die reën loop kronkelpaadjies
oor die kar se ruite
in hierdie omgekeerde déjà vu oomblik
is dit net jy wat dringend skort
asof ons saam op ʼn lang reis
iewers heen oppad moes gewees het
as ek my verbeel dat jy langs my sit
kan ek die alleen besweer
en jou hegter bind
aan die leemtes van my enkelskap
deur agt jaar se foonoproepe
tronkbesoeke en
nog-net-drie-minute-oor se kuiertyd
worstel ek steeds teen die opstand
van jou afwesigheid
wyl jy my rustig leer
van ʼn dieper vind
