Uit my (“Boeremag”) – dagboek

Augustus 23, 2009

‘n Uitsonderlike Vrouegalery Augustus 2009

Filed under: 1, 2009 — ankoren @ 8:01 nm

 

 

 

Op ‘n dag, ‘n tyd gelede het ek uit die hof gekom en voor my het een van die ander vrouens vir ‘n oomblik stil gaan staan in die hek - sy het so verlore en hartseer gelyk! Ek het dadelik gedink aan ‘n ander een wat in ‘n briefie vir my geskrywe het van die groot ‘brittle’ kol binne-in haar… Die hek se pilare het vir oomblike vir my soos ‘n raam gelyk, en net daar het die gedagte by my opgekom om ‘n galery van ou meesters se werke vir my Boermag-vriendinne in die hof op te hang…

Lees verder hier

 

galery

February 25, 2009

sommer net

Filed under: 1 — ankoren @ 6:41 nm

druppel-2

February 14, 2009

Paleis jurie.

Filed under: 1, Vir Platkuif van Bosparra — ankoren @ 7:49 nm

http://www.bosparra.com/?p=7290

 

Soos die Gemaskerde Sopbeen te reg opgemerk het, is daar in hof C van die Paleis van Justisie, aan die linkerkant voor ‘n ry banke wat dwars staan. Dit was die jurie se banke in die dae wat Suid-Afrika nog ‘n Unie was. Die dag wat die ‘Boeremag’-saak begin het, was dit egter die ‘persgalery’ en het die joernaliste styf daar ingepak gesit!  In die Rapport van 25 Mei 2003 het ‘n spotprent van dr. Lets Pretorius verskyn wat ‘n goeie weergawe van die gesigte daardie dag was.

En die koerante was vol! In Mandela’s dock. Groot skare wil vermeende Boeremaglede by hof sien. Regshulp rem verraadsaak. Who’s who in the right-wing Boeremag. ‘n Onderskrif onder ‘n foto van die Paleis van Justisie wat in die lug op geneem is, in die Beeld van 20 Mei 2003 lees: “So vry soos ‘n voël – ‘n swerm duiwe vlieg oor Kerkplein in Pretoria. Diè plein is gister oorgeneem deur polisielede en ‘n skare wat wou sien hoe die 22 vermeende Boeremaglede lyk. Die hoogverraadverhoor is in die geskiedkundige Paleis van Justisie aan Kerkplein tot Maandag uitgestel.”

Motley crew squeeze into dock on treason rap:  Jare later, het ons ook dit reggekry om oor diè berig te lag, al was dit daardie tyd nie snaaks nie: “So these are revolutionaries,” begin die berig en na jare, klink dit vir my nog steeds ietwat sarkasties.  Die mees gevaarlikste kriminele in die land? vra die joernalis haarself vêrder af. Twee, beskrywe sy – met hulle ronde gesigte, kleinerige neuse en vierkantige brilglase – as sou hulle lyk “as innocuous as a pair of chipmunks.” Vir oorlede Herman Scheepers het sy met sy swart hare en netjiese snor as Saddam Hussein beskrywe – hy het nogal so gelyk. Iemand wat sy beskrywe het as sou hy soos ‘n polisie-speurder lyk en natuurlik oom Vis met sy grys baard wat soos ‘n “closet Santa Claus” lyk.

‘n Dag of wat later was dit ons vrouens se beurt – ek het dadelik vererg my Boeremag-vriendinne geskakel en gevra of gaan ons nie daarop gaan reageer nie.  Die opskrif van die berig: “Khaki fashion parade attracts camp followers”They are like schoolgirls tying to attract their boyfriends attention…They laugh and they giggle, coyly waving and some even blow kisses as the make eye contact with their husbands or boyfriends. They are the wives and girlfriends of the 22 Boeremag members charged with high treason, sabotage and terrorism for allegedly plotting to overthrow the government with the aim of proclaiming a Boer republic…. they are immaculately dressed in their Sunday best, wearing layers of make-up, accessorised with perfectly styled hair. The mood was almost jovial as the groups joked and laughed. It was as if the severity of the life sentence their loved ones potentially face if found guilty of treason wasn’t uppermost in their minds.”

