Uit my (“Boeremag”) – dagboek

Mei 31, 2009

Tussen Mis en Vermis… 30 Nov 2008

Filed under: Vir Platkuif van Bosparra — ankoren @ 3:01 nm

Platkuif het weggespring met ‘n groot geldinsamelveldtog vir Missing Children South Africa, maar het gou die wind van voor gekry….

 

mis 30 November 2008

Dagsê Platkuif

Vroeg een oggend laas week, dit was nog skemerpienk in die lug, het die stropers begin keelskoon maak in die oop stukkie veld hier voor die huis. In hierdie geweste was die koring klaar gestroop. Die logge vreet-monsters, wat so breedvoet oor die pad loop, het gereed gemaak om aan te skuif, terug Vrystaat toe…

Die geluid van die stropers het my laat terugdink aan ʼn toneeltjie wat ek gedurende my laaste hoërskooljare, vanaf die koshuis se voorstoep, ʼn hele paar maal gade geslaan het. Dit het hom afgespeel in ʼn baie klein dorpie in die Oos-Vrystaat. Daardie jare was een van die land se grootste stroopkontrakteurs se werkswinkel in die hoofstraat skuins oorkant die Korporasie geleë. Die Hoërskool-koshuis, soos die Garage, Kafee, die Landdroskantoor(met die Polisiestasie direk daar agter), die Algemene Handelaar, die Poskantoor en Sentrale, Volkskas- en Barclays-banke was alles in dieselfde straat. Dit is trouens net die Hotel, Drankwinkel en die Kerk wat in die kruisstraat geleë is.  Die teerpad het opgehou presies net waar die eerste straatblok begin. Die strate was nie geteer nie. Dit het wel later jare so ʼn gebrekkige lagie teer bo-oor gekry. (Dié het egter so verbrokkel dat die state nou minder rybaar is, as daardie jare se stofstrate).

Soos in alle klein dorpies het daar teen skemertyd altyd so ʼn stilte oor die dorp kom hang en die aankomende stropers was dus duidelik hoorbaar. Entourage en al! Al wat ʼn jongeling is van die swart woonbuurt voor jy die dorp binnekom, het agter die stropers aan gestreep. Al jillende en gillende! Menigte met die nodige instrumente daarby: stokke wat teenmekaar gekap word en sulke draadkar-gedoentes – ʼn lang stuk draad wat skuins tot op die grond bykom, met die agterkant in ʼn handvatsel gebuig en aan die voorkant ʼn blikkie-wiel. Dit is dan vooruit gestoot op ʼn stywe draffie en met die rol van die blik was die geklingel daar. Sommiges het ʼn stokkie by gehad wat met die omdraaislag teen die blikkie kon tik of klippies binne-in – alles vir die nodige akoestiese effek.

Daardie kontrakteur se groot geel stropers was gewoonlik vir maande aanmekaar weg en het so in sarsies van twee of meer teruggekeer. Hul moes seker ook op ander tye van die dag aangekom het, maar dié in my herinneringe is die wat saans gekom het. Ek het dikwels gewonder waaroor die opgewondenheid werklik gegaan het. Die geld wat die man op vêr onbekende paaie gaan verdien het en nou huis toe gebring het, het seker ʼn integrale rol gespeel. Ek glo egter nie dit was al nie. Die vreugde sou ook met kinderlike opregtheid gewees het oor ‘iemand van ons’ terug gekom het. Boon-op het daardie pa, oupa of oom stories saamgebring van vreemde mense, nuwe ervarings en ʼn ander wêreld by die teerpad verby.

Ek kon my altyd verkyk aan al die onverbloemde vreugde van die toneeltjie – wat net so wel die tuiskoms van die stropers – kon geheet het. Jare later ervaar ek nog so opgewonde tinteling deur my as ek die stropers se dreuning hoor, al woon ek nou vêr van daar. Dit bring altyd die gedagte saam: as iemand weg was en terug kom is dit net vreugde…
…maar as iemand weg is, mis jy daardie persoon…

Ek het gewonder hoekom gebruik ons juis die woord mis of te wel vermis? Praat ons in ons slegte Afrikaans-mengelmoes-taal van iemand of iets “missing” in jou lewe. Sing ons “…ek mis jou so…”

ʼn Boek uit my boekrak, Skryf Afrikaans van A tot Z, verduidelik dit as volg: mis x vermis: Die verskil tussen die twee werkwoorde kom daarop neer dat mis gebruik word wanneer mens na iets verlang of iets nie vind waar dit verwag of hoop om dit te vind nie: bv. Ek mis my kind…Vermis: Wanneer jy agterkom dat dinge of mense weggeraak of soek geraak het” bv. drie stappers word vermis…”(ʼn kind wat vermis word, word nie as opsie gegee nie…) My woordeboek verduidelik mis as werkwoord: “sonder iets klaar kom, ontbeer” As bywoord beteken mis: “verkeerd” Mis- as “ eerste woorddeel in samestelling wat beteken: verkeerd, ontkennend, teenoorgesteld, nie treffend nie.” Vermis weer as werkwoord: “merk dat iets afwesig of nie teenwoordig is nie.” Vermis as bywoord: “weg, wegraak, verdwene.” Vermiste(s) is ʼn persoon of persone wat spoorloos verdwyn het, wat nie teruggekeer het of gevind is nie”

