Uit my (“Boeremag”) – dagboek

Oktober 24, 2009

16-18 Oktober 2009 Herdenking van die slag van Vegkop

Filed under: 2009 — ankoren @ 7:18 nm

Verskyn in Die Afrikaner(die HNP se weekblad) 23-29 Oktober 2009.

P1060758

Wyl die son sak oor die Vrystaat se vlaktes en die lug in rooskleurige koper tooi, weer die Voortrekkerbeeld, aan die voet van Vegkop, steeds die assegaaie van sy lyf. Dit is Saterdag, 17 Oktober 2009 en die tweede dag van die herdenking van die slag van Vegkop, sowat 20 km weg van Heilbron. In die saal ʼn entjie weg, vergestalt die GK267-lede Jopie Fourie se verhaal in ʼn toneelstuk.

Die vorige aand die organiseerders van die herdenkingskamp hulself aan die kampeerders voorgestel. Gouvernements Kennisgewing no. 267(GK 267), ʼn studente organisasie van die Pukke wat hul ten doel stel om gedenkwaardighede en veral veldslae te herdenk – sodat ons erfenis vir ons kinders bewaar kan bly, maar ook om aan ons helde hulde te bring. Hul grootste beweegrede: “as jy nie weet waarvandaan jy kom nie, sal jy nie weet waarheen jy op pad is nie…”

Vroegoggend, na die opening en vlaghysing, het Jan van Zyl die gebeure wat hier afgespeel het, 173 jaar gelede, geskets. Die wonder, maar ook die vernuf waarmee omtrent 33 voortrekkermans en hul vrouens en kinders, hulself teen duisende Matabeles, verdedig het.

ʼn Kranslegging het gevolg en na ʼn besoek aan die Museum, is die koppie deur die aanwesiges bestyg. Die vlag van GK267 is geplant. Van bo af het dit helder oor die slagveld weerklink: “Dit is die lied van Jong Suid-Afrika.” “Ons sal lewe, ons sal sterwe, Ons vir jou Suid-Afrika…”Die Pukke het hul studentelied: …”want in U lig, sien ons, sien ons Die Lig” uit volle bors gesing. Barend het met die UP se lied, “…Alma Mater, bron van krag, besiel alleen tot mag…” geantwoord. Om af te sluit is die Jakaranda Cantus Gilde se lied: “Ons is trou – Jopie Fourie!” gesing.

Hierdie singery het die grondslag gelê vir die groot woordgevegte in die Cantus – wat net na die toneelopvoering sou volg. Die studente van die PUK is in getalle heelwat meer, maar TUKS se manne het besluit: “die Matabeles was ook in die meerderheid…”

Een van die GK267-lede het vroeg reeds vir oom Kruger gevra om later die aand om die kampvuur meer te vertel oor die voorgeskiedenis van Vegkop. Spesifiek oor die Liebenberg-moorde aan die Vaalrivier en die kinders wat daar ontvoer is. Geskiedenis wat aan heelwat van ons onbekend is.

Met die reënbui wat uitgesak het vroegmiddag, is op tipiese boer-maak-‘n-plan-manier besluit om die boeresport te verander na speletjies in die saal, met Neef Horst van die Handhawerjeug aan die stuur van sake.

Almal het met groot pret en vrolike deurmekaar passies, saam Volkspele gespeel.

Barend Uys, wat sy volksgesprek – soos aangetoon op die program – verander het na ʼn eenrigting-gesprek, was volgende aan die beurt. Hy het uitgelig, met ʼn enkel sin uit ʼn TV-nuusberig as voorbeeld, hoe ʼn groot sielkundige aanslag daagliks teen ons gevoer word. As ons nie die geskiedenis in harde feite gaan leer ken nie, sal ons dit nie kan afweer nie. En as ons dit ken sal ons ook besef dat ons nog altyd die morele hoë grond beklee het, en dit nog steeds met trots kan doen. “Ons is min, Ons het mense nodig om more ook die stryd te stry,” het hy gesê. Daarom moet ons die slagspreuk van Zapata om “eder op my voete te sterf as op my knieë te lewe” verwerp. Ons kan veel eder Bismarck se goeie raad volg: “Dwase sê hul leer uit eie ondervinding. Ek verkies om uit die ondervinding van ander te leer.”