Die volgende dag het ons briewe na die koerant gefaks. Een Boeremag-vriendin het gesê dat ons trots is op ons mans en vir dit waar hulle voor staan. Sy het die koerant ook gevra om nie nou al te oordeel, maar te wag en kyk wat die hof besluit. Een, wat haarself Meisiekind genoem het, het gesê dat die arrogansie in die artikel juis die sterk bande tussen familie, vriende, vrouens en meisies so beklemtoon dat dit duidelik raakgesien kan word. Ek het vir die joernalis, ‘n briefie geskrywe en haar gevra of is sy jaloers omdat daar nog steeds na van 2 tot 30 jaar van getroude lewe nog steeds ‘n vonk tussen ons en ons geliefdes te bespeur is? Haat sy ons so omdat ons onder sulke omstandighede kan lag, is sy nie dalk bang dat ons dalk op die ou einde die laaste ook sal lag? Verag sy die manne in die bank net omdat hulle nie lyk soos terroriste, waarvoor hulle uitgemaak word nie, maar eerder soos die gewone, welopgevoede manne wat hulle wel is. – Dis tog duidelik dat sy die vorige groep wat daar gestaan, as helde ag vandag.

Daardie tyd voel egter nou vir my soos ‘n ewigheid terug. Maar as ek my oë toemaak, sien ek weer hoe een van die vroue op aandag opspring, daardie eerste oomblik wat die begin van die saak was. Voor my geestesoog sien ek ook hoe al ons ander ook opstaan toe die mans van die selle onder af ingekom het, en my hele lyf slaan hoendervleis uit. Daar was ‘n gewyde stilte, soos ‘n heilige oomblik. Ek was op daardie oomblik net intens bewus van die lig wat deur die gekleurde venster bo ons geval het. Ek het geweet dat niks vir my weer dieselfde gaan wees nie… My man was omtrent ‘n maand lank in arres, op daardie tydstip ‘n jaar van te vore, toe ek een aand “wakker” geword het en opgekyk het in ‘n loodglasvenster hoog bo in die lug. Later het my man vir my vertel dat die venster in die dak vir hom ook ‘n dèavu was, aangesien hy terselfdertyd, gedurende die vorige jaar, in die Moot se polisieselle ook vir ‘n oomblik onder so ‘n venster gestaan het!

Daar was nog sulke oomblikke in daardie hof, wat my vir altyd by sal bly. ‘n Benoude oomblik soos die dag wat my naam beskuldigend deur die staat daar genoem is. Die rede was dat een van my briewe aan my man, wat by hom gekonfiskeer is, nie die tronk se stempel opgehad het nie… (Dit was in een van die vooraansoeke nog voor die saak regtig begin het). Daar was ook die dag toe Johan, of te wel JC, Smith die polisie-informant en die staat se eerste getuie deur die deur ingestap gekom het om sy getuienis te begin. Dit is ‘n oomblik wat ek agterna dikwels gewonder het, hoe het ek regtig gevoel op daardie presiese moment. Ek kan nie mooi onthou nie. Ook die dag toe Herman en Nelmarie getroud is, en ek en Esther op die trappe vir hulle gewag het. Ons het ‘n tronkkosblik vol konfetti geoes in die straat af – elke Jakarandabloeisel wat ons afgepluk kon kry!  Ons het bo gestaan en geluister hoe die ander manne uit die selle onder hulle toesing en toe Nelmarie uitkom het ons die konfetti in pers op haar laat reën. Dit was ‘n hartseer gelukkige oomblik! Ons het ons gou na die agterkant van die gebou gehaas waar Herman in die Njala sou uitkom. Ons het nog nooit so vinnig en hard gegooi, soos wat ons probeer het om ook van ons konfetti op die bruidegom te kry nie. Die Njalas het net sulke loergaatjies vir vensters. Agterna het my man my vertel dat Herman darem een blommetjie gekry het. Daardie dag het die geluid wat die Njala, met die wegtrekslag maak, my meer as ooit gepla: daardie wegtrek is ‘n geluid wat, al word ek honderd jaar, ek nooit sal vergeet nie!

