Uit my (“Boeremag”) – dagboek

Julie 6, 2010

Konsentrasiekampkerkhof – Balmoral. 20 Junie 2010

Filed under: 2010 — ankoren @ 7:08 nm

Aan die voet van die gedenknaald waar die name van die gestorwenes dofwit op die donker plaat gegraveer is, staan die kerse kort voor sonop, helderwit met hul pitte swart verbrand in ʼn ry. 

Behalwe vir die gedempte geluide van enkele kampgangers wat onder die bloekombome begin ontwaak en die pad se gedruis, is die dag nog in ʼn sluimering.  Die ryp kraak onder my voete en my neus se punt brand.  Dit is ysig koud, maar om my is die natuur stil getuie dat dit hier nog veel kouer, as nou kan word.  

Ek doop my pen in die rooi robyn,

In die rooi van ons Boerebloed

Ek grif op die voorkop van elke kind

Onthou wat jou nasie moes boet!

Onthou” van H Martins.

 

Hoe moes dit gevoel het in die jare toe die konsentrasiekamptente hier ry aan ry gestaan het?  Hoeveel keer het die kapok wit oor die graspolle gelê?  Ek kruip dieper in my dikste baadjie in.  Hoeveel beskerming het die vroue wat eens hier moes staan se rokke teen die koue gebied, wonder ek. 

 

Sy sit op die seepkissie en nadink voor die kamptent, 

Oor die beleid van verskroeide aarde en moordkamp

Wat sy tol eis en boervrou en -kind dompel in ellend’…“ 

      “Die moordkamp”  van Linda Rademan

Gedurende die Anglo Boereoorlog, op 16 Junie 1900 het Lord Roberts proklamasie 5 van 1900 uitgereik, waarvolgens die Britte enige Boere wat weerstand bied se huis af moes brand en hul vroue en kinders (die “burgerlike bevolking”) as krygsgevangenes na kampe weg moes voer. 

Deur die duur van die oorlog het al te saam 22 000 kinders en 6 000 vrouens met hul lewens in sulke kampe geboet.  Vier jaar gelede is daar deur ʼn groep mense besluit om die gebeure elke jaar rondom die 16de Junie op Konsentrasiekampdag te herdenk. 

Tydens hierdie jaar se herdenking staan ek in stil bepeinsing, op Sondag 20 Junie 2010, by die ingang van die kerkhof op Balmoral.  Ek wag dat die son die dag begroet.  Hier, net langs die N4 tussen Bronkhorstspruit en Witbank is naastenby 400 mense begrawe.  Die gemiddelde ouderdom van die kinders op die gedenkplaat is vier jaar. 

Die kindergraffies eens afgewit strek in rye agter my uit en in my gedagte herleef ek weer die gebeure van die vorige dag.

Volgens kommandant Peet Dorfling van die Boerekommando was die hele naweek se rëelings ʼn spanpoging. 

Lede van verskillende Boerekommando’s (o.a. Bapsfontein, Balmoral en Pretoria) het vroeg die Saterdagoggend vanaf Bronkhorstspruit op die Groblersdalpad uit vertrek vir ʼn perderit van 47 km.  Net na 15:00  het hul aangekom op die terrein by die Volksmuseum, wat net reg langs die kerkhof is.  Met hul aankoms het van hul vrouens, saam met ander belangstellendes,  lede van die Boerekampeerbeweging en die BKRB  reeds kamp onder die bloekombome opgeslaan. 

Teen ongeveer 16:00  is almal byeengeroep vir die vlaghysingseremonie en is die verrigtinge amptelik geopen.  Die eerste taak wat die vrouens en kinders opgelê is, was om die pakke kerse in korter kersies op te sny.  Hierdie meer as 300 kersies is daarna staan gemaak, een of meer op elke graf in die kerkhof.  Kinders van alle ouderdomme het ywerig meegehelp.  Teen sononder was alles gereed. 

Na aandete is almal by die kerkhof saamgeroep vir die hoofgebeure van die naweek.  Perderuiters in die donker pad met fakkels aangery gekom en dit aan vrywilligers oorhandig.  Hierdie fakkeldraers het tussen die rye grafte deur gestap, terwyl helpers elk met ʼn kers in die hand, al die ander kersies vanaf die fakkel aan die brand gesteek het.

Almal is weer na die gedenknaald geroep waar twee vroue getuienisse en vertellings van vroue wat in sulke kampe was, voorgelees het.  Daar is ook gedigte deur jong dogters voorgelees.  