Of u gedeel het in die besonderse geleentheid of nie – merk vroegtydig op volgende jaar se kalender die naweek naaste aan die 16de Oktober, om nie die volgende herdenking van Vegkop mis te loop nie!

Oktober 14, 2009

Aan ʼn ou vriend (aan die anderkant van die wêreld)

Filed under: 2009 — ankoren @ 8:30 vm

 

P1000857 

 

toe Oudok gister

die koevert uithaal

met jou nuus van vêr oorsee

het die jare tussen-in

vir oomblikke weggeval 

         

          …het ons,

          ons ideale van destyds verloor

                     of

          het ons dit net weggepak

          as tydelike behoud…

 

toe ek vandag

my hand deur die tralies,

van die besoekhokkie by C-maks,

teen die venster druk

(waar dit net-net pas)

 

wis ek opeens:

 

ons, almal,

onder die doringbome op Bokfontein  

- twee dekades gelede -

 

is reeds gemeet

 

jy,

anders -

dog

net so fel soos ons

Oktober 12, 2009

Liewe tant Dot – 4 Oktober 2009

Filed under: 2009 — ankoren @ 8:27 nm

                                        tantdot                           

4 Oktober 2009

 

 

Liewe Tant Dot

 

As kind het ek Tante se boeke verslind, en iewers in my worstel-dertigers het ek die meeste daarvan weer gelees. Dit was te lank gelede… ek sal dit tog so gou moontlik weer wil lees. 

 

Om Tante verlede week in die Boekehuis op Aardklop, te kon ontmoet was vir my baie spesiaal. Juis daar, omdat die plekkie die laaste jare vir my geraak het soos ʼn asemteug, vir die skeppende siel binne my. Tante se gesprek daar met u uitgewer, Jeanette Ferreira oor u nuutste boek Vrypas, was beslis vir my van die varstes, nog ooit!

 

Ek weet Tante het gesê dat u nie in rolmodelle glo nie – omdat u nie maklik rol nie en ander mense wat rol tog so jammer kry. Boonop het u gemeen het dat geen rolmodel mens ooit in die hemel sal kry nie, daarom wil ek Tante dan liefs ʼn inspirasie noem. Genoeg om my ook die moed te gee om die dinge te sê, wat ook ek(net soos u), nie ongesê moet laat bly nie.

 

Omdat my eie lewe deur politiek oorheers word, (my man is ʼn beskuldigde in die Boeremagsaak en reeds meer as sewe jaar agter tralies) – reken ek – ek verstaan beter as meeste ander, Tante se smag om ʼn lewendige politieke nalatingsskap agter te laat. En met u missie, om die feite in perspektief te stel, kan ek myself meer as nodig mee vereenselwig.

 

Hoe meer ek en my man in die geskiedenis saam gedelf het die afgelope sewe jaar, hoe meer het ek besef, soos u genoem het, dat ons probleme nou dieselfde is, as wat daai tyd was, maar dat daar planne was destyds – met die stigting van die Broederbond. Ek wil met u verskil dat ons nie nou ʼn plan het nie – ek het in die laaste jare ʼn paar mense ontmoet wat hulself ernstig daarmee bemoei… – ek ken selfs ʼn klomp wie se planne nie kan werk nie. Maar, u het self gesê dat ons destyds iets geskep het, wat nie was nie en ek glo ons sal dit weer doen.