Daardie joernalis het dalk meer beet gehad as wat ek op daardie stadium wou erken, en tog het ek van dag een af geweet dat hierdie nie ‘n maklike storie sou wees nie en ook nie gou sou verby gaan nie. Ek het nogal gereeld vir my een Boeremagvriendin vertel dat sy haar vir nege jaar moet gereed maak. Hoekom ek gedink het juis nege jaar? Ek weet nie, dit is maar wat by my op gekom het. Nege jaar is vir my net ‘n vreeslike lang tyd, dit is amper so lank soos tien jaar, met die verskil dat tien jaar afgebaken is in ‘n dekade. ‘n Dekade is iets: dis ‘n definitiewe tyd  – maar nege jaar wat amper net so lank is, is nie afgebaken nie. Dit is niks anders as ‘n verskriklike lang tyd nie. Ongedefinieerd soos die ses en ‘n halfjaar wat ons reeds met die saak besig is.

Net soos die Paleis ‘n plek is wat ‘n onuitwisbare indruk op my gemaak het, is die herinneringe aan die tyd wat ons dikwels daar gekom het, deel van die prentjies wat geskilder in verskillende nuanses, aan my lewensmuur sal bly hang!

February 8, 2009

13 Augustus 2008

Filed under: 1 — ankoren @ 7:09 nm

Ek sou egter eers na maande myself bymekaar kry om te antwoord, en dan as volg

Scheepers

Ek het op alles, op die draad waarna jy verwys gereageer, op daardie tydstip, maar het dit vir eers toegemaak op my rekenaar gelaat en later sommige dinge heeltemal uitgevee. Edwin behoort jou te kan vertel dat die eerste meningsverskil wat ek en hy gehad het juis was omdat ek sterk in die inverse werking van aksies, veral in politiek, glo. Toe Koos my ‘n dag of wat later vertel dat die ondersoekbeampte die skindernuus van hierdie draad baie vinnig by hom kom aandra het, het die gedagte by my opgekom dat in my geval daardie rympie van “alles wat jy sê kan teen jou gebruik word”, dalk in dié geval ook kan beteken dat alles wat ek sê kan/sal teen my man en moontlik dalk ook ander gebruik kan word. My gedagte was dalk nie so vêrgesog nie, tydens Koos se kruisondervraging deur die staat, het hulle tot dinge wat hy tien, vyftien jaar gelede geskrywe het, as bewyse teen hom probeer inbring.

Na ons huise deursoek is in Oktober 2001, het Koos alle bande met Mike en die ander ouens gebreek, net om hom in April 2002 weer in die hof te ontmoet, as mede-beskuldigde in die saak wat later as die Boeremag bekend sou raak. Ek weet nie of ek dit kan verduidelik nie, hoe Koos die Boeremag ‘verraai’ het, behalwe deur te raai hoekom die wat die beweringe maak so sê of om seker aannames te maak nie. In kort om jou vraag te antwoord het Koos gekies om homself te verweer teen die klagtes wat Staat teen hom ingebring het en sy verweer het verskil van Mike s’n. Alles behoort selfverduidelikend te wees, (tot selfs die ongelukkigheid wat daar net na Mike se getuienis onder almal geheers het), ten tye van die advokate se betoog op die einde en ek dink dit sal wys wees om maar geduldig vir daardie dag te wag.

