(vir Ben)
Die eintlike historiese gebeure lê diep verborge,deur almal beleef,
maar deur niemand waargeneem nie.
C.G. Jung
Op Sondag, 18 Julie 2010, het die klippe wat die vorige dag by Paardekraal as verbintenis tot ʼn vryheidsideaal gestapel is, in die vroegoggend ʼn aardse rooi-bruin gloed gehad. Die Saterdag se verrigtinge, as herdenking van ʼn volksvergadering wat 70 jaar gelede by die Vrouemonument gehou is, het nog vars rondom die stapel gelê.
Getuies van nog ʼn historiese gebeurtenis wat hier beleef is…
“Enige nasie, net soos enige mens, wat nie onthou wie hy was nie, sal nie weet wie hy is nie en kan nie droom oor wat hy nog kan wees nie…” het Deon Opperman geantwoord op die toekenning wat die Verkenners aan hom en Sean Else oorhandig het vir die musiekblyspel, Ons vir jou.
Mnr. Andries Breytenbach, leier van die HNP en voorsitter van die Afrikanerfront, het gesê: “Rig u blik op die vryheidster wat wink daar voor. Luister na die taal van u Afrikanerhart en rig u skrede saam met u volk op hierdie vryheidspad.”
Paul Kruger voorsitter van die Volksraad Verkiesing Kommissie (VVK) het gevra: “Gaan (en wil) ons die generasie van die groot daad wees?”
Henk van de Graaf, het die amptelike verrigtinge afgesluit: “ons is in ʼn beter posisie as 70 jaar gelede om ons vryheid te herwin… Ons sal onsself moet uitpresteer om daar uit te kom.”
Die eerste klipstapeling op Paardekraal het 130 jaar ge-lede plaasgevind. Tydens ʼn volksaamtrek op 8 Desem-ber 1880 het Paul Kruger gevra dat elkeen wat nie gewillig was om saam te werk nie, óf gewetensbesware gehad het óf bang was, moes terug staan. Niemand het beweeg nie. Die ou president het die klippe tot getuie
geroep. ʼn Spontane klipstapeling het gevolg en die monument is in 1890 daarbo-oor gebou, om altyd “die magtigste demonstrasie van eensgesindheid en vasberadenheid wat Suid-Afrika nog aanskou het” te gedenk.
Nonnie, die vrou van generaal De la Rey, het oor die gedenkfees wat later gehou is, geskrywe: “Ek en my drie kinders, ook die klein seuntjie van een jaar, het sy klip as gedenksteen self op die stapel geplaas.” Het sy langs daardie hoop klippe gestaan en geweet wat sy en haar man in besonder, maar heel haar volk sal offer vir vryheid?
Gedurende die Tweede Vryheidsoorlog (Januarie 1901) het die Engelse al die klippe onder die monument op waens gelaai en onder die treinbrug by Vereeniging in die Vaalrivier gaan gooi. Clive Derby-Lewis het die klippe later jare weer laat uitgeduik en die Verkenners het die klippe teruggebring Paardekraal toe.
Op Geloftedag, 16 Desember 2007, is hierdie klippe weer onder die Monument op ʼn hopie gepak. Tydens die geleentheid was prof. Eric Holm die feesspreker. Hy het verduidelik dat die Gelofte se derde been dié van ʼn volksverbond is. Net soos ons in terme van genekomplekse as van Europese afkoms geklassifiseer kan word, word ons in terme van idees in meenplekse uitgesonder, het hy verduidelik.
Hy het die kenmerke van ʼn verbondsvolk opgenoem wat insluit taal, kultuur en geskiedenis, ‘n unieke humorsin, Christelike etiek, hardkoppige ondernemingskap en ʼn eienaardige individualisme. “Mens kies of jy deel van die volk wil wees of nie. Jy aanvaar dit met die goeie en die slegte, net soos jy in jou gene noodgedwonge met die goeie en die slegte moet saamleef… anders as by gene is die keuse joune”
Nou lê hier ʼn vars hopie klippe voor die ou ingang na die monument. In verset teen die tirannie van die demokrasie – die gelykheidsdogma van vaal eendersheid waarin ons tans moet leef.
Mense is gevra om klippe van hul omgewing saam te bring en hul name en plekke van herkoms op die klippe te verf. In die hoop is baie klippe wat op die terrein opgetel is, maar daar is ook rivierklippe, graniet met name op gegraveer, ʼn klip afkomstig uit Lesotho en ook een versteende houtstomp uit Suidwes.
“Die klippe is vir my simbolies van die verskeidenheid in ons volk” het Ben Geldenhuys, president van die Verkenners aan die groepie mense wat tydens die stapeling langs hom gestaan het gesê. “Ons kan nie ons mense in kassies indruk nie.”
Later Saterdagaand, om die kampvuur, het Alwyn de Klerk (hooforganiseerder van die gebeure) die slotreël van die musiekblyspel, Ons vir jou, aangehaal: “Al lyk die toekoms hoe dood – hoe donker, ’n klein kool wat gloei in die wit as van sy verlede en al wat nodig is, is ʼn klein stukkie hardehout en ʼn windjie van verandering en kyk ..hoe hoog brand daai vlamme…!”
Met eerste daglig was al wat oorgebly het van die groot stomp wat laatnag op die kampvuur gerol is, ʼn gitswart kool op ʼn groot hoop gryswit as. Met die indruk van dun houtjies onder die kool waar dit nog effens gegloei het – breek dit soos ʼn belofte in twee – en brand met ʼn bloedvlam, warm genoeg om yster te smelt!
Het as artikel op die agterblad van die Afrikaner 30 Julie – 5 Augustus 2010 verskyn.


Goeie skrywe tannie Anita, my klip le ook darm erens daar in die hoop
Comment deur Wilster — Augustus 5, 2010 @ 2:27 nm |