as jy uitstap by haar agterdeur…

Sy vertel my dat iemand eendag gesê het dat as daar ooit ‘n mens die vermoë gehad het om die natuur te slyp op ‘n doek soos ‘n diamant, dit Pierneef was.
Hierdie was haar probeer om hom na te doen, en dit is vir my prentjie mooi!
Mei 20, 2009
19 Mei 2009 – Die Boeremagsaak se sesde verjaarsdag
Wat de ‘heck’? is diè dag se storie…