Intussen wil ek graag op my dagboek vertel van ‘n paar interessante dinge vertel wat gebeur het in die hof die laaste tyd. Die beriggewer-lêer speel ‘n baie sentrale rol in die hele saak, soos nou al bekend is. Dit is nou die lêer waaruit JC Smith se verklaring opgestel is, soos wat sy hanteerder in die hof getuig het – Dis nou die Staatsgetuie, sup. Louis Pretorius, wie getuig het die dag wat BV se mense saam gegaan het hof toe met die vierde verjaarsdag van die saak. (Jy was nie daardie dag daar nie, of was jy?) Hy het verduidelik dat ‘n beriggewer-lêer dit is waar ‘n hanteerder alles opskrywe wat sy beriggewers aan hom rapporteer, synde persoonlik, per telefoon, of op skrif. Op grond van dié verklaring van JC is die lasbrief vir die eerste arrestasies uitgereik. Eers hoofsaaklik op ‘n klag van terrorisme, maar dit is later na die ernstige klag van hoogverraad verander. Die staatsaanklaer, mnr. Luyt, moes die hof omverskoning vra tydens Koos se kruisondervraging omdat hulle die hof so mislei het deur almal te laat verstaan dat dit alleen JC se beriggewing is wat in die lêer opgeteken is, terwyl daar meer as een beriggewer se berigte in is. Ook o.a. dat twee vergaderings wat as twee aangeteken is, as een vergadering in die hof voorgehou is, nadat ‘n staatsgetuie sy verklaring verander het. Terloops, tydens Andre se getuienis het hy ook aangetoon dat daar met die rekenaar se ondersoek, waar dokument 12(die kern van die saak) volgens die staat op gevind was, net soveel dinge is wat nie lekker klop nie. Adriaan van Wyk, (beskuldigde 4) het tydens sy getuienis ook aan die hof uitgewys dat van die handgeskrewe notas verskil van die getikte verklaring wat dan nou uit die beriggewer-lêer opgestel is, terwyl dit deur die staat as presies dieselfde voorgehou is. Adriaan(van wie daar terloops ook vertel was dat hy vir die polisie werk) het laasweek sy getuienis afgesluit, hy het volgehou dat hy in die saak ge-’frame’ is nadat ‘n aanslag op sy lewe misluk het. (Lees gerus ook Stoffel se pos #44) Vandag was Chris Streicher in die bank, net om die regter te vertel dat hy nie kans sien om te getuig nie, omdat dit net vir hom probleme sal inhou en wat hy te sê het net met sy eie saak te doen het en nie te veel in diè een sal help nie…

Ek wil jou ook graag vertel van die dag wat die Regter uitspraak gegee het op die staat se aansoek dat mevrou van der Walt, Koos se vorige advokaat moet onttrek: Ek het Mnr. Luyt, die staatsaanklaer se kop sien ruk tydens die uitspraak – Hy het met die grootste bravade gevra dat sy moet onttrek. Ek is oortuig daarvan dat hy in sy wildste drome nie gedink het dat Koos en Regter Eben Jordaan die voorstel sal aanvaar dat ‘n ander advokaat namens mev. Van der Walt die kruisondervraging mag waarneem nie. Die hele bizzare situasie het egter gelei tot een van dié beste dinge(na my mening) wat in ‘n lang tyd in die hof gebeur het. Kolonel Giel Burger, beskuldigde nr 7 het gevra om die hof toe te spreek(terloops, ek onthou dat daar in die begin jare ook ‘n storie was dat hy ook die ander ouens verraai het). Sy advokaat het dadelik beswaar aangeteken, maar Giel was onstuitbaar! Hy het vir die Regter vertel van hoe sy lewe ontwrig is deur hierdie saak, dat die Weermag hom reeds verhoor het en skuldig bevind het, en van dieselfde spelfoute in sy naam op daardie saak se papiere as in hierdie saak, dat hy binnekort sy soldy en pensioen gaan verloor, dat hy na aftree se kant toe staan en die saak hom ongelooflik frustreer. Hy het gewys op die rooi ligte wat hy sien deurdat hierdie scenario homself gaan herhaal, aangesien hy ook deur ‘n advokaat verteenwoordig word wat ander kliënte ook het, en dat daar nog ‘n advokaat en kliënte is met dieselfde opset. Hy het ook sy ernstige kommer uitgespreek oor die na bewering drie beskuldigdes wat volledig met die Staat gekonsulteer het vir 204-getuienis, maar dat dit nie deur die Staat aanvaar is nie. Hy was veral bekommerd oor die etiese aspekte verbonde daaraan. Hy het sy kommer oor die regsverteenwoordigers wat eintlik in diens van die Staat is uitgespreek en gevra dat die advokate asseblief moet saamwerk. “Al hierdie dinge tas my reg op ‘n spoedige verhoor ernstig aan”, het hy afgesluit. Later die dag het ek eenkant gesit en myself verkneukel in die situasie: As jy nou al ooit ‘n spul pikkewyne op ‘n warm plaat gesien het – advokate wat heen en weer loop en ernstig dinge bespreek – sommiges, van dieselfde advokate wat meeste van die tyd in hof sit en òf kaart speel op hul skootrekenaars òf slaap òf gesels – was so ernstig besig om te beredder dat hulle togas sulke punte in die wind agter hulle aan gestaan het…

