“Ek het maar die pakkies goed saamgebring, vir ingeval – jy weet” sê oom Jan Vermeulen met so skewe laggie as ons laatoggend op die 7de Junie 2010 by die Hooggeregshof se hek uitstap.
“Gelukkig is daardie dae nou verby en hoef ons Oom nie weer te sien nie,” lag ek terug “Sjoe, dit klink nou baie ongeskik, maar gelukkig verstaan Oom wat ek bedoel…”
“Ja-Nee. Solank ek net nooit weer Potgieterstraat toe hoef te gaan nie.”
“Ek wou nog vra: hoe oud is Oom nou?”
“Een-en-tagtig”
“Nou wanneer het Oom so oud geword?” Ek het eerlikwaar gedink hy is nog in die sewentig. “ En nog steeds het Oom een maal elke maand van Brandfort af Pretoria toe gery om vir Jurie te kom kuier… vir sewe jaar en sewe maande…”
Hy val my in die rede “In die begin elke veertien dae, maar later het ek te sleg geword en het dit toe maar net een maal elke maand gedoen.”
Regter Eben Jordaan het pas borg aan sy seun, Jurie Vermeulen, toegestaan. Hy is beskuldigde nr. 16 in die Boeremagsaak. Hy staan saam met nog negentien ander beskuldigdes tereg op klagte van onder meer hoogverraad en terrorisme. In sy uitspraak het die regter dit duidelik gestel dat Jurie die enigste een van die beskuldigdes is, wie se borgaansoek hy kan aanhoor.
Jurie se vorige borgaansoek was gedurende Julie 2007, voor Regter Jerry Shongwe. In daardie aansoek het hy gesteun op ʼn verslag van ʼn maatskaplike werker oor die verbrokkeling van sy gesin, sy verhouding met sy vader en sy minderjarige seun. Die seuntjie was ʼn ses maande oue baba toe hy in hegtenis geneem is en moes tot op hede sonder ʼn pa groot word. Die bevinding was egter dat Jurie ʼn gevaar vir die samelewing inhou en dit nie in die belang van geregtigheid sou wees om hom op borg vry te laat nie.
Regter Shongwe is intussen na die Appèlhof. Dit is dus nie moontlik vir die beskuldigde om nog ʼn borgaansoek op grond van nuwe feite voor hom te bring nie. Regter Jordaan het gelyk gegee dat hy as regter in die verhoor, in elk geval ten volle op hoogte van al die feite is en het ingestem om die aansoek aan te hoor.
Die kern van die betoog in die aansoek was dat elke persoon die reg het op ʼn spoedige verhoor.
Regter Jordaan het mnr. Bandjes, Jurie se regsverteenwoordiger, gelyk gegee in sy betoog dat Jurie nie “een van die groot visse was nie.” Hoewel die regter hom nie kan uitlaat oor wat sy bevinding op die einde van die saak sou wees nie (“tussen hakkies ‘wanneer’” die saak eendag tot einde kom – het hy met nadruk gesê) beskou hy sewe jaar en sewe maande in aanhouding reeds as ʼn lang vonnis.
Ook het hy genoem dat hy na ʼn verhoor van sewe jaar nie die advokate hul taak beny om hom toe te spreek oor elke beskuldigde nie. Nog minder beny hy die staat hul taak. Dan verwys hy nie eens na homself en sy assessore wat alles moet beoordeel nie. Hy het ook genoem dat hy lankal “opgehou het om te voorspel” wanneer dit alles eendag tot ʼn einde sal kom.
Gedurende hierdie saak het hy reeds 40 ander aansoeke ook moes aanhoor. Die jongste is die aansoek van die drie Pretorius-broers (beskuldigdes 19,20 en 21) – wat om Krygsgevangene-status aansoek doen.
Hy het in kort die huidige situasie op gesom: Johan Pretorius (nr. 19) het vanaf 10 Maart tot 21 April deser sy getuienis in hoof afgelê. Die ander regsverteenwoordigers het kort daarna hul kruisondervraging voltooi maar nadat die Staat ʼn driekwart dag besig was, het Johan geweier om verder te getuig. Die aansoek om Krygsgevangenskap het daarop gevolg.
Hy het gehoop dat die aansoek voltooi sou wees voor die aanbreek van die reses, maar op die 2de Junie het die applikante se regsverteenwoordigers gevra dat die saak uit gestel word tot na die reses, die 19 Julie 2010.
Die saak het na regte op die 21ste April tot stilstand gekom. Aangesien die regter baie tyd nodig sal hê om ʼn uitspraak op hierdie aansoek voor te berei, voorsien hy dat die saak self nie voor Augustusmaand sal hervat nie.
Omdat Jurie reeds getuig het, is sy indruk van sy persoonlikheid dat hy nie ʼn geweldadige persoon is nie en glo die regter dat die herinnering van sewe jaar en sewe maande agter tralies hom sal weerhou daarvan om enige verdere misdrywe te pleeg. Hy het weer ʼn keer na hom verwys as ʼn “kleiner vis in die saak.”
In belang van geregtigheid het hy borg van R50 000 toegestaan.
“Dan groet ons maar.” Oom Jan is nou baie haastig om sy seun by die tronk te gaan oplaai.
“Dag Oom. Sê groete vir die Tante.”
Hy draai om en stap weg. Vir ʼn ruk kyk ek hom agterna. Hy dra swaar in elke hand aan ʼn inkopiesak gevul met kruideniersware. ‘…net vir ingeval’ die regter anders sou besluit het. Mens weet nooit nie. Dis ʼn lang reses wat voorlê. Gelukkig kan dit alles nou weer saam gaan huis toe.
Ek is so bly, maar die hartseer bekruip my.
Sewe jaar en sewe maande vir hom – agt jaar en twee maande vir sommige ander van ons…
Ek dink aan die ondersoekbeampte wat Jurie geterg het dat hy net moet onthou dat hy nou nie meer die baas is, as hy by die huis kom nie. Ek sien voor my geestesoog hoe bek-af sy medebeskuldigdes gaan staan en toekyk hoe hy oppak en C-maks se stof van sy voete afskud. Aan Herman Scheepers wat kort voor sy dood, ook in die jaar 2007 die laatste een was wat dié voorreg gesmaak het…
Ek kan nie besluit hoe ek voel nie.
Miskien was my boodskappie aan Jurie se vrou ʼn paar minute tevore instinktief die samevatting van al die emosies wat nou skielik dreig om my onder te kry:
Boeremagvriendin,
Ek is so jaloers op jou – ek kan vrek.
Ek is so bly vir jou part – ek dans ʼn riel.
…ek wens jou toe dat jou vreugde altyd sal bly!