 

In my hoekom-hok, (dis nou hoe ek graag die besoekhokkie by die tronk noem, omdat ek gereeld vir my man daar vra: Hoekom juis ons, hier moes beland het…?) het ons ook tot dieselfde gevolgtrekking as Tante gekom –  omdat ons nie ʼn homogene bevolking is nie – elke oplossing in die land, half reg en half verkeerd sal bly.  Ek dink ook meer mense besef deesdae, soos u genoem het, dat ons almal, wit en swart vasgevang is in die besluite wat in die verlede oor ons geneem is. Al hoe minder mense glo deesdae dat dit net ʼn versinsel is dat daar dinge gedoen is, in die verlede, om te verhoed dat die goud van Odendaalsrus tog net nie in die Afrikaners se hande moes beland nie. En nie almal kyk jou skeef aan as jy reken dat, daar ʼn gekonkel was wat gesorg het dat as Verwoerd nie met ʼn koeël kon sterf – hy ʼn dolk moes kry.

 

Vir my lê die grootste waarde van u gesprek met Jeanette Ferreira, in haar woorde waar sy die les uit Vrypas opgesom het as: ʼn Mens moet jouself help, niemand anders gaan dit doen nie!

 

Ek het my tot in my siel verkneukel vir u opsomming van die huidige situasie in ons land: Dat geen beginsels meer geld nie, net slagspreuke! Dat agtergeblewenes, agtergeblewe is omdat hulle self agter gebly het… Dat as hulle ons rassiste noem, ons hulle maar die k-woord mag toevoeg. (En nou het Tante my in die sop, want net anderdag het ek gestem dat mens liefs nie die woord moet gebruik nie…)

 

Op daardie oomblik het ek regtig besef wat u met ʼn vrypas bedoel, en vir ʼn verandering was ek ook dankbaar om ouer te word. Ek sal tog my kop laat loop oor Tante se slagspreke, en dit wyd en syd verkondig. Nes Tante beduie het – dis tyd dat ons, ons eie slagspreuke begin skree. (Ons kan – as ons wil)! Ons het ʼn geskiedenis en nie alles wat ons gedoen het, was verkeerd nie!(Hulle kan maar u boek gaan lees.)

 

Ek is seker almal wat teenwoordig was sal u antwoord op Jeanette se vraag, “Hoe bewaar mens ʼn huwelik” onthou: Dat dit ʼn geval is van of jy bly en of jy gaan, as jy bly befoeter jy jouself en as jy gaan befoeter jy nog meer. Ook die raad wat u broer u gegee het om kinders groot te maak: om nie so ‘in’ te gaan op jou kinders nie. Ons glo dat u uit ondervinding gepraat het toe u gesê het dat u strome en waterstrome deurgeloop het met die vyf kinders wat u grootgemaak het.

 

Ek is so bly oor die vrou wat vir Tante gevra het waar u sou gestaan het, sou ons ʼn feministiese beweging in Suid-Afrika gehad het. Ek dink elke vrou moet u antwoord, dat “ ʼn vrou in elk geval soveel ‘smarter’ is dat sy haarself nie hoef uit te gee nie”, in haar boekie van lewenswaarhede opteken.  

 

Tante se skrywersraad dat ʼn boek so is dat as jy te veel in sy pens laai, sy bene dit nie kan dra nie, sal ek voortaan ingedagte hou. Ook dat mens moet skrywe, want, ‘iets’ in jou neem vorm aan.

 

Wat ek altyd sal onthou is Tante se gedagte dat as jy regtig skryf – jy ʼn eenling bly. So ook die vereistes wat u daarvoor stel: dat mens eensaamheid moet kan hanteer, maar jouself nie los moet maak van ander nie. Eensaamheid het ek maar werklik leer ken, nadat my man tronk toe en ons kind Universiteit toe is. Ek is nie soos Tante ʼn derde kind nie, wat u so mooi saam vat as: NIE die goeie nuus van die eerste een en ook NIE die laaste hoop van die laaste ene nie. Ek was wel die eerste een, maar omdat daar ʼn verskil van vyf jaar tussen my en die eerste broer na my is, het ek ook maar in ʼn mate op my eie my ding leer doen, net soos u. Van kleinsaf weet ek, soos Tante noem: dat mens in die beste geselskap in die wêreld is as op jou eie is, want dan gesels jy met jouself.  