Scheepers, ek het al baie gewonder deur die jare oor verraad – een so dag onthou ek besonder goed: Na ‘n einde-van-die-jaar-partytjie in die hof, het Koos voorgestel dat ek ‘n bakkie eetgoed na Dirk(Gerhard Smith se vriend) toe neem, wat op daardie stadium vir depressie behandeling in Weskoppies was. Ek het gedink dat Weskoppies een gebou is, maar toe ek daar kom kon niemand my vertel in watter een van die geboue, wyd verspreid van mekaar met bloekombosse tussen-in, ek Dirk se bakkie eetgoed moet afgee nie. Uit radeloosheid,(ek was toe reeds laat vir ‘n ander afspraak by my werk) skakel ek toe maar die ondersoekbeampte en vra waar moet ek soek. “Soek die plek met die hoogste, dikste muur en meeste beveiliging, jy sal hom daar kry,” was sy antwoord. Woordeliks herhaal ek toe die antwoord aan die eerste skepsel wat ek teëkom en die pad word toe noukeurig vir my beduie. Besoekers mag egter nie deur die sekuriteitshek ry nie en alles moet vooraf gereël wees voordat jy mag ingaan, daarom moes ek ‘n entjie voor die hek stop. Ek het uit die bakkie geklim en hek toe gestap. Toe ek opkyk teen die hoë muur vas, het die kleur daarvan tot in my siel geslaan. Dit was somber – grouer as grys. Tragies, het ek by myself gedink, dat Dirk agter hierdie muur moes wees. Hy kon net sowel Denmar toe gegaan het, met sy kalm kleure en vensters vol sonlig. Die gedagte het onwillekeurig by my op gekom dat een van die eerste dinge wat ek van Dirk gehoor het, was dat hy vir dr. Lets verraai het. Miskien, het ek gedink, as verraad ‘n kleur het, is dit seer en grys en grou en koud soos die muur… en miskien lyk verraad dalk anders as wat ek gedink het…

In my hoekomhok het Koos vir my verduidelik dat die regterkant van die politieke spektrum gekenmerk word deur haat en wreedheid en die linkerkant deur ‘n misplaaste altruïsme en korrupsie. Wat ook aan die regterkant lê, het ek nou al oor en oor gesien, is ‘n gewoonte om iemand wat van jou verskil as ‘n verraaier uit te kryt.

Ek wonder tog, of daar nie juis uit hierdie volslae gemors nuwe benaderings te voorskyn sal kom nie, ten opsigte waarvan ons “praktiese politiek”(met apologie aan Beert) sal kan begin pleeg nie? Ek hoop regtig so. Ek wil graag so glo. Al is dit ook hoe pynlik…. Koos het ook getuig in die hof dat ‘n bewaarder vir hulle gesnou het: al word daar nou(mei), in die xenofobiese geweld, eers swart op swart geweld gepleeg – “you whites are next!”

Groetnis
Anita.

Ns. Ek sien Cicero het meer dinge te sê gehad – o.a. “summum ius summa iniuria
Die hoogste reg is die grootste onreg.

Blog at WordPress.com.