Uit my (“Boeremag”) – dagboek

Mei 11, 2010

Kantlynnotas vir die Vrouegalery… Moedersdag 2010

Filed under: 2010 — ankoren @ 6:43 vm

Ten einde ʼn besoek aan die Boeremagvroue-galery na waarde te skat, dien die volgende notas vermeld te word:

Die keuse om die vroue betrokke in die saak as ʼn galery voor te stel, is gemaak na aanleiding van Marcel Proust se siening: “It is only through art (and books) that we can escape from ourselves and know how another person sees a universe which is not the same as our own…”As Boeremag-vriendinne bespreek die vroue dikwels onder mekaar, dat hul in ʼn totaal ander wêreld lewe as hulle ander vriendinne. Om te deel in hierdie wêreld, wat vreemd is om te verduidelik aan iemand wat nie daarmee te doen het nie, is u genooi om hierdie galery in die kuberruimte te kom besoek.

Veral aan die begin van die hofsaak was hierdie vroue se doen en late in die media uitgestal kompleet soos ʼn skildery teen ʼn muur. Elkeen se grootste taak was en is nog steeds om haaks teen daardie muur te hang. Die wye wêreld, as ruimte van die galery, het vir haar – sonder hom aan haar sy – verdwaal-groot geword. Sy moes leer om die werklikheid van elke dag se bestaan en die eng twee-by-vier-ruimte waar haar maat gevange gehou word, (en sy noodwendig in gees saam vasgekeer is), te balanseer. Haar rol het skielik verander na die van versorger, deurdat haar en haar man se welstand daarvan begin af hang het of sy hierdie balans kon vind en behou.

Die Duitse digter Rilke se unieke siening van die huwelik dat twee eggenotes ‘beskermers van mekaar se afsondering’ moet wees, het in hierdie galery besonderse betekenis gekry. Elkeen van die vroue wat hier uitgestal is, word beoordeel na die wyse waarop sy, haar en haar lewensmaat se saamwees as enkeling voortdra. Sy leer ook van Rilke verstaan dat “gemeenskaplikheid net in die versterking van twee ‘naas mekaar bestaande eensaamhede’” tot ‘nie-besittende’ liefde kan lei. Na jare besef sy ook dat die uitbou van gemeenskaplikheid in die diepste sin, met afstand en afsondering bitter min te make het.

Hoewel sy dikwels teen haar eie onmag te staan kom, leer sy om in die liefde van ʼn man te skuil wat bereid was om alles vir sy volk te offer.

Delacroix het meestal sy inspirasie gevind in die digkuns. Hy kon homself vereenselwig met die passie en aspirasies van digters soos Dante, Shakespeare en Byron. Tog, het die emosie rondom werklike gebeure hom ook aangegryp en met die skildery, Liberty Guiding the People het hy die Julie Revolusie van 1830 uitgebeeld. Alles in die skildery is so werklik soos wat dit gebeur het, behalwe vir die allegoriese figuur van Marianne. ʼn Robuuste vrou, uit die gewone klas, wat nog steeds gesien word as die simbool van vryheid en rede.

In ʼn brief aan sy broer, het Delacroix geskrywe, dat selfs al het hy nie vir sy land geveg nie – hy tenminste daarvoor geteken het! Volgens oorlewering was sy uitbeelding van die Revolusie so sterk dat die Direkteur van die Skone Kunste gedurende 1831 die skildery gekoop het en dit met die gesigkant na die muur opgehang het! Die skildery word ook beskryf as ʼn fragment van die werklikheid en ʼn ideaal – ‘n tema sentraal in die univers van die vroue van die galery.

Die uitgestalde vrou moes haar ook losmaak van skindertonge en verwyte net soos die skilder Frans Hals. Met sy skildery van Catherina Hooft, (waar sy sit met die kind op haar skoot) het hy aan die wêreld bewys dat hy nie die dronkaard was soos algemeen aanvaar nie. Gerald Davies het jare na Hals se dood uitgewys dat slegs ʼn vaste hand die oorvloedige detail van kant so meesterlik sou kon teken soos op hierdie skildery en dat dit onmoontlik sou gewees het vir ʼn sestigjarige alkoholis.

Salvador Dali se gesmelte horlosies stel volgens sommige kritici die irrelevansie van tyd voor, maar hy moes verstaan het, wat die vroue van hierdie galery moeisaam moes leer … dat tyd rondom enige iets kan vou… dat dit vreeslik lank kan neem om ongelooflik vinnig verby te gaan. Gelukkig ook dat tyd ʼn genadegawe is wat mens naderhand net die goeie laat onthou en die slegte laat vergeet.

Rosetti is in verskillende fases van sy skilderwerk deur die ideaal van vrou-wees geïnspireer. Om dit uit te beeld het hy ten eerste sy suster, Christina en later sy vrou Eleanor as modelle gebruik. Na sy vrou dood was hy nie in staat om weer te werk nie. Na tien jaar waarin sy as konstante inspirasie vir hom gedien het, was hy verpletter, totdat hy die vrou van sy leerling William Morris ontdek het en as model van die laaste van hierdie drie fases gebruik het. Haar skoonheid het hom geïnspireer tot die mooiste van sy werke – Die Dag-droom. Vir elke vrou kan dit wees soos ‘n droom wat waar word, om te weet dat sy as inspirasie vir iets moois en groots gedien het.