Sy sit daar in die kamptent

Haar lappop knel sy vas

Want haar mammie is reeds gister

Verlos van haar aardse las

So kry hul haar ook later

Daarby haar lappop lê

En laat haal ʼn ou seepkissie 

Om haar en haar lappop 

In die aarde weg te lê

                                                “Die lappop”  Dries Kriel.  .

Na samesang is die kerse weer uitgedoof en het almal na die kampvuur verskuif.  Twee kitare is te voorskyn gehaal en daar is vrolik saamgesing.  

“’n Toekoms te bou in verset teen die verlede,” het ʼn aanhaling van iemand by my opgekom terwyl ek stil, tot laatnag om die kampvuur na die ernstige gesprekke oor die politieke situasie waarin ons, ons tans bevind geluister het.  

Die gesig van die brandende kerse op die grafte sal my lewe lank by my bly. 

Vir vryheid en reg. 

Elke vlammetjie wat gebrand het, het ʼn geofferde lewe voorgestel. 

Die herinnering aan die lewe self het tasbaar om almal se harte gevou.  Kinders het met gedempte vreugde meedoen.  Groot manne het trane weggepik.  Jong verliefdes het stywer teen mekaar gestaan en enkelinge het verwese weggekyk. 

Vanoggend staan die kersies koud en kil.

As die son sy eerste strale met rooigloed oor die grafte gooi dink ek daaraan dat die winter gebreek is.  More draai die son. 

Balmoral, met sy Volksmuseum en kerkhof is ʼn hartseer getuienis van diep, diep winter in ons geskiedenis, maar ook die blydskap dat daar altyd weer ʼn somer kom. 

Geen trane meer.

Net die hartseer wat hier binne sit.

Grof geskaaf deur baie seer.

Al wat bly, 

Net die glo… more bring weer nuwe hoop. 

                                                                        “Die kamp” deur  JH Stapelberg.

 

 

Notas: 

* Verkorte weergawe het verskyn in Die Afrikaner. 25 Junie – 1 Julie 2010

* Gedigte uit bloemlesings Stemme uit die Suiderland 2005 en 2008. Uitgegee deur die GHA. 

7 Kommentaar »

  1. Baie dankie vir die mooi berig en boodskap. Ook dankie dat jy hier was, net jammer ons kon nie meer gesels het nie.

    Ek wardeer dit baie

    Boereliefde en Groete

    Werner Kruger

    Comment deur Werner Kruger — Julie 6, 2010 @ 7:49 nm | Reply

    • Werner
      Ek moet dankie sê vir julle!
      ‘n Deel van die essay het ook in die “Kolskoot” van Julie verskyn – dit is ‘n tydskrif wat in die Bronkhorstspruit, Cullinan, Rayton, Delmas, Sundra, Eloff en Oostelike dele van Pretoria verkoop word.
      Groetnis
      Anita

      Comment deur ankoren — Augustus 1, 2010 @ 6:09 nm | Reply

  2. Alle eer aan hulle wie ons vooruitgegaan het.

    Comment deur Olga — Julie 6, 2010 @ 10:02 nm | Reply

  3. Anita

    Puik artikel, baie dankie vir jou moeite.

    Hierdie le elke Boer na aan die hart, indien dit moontlik is sal ons weer volgende jaar daar wees.

    Die gees was uitstekend, en ek dink ons kan net voortbou hierop tydens volksfeeste en herdenkigs dae.

    Die volgende geleentheid waar ons bymekaar moet kom is by die hof op die 19de Julie 2010, ek dink dit sal gepas wees as almal daarna iewers byeenkom.

    Groete

    Comment deur Marius Harding — Julie 7, 2010 @ 12:14 vm | Reply

  4. Ek het nou ‘n oomblik gevat ek al jou posts gelees waarby ek vir lank nie uitgekom het nie. Dis ‘n kosbare blog hierdie. En jy doen interessante dinge. Wens ek was nader om sommige trips mee te maak!

    Comment deur Skoor — Julie 7, 2010 @ 7:17 vm | Reply

    • In jou omgewing is mos net sulke intressante dinge en geskiedenis… Jy moet dit net gaan opsoek, dit maak mens se lewe soveel ryker!

      Comment deur ankoren — Julie 7, 2010 @ 7:43 vm | Reply

  5. Sjoe, hoekom kom ek nou eers hierop af! Dis baie mooi! Dit gee my hoendervleis!

    Comment deur Nikita — Julie 16, 2010 @ 7:50 nm | Reply


RSS skakeling vir menings op die blad. TrackBack URI

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Connecting to %s

Theme: Rubric. Blog at WordPress.com.

Follow

Get every new post delivered to your Inbox.