 

Tante is nie die enigste een vir wie die sitplekke in die Boekehuis te min was nie. (Hoewel, van dié besprekings wat ons bygewoon het, het daar by u praatjie  by verre die meeste mense gestaan vir wie daar nie sitplek was nie, nádat hulle nog stoele ingedra het…)  Met die trappie af, by die Boekehuis uit het ek vir my ma vertel dat dit my hartewens is om soos u te kan skrywe, want dan sou ek verseker weet dat ek suksesvol sal wees. Dit het ek gemeet in die feit dat daar nét soveel mans, as vrouens, na u boekbespreking kom luister het!

 

Ek dink nie Jeanette Ferreira kon die gesels met u, meer vanpas afgesluit het, as om na die boek Vrypas in ʼn gebroke wêreld te verwys as “die produk van ʼn heel mens nie.”

 

 

Mag daar vir Tante nog oorvloedig vreugde wees.

 

Groete

Anita

 

Ns. Ek móés net die briefie vir Tante skrywe, want ek is eintlik ook net ʼn kaalvoet kind van die Vrystaat af, verknog aan my mense en van kleinsaf droom ek om ook te kan skrywe…

Augustus 23, 2009

‘n Uitsonderlike Vrouegalery Augustus 2009

Filed under: 1, 2009 — ankoren @ 8:01 nm

 

 

 

Op ‘n dag, ‘n tyd gelede het ek uit die hof gekom en voor my het een van die ander vrouens vir ‘n oomblik stil gaan staan in die hek - sy het so verlore en hartseer gelyk! Ek het dadelik gedink aan ‘n ander een wat in ‘n briefie vir my geskrywe het van die groot ‘brittle’ kol binne-in haar… Die hek se pilare het vir oomblike vir my soos ‘n raam gelyk, en net daar het die gedagte by my opgekom om ‘n galery van ou meesters se werke vir my Boermag-vriendinne in die hof op te hang…

Lees verder hier

 

galery

Augustus 13, 2009

11 Augustus 2009 – Meimaand en die Boeremagsaak.

Filed under: 2009 — ankoren @ 10:45 vm

Intressant genoeg het daar meer dinge gedurende Meimaand gebeur in die Boeremagsaak in die ses jaar wat die saak besig is, as in enige ander maand….

lees hier

Junie 7, 2009

29 Mei 2009 …vir ‘n ‘Boeremag’-vriendin

Filed under: 2009 — ankoren @ 7:04 nm

gesiggie

Junie 4, 2009

‘n Dankiekaartjie… na ‘n rowwe Mei

Filed under: 2009 — ankoren @ 9:31 vm

vriend

Mei 31, 2009

Aan ‘n vriend

Filed under: 2009 — ankoren @ 4:43 nm

vr willem

Ouma se panorama

Filed under: 2009 — ankoren @ 1:55 nm

Ouma(my skoonma) het die mooiste skildery gemaak van die panorama wat mens groet as jy uitstap by haar agterdeur…

031

Sy vertel my dat iemand eendag gesê het dat as daar ooit ‘n mens die vermoë gehad het om die natuur te slyp op ‘n doek soos  ‘n diamant, dit Pierneef was.

Hierdie was haar probeer om hom na te doen, en dit is vir my prentjie mooi!

Mei 20, 2009

19 Mei 2009 – Die Boeremagsaak se sesde verjaarsdag

Filed under: 2009 — ankoren @ 7:44 vm

Wat de ‘heck’?    is diè dag se storie…

dankie 6 verjaar

Volgende Blad »

Blog at WordPress.com.