Uit my (“Boeremag”) – dagboek

Mei 31, 2009

Uit 2007 se dagboek… oor ‘n man in browns…

Filed under: 2007 — ankoren @ 4:38 nm

soldaatjie 

 

Gedurende 2007 het Sakkie foto’s van tydskrifte van 1978 op ʼn draad op Bravoland geplaas en gevra oor wat mense onthou van die jaar 1978 en ek het nostalgies meegevoer geraak:

 

Ek het gister die draad raak gelees en later gisteraand gewonder oor 1978…

 

Dit was vir my ʼn lentejaar soos ʼn groot oop bloeisel. Ek was in standerd nege op skool in ʼn klein dorpie in die Vrystaat. Ek het gelewe vir Vrydae, want Vrydae het my Pa na skool gestop by die Poskantoor en gewoonlik was daar vir my ʼn briefie in die pos.  Dit was die jaar wat my eerste liefde sy voete gaan vind het, eers in die groot stad, maar later voor daardie jaar se einde – baie vêr weg. Ons het Sondae-aande gereeld vir mekaar geskrywe en teen Vrydae was sy brief in ons posbus.

 

Om op ʼn Vrydagmiddag plaas toe te gaan, na die week in die koshuis, was een groot fees. Daar was ʼn voorskoolse kleinboet wat nie kon wag om sy week se ontdekkings met my te deel nie, goggas, voëleiertjies, klippies… maar eintlik het dit meer gegaan daarom dat ek saans die radio op Springbok radio kon sit en by kerslig sy briewe kon lees. Die eerste ses maande van Universiteit, daarna ʼn paar maande van basies en die laaste kwartaal uit die militêre basis op Rundu. Versigtige vertellings van die bosoorlog, dikker briewe wat later ongereeld gekom het, baie meer ernstig van aard.

 

Maar, spesifiek kan ek onthou toe hy teen die einde van daardie jaar pas gekry het, so rukkie voor Kersfees, omdat hy teen Kersfees weer terug moes gaan.  Wat my veral getref het – was hoe die lyne op sy gesig verander het van die skaam matriekseun – na die sterk lyne van ʼn man s’n. Hy was mý soldaat! Dit het ʼn soort-van-hartseer wete gebring dat ek moet vrede maak dat my kaalvoet-meisiekind dae vir goed verby sal gaan. Ek het tot al hoeka agter gekom dat ek nie meer so maklik in die Moerbeiboom kom soos my boeties nie. Dit het egter ook ʼn vlindergevoel in my maag gebring wat my vertel het dat ek besig is om ʼn vrou te word… en dat ek graag een wil wees…

 

Min het ek geweet dat daar op daardie tydstip ʼn ander – nog ʼn jong soldaat – in Angola rondgeloop het… en dat hy juis toe ʼn dear-Johhny-brief sou kry… en dat hy later in ons studentedae vir altyd my hart sou steel.

 

Die dag toe Steve Hofmeyr sy monument op die sypaadjie voor die ingang van Freedom Park onthul het, was daar twee manne in “browns.” Hulle twee het my gedagtewêreld terug geplaas na daardie era. Op pad terug huis toe het ek vir my dogter probeer verduidelik van daardie tyd. Dinge onbekend in haar ervaringsveld. Van liedjies soos “Troepie-Doepie wanneer kom jy huis toe?” Van naweek pas en troepies oplaai langs die pad. Van briewe en pakkies aanstuur. Van tannie Mossie wat vir elke valskermsoldaat (soos haar oom) ʼn sent gegee het, voordat hul grens toe vertrek het. Die sent moes hul altyd aan die Bybelversie oor die mossies herinner. Die volgende dag het Blitsbreker dit oortref met ʼn skrywe wat hy op die tweede pos op die draad: Helde van Suidwes/Angola oorlog op Boerevryheid geplaas het. Daarin het hy vertel van elke een in die weermag wat ʼn held was…

 

Daar is deesdae nie veel meer klere in my man se kas nie, maar sy “browns” hang nog in ʼn netjiese ry as jy oopmaak. 1978 is vergete verby, maar ai, ʼn mansmens in “browns” sal nog altyd my hart laat tjoklits klop!

Blog at WordPress.com.