Meer as enige ander vrou staan hierdie vroue gereeld voor die raaisel van vrou-wees, daarom is die Mona Lisa sentraal geplaas in die galery. In ‘n handboek van kunswaardering is daar geskrywe dat daar in die sagte gelaatstrekke van die Mona Lisa ʼn glimlag lê wat deur groot kunskritici geroem word as “die suiwerste beliggaming van die ewige raaiselagtige in die vrou.”

Die skryfster MER het ook haar antwoord op die raaisel van vrou-wees in ʼn skildery gevind – die Madonna van Raphael.

“ʼn Vrou se lewe is om bewys te wees van die noodsaaklikheid en die onmisbaarheid van Goedheid. Goedheid… is opregtheid, liefde, getrouheid by al die werksaamhede van die lewe. En in haar(Madonna) oë… is die uitdrukking van een wat al die feite en waarhede van die lewe onvervaard in die gesig kyk, wat vir geen kennis bang is nie, en wat oor alles kan oordeel uit die opregtheid, die getrouheid en die liefde wat daagliks werk in haar hart… Sy is… die verwesenliking van die mens se Moeder-ideaal. Sy is die ewig-vroulike, wat die mens ontwikkel en beskaaf. In haar is al die eenvoud van alle eenvoudige getroue vroue, al die wysheid van alle verstandige ervare vroue, al die kennis van alle geleerde vroue, al die fynheid van alle fynbeskaafde vroue, almal se strewe opwaarts, van watter aard ook, is in haar verenig” (Aangehaal uit die boek van Jaap Steyn, Die honderd jaar van MER.)

Millet se Gleaners, is in die negentiende eeu met gemengde gevoelens ontvang. Die sosialistiese, realistiese kommentaar wat dit gelewer het, was een te veel vir die kunswêreld. Dit het skerp vrae gevra. Volgens sommige kritici is party nog steeds vandag relevant in politieke kuns. Is dit geregverdig om aan mense wat so ʼn minderwaardige taak verrig – soos om koringare op te tel na die oes – groter menswaardigheid toe te ken? Kan die verrigting van so ʼn alledaagse taak, ʼn persoon as individu laat uitstaan bo ander? Kan brutaliteit deur die prag van kuns versag word? Verdien die alledaagse om na die mistieke verhef te word?

Tog het die skildery die grootste ‘gleaner’ van alle tye – die Bybelse figuur Rut – in herinnering geroep en is dit bekend as die kunstenaar se meesterwerk. Hierdie skildery is vir die moeders van die vroue opgehang. Die vroue wat getrou gaan waar hul dogters moet gaan. Wat ook gereeld kom kuier en alles – wat in die haas van die oes sorgeloos bly lê het – bymekaar maak. Daar kan met reg gesê word dat hierdie die waardevolste skildery in die hele galery is.

‘n Item wat ‘n groot rol in die vroue se lewens speel en na vele oorweging nie in die galery opgehang is nie; is ‘n spieël. Net soos die dramaturg Deon Opperman by monde van sy karakter, Sarie Marais, ʼn lewensmaat uitbeeld as ʼn spieël waarin jy na jouself moet kyk – is die glas in die besoekhokkie voor die tralies, die dubbel-spieël waarvoor die vrou van ʼn politieke gevangene gereeld gaan staan. Die moed om te kyk ontbreek haar soms… daarom gaan staan sy eerder voor hierdie mooi uitgestalde skilderye waar sy inspirasie kan vind en met grasie kan vergestalt wat die Engelse noem: ‘to endure…’

Hierdie galery sou egter nooit sinvol kon bestaan as dit nie vir die besoekers was nie. Vreemdelinge, vriende en familie wat deur die jare steeds hul bystand aan die vroue bied, finansieel sowel as emosioneel. Mense wat deur hul woorde en dade, die swaarkry deel, help om kinders deur Universiteit te kry, motors padwaardig hou, politieke ideale lewend hou en gereeld moed inpraat. Mense wat die vroue soms ʼn honderdrandnoot of meer in die hand stop – gewoonlik op ʼn tydstip wanneer dit dringend nodig is. Mense wat so konstant en ruim bydra dat hulle name met verdienste op ʼn ererol by die ingang aangebring kan word.

My innige dank aan almal, besoekers en ook lesers wat die tyd afgestaan het om die galery te besoek, op welke manier ook al. Dit is wat die galery laat voort bestaan, wat keer dat die stof en spinnerakke van moedverloor die vroue oorval.

‘n Besonderse Dankie aan my moeder, Ma-Rensie. 

Lewer Kommentaar »

Nog geen kommentaar nie.

RSS skakeling vir menings op die blad. TrackBack URI

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Connecting to %s

Theme: Rubric. Blog at WordPress.com.

Follow

Get every new post delivered to your Inbox.