Maar, dan is daar ook mis – sigbare waterdamp. In die natuur is dit ʼn pragtige verskynsel. Tog is dit nie iets waarin mens jou graag bevind nie. Hoe kan mens nie in mis verdwaal nie? Hoe min kan jy nie sien nie? Hoe onseker raak mens nie van jouself nie? Die ergste van alles vir my is, wanneer ek myself op ʼn vreemde plek in die mis bevind. Dit voel altyd vir my of daar ʼn afgrond moet wees net daar waar ek ophou om te sien. Dit is vir ʼn gevoel wat angswekkende vir my dieselfde is: om iemand te mis en myself in die mis te bevind.

Van vermis hoop ek om nooit te leer nie, maar ek kan jou ʼn stukkie vertel van iemand te mis. Of altans daar waar die klap van ʼn tronkdeur my gelaat het, ʼn stasie tussen mis en vermis. In die begin na my man opgesluit is, is ek gedurig aan die gemis herinner deur die plek aan tafel wat leeg is, die kant van die bed waarin nie geslaap word nie en ʼn stem wat ek verwag om te hoor, maar wat stil is. Ek het verwag dat ek dit later sou gewoond raak, tog het die gemis vir my soveel erger geraak dat ek met rukke nie geweet het hoe om dit te hanteer nie en soos een verdwaal in die mis bang was vir afgronde rondom my. Die gemis het in ʼn gebasterde vermis verander – omrede sy ‘nie-teenwoordigheid’ na ses en sewe maande nog steeds nie in terme van tyd vasgestel is nie. Dit kan dalk nog jare duur voordat hy ‘terug kan keer’. Selfs al probeer ek my bes, kan ek nie werklik verstaan van die geslote wêreld waarin hy homself bevind nie, en is hy dus uit my alledaagse wêreld ‘weg’ vir my.

Die ergste van jouself op daardie stasie te bevind is dat mens so mis-kombersie met jou saamdra. Hoe meer jy dit probeer wegsteek, hoe meer word dit sigbaar aan almal, asof daar permanent ʼn lig daarop skyn. Na ʼn onlangse besoek aan die tronk, klim daar ʼn man by die vroue-afdeling in die kombi skuins voor my in. Ek sien dadelik raak hoe hy met homself spook om daardie wêreld van die besoekhokkie waar hy nou net in was, van hom af te skud. Maar, soos ʼn miskombers kleef dit hom aan – hy is nie gebore in staat om dit af te gooi nie. Ek wil my hand op sy skouer sit, maar ek weet uit ondervinding dat so ʼn gebaar dit net vir hom nog moeiliker sal maak. Ek wil hom vertel dat ʼn mens dit moet agterlaat – daardie mis-wêreld van die tronk! Los jy dit nie net daar nie, kan jy nie in die werklikheid van die genadelose sonskyn wêreld daar buite funksioneer nie. Daar moet jy teen ʼn verbysterende spoed byhou en deug deur die mis-wees wat tronkbesoeke jou bring, doodeenvoudig net nie. Dit is iets wat jy moet aanleer, in die begin is dit uiters moeilik. Later, al het jy dit bemeester, vang dit jou soms nog onverhoeds. Dit kom hang soos ʼn mis-kombers, gewoonlik wanneer jy dit die minste kan bekostig, om jou – vir almal om te sien – op ʼn stasie tussen mis en vermis…

Dit is die ergste as iemand uit jou lewe weggeruk word, die feit dat die wêreld vir jou stil gaan staan en vir die res aanhou beweeg. So ʼn gebeurtenis kan soos ʼn ontydige stroper deur die lande van jou lewe kom dreun en jou voor die voet van alles stroop. En as daardie stroper keel skoonmaak en vertrek, laat dit jou verdwaal in die mis…

Dit is my ervaring van om iemand te mis – jy mag dalk dink dis uit plek uit om dit met vermis te vergelyk – ek weet dis nie naastenby so erg nie…

Om te besef jou kind word vermis
KAN ek my nie indink nie
DIT moet ʼn erge hel wees…

Maar, op my stasie het ek tog ʼn klein stukkie meer, as Jan Alleman, daarvan geleer ken. Uit ondervinding weet ek dat ander mense en hulporganisasies wat bo die mis kan sien, en met praktiese hulp jou hand kan vat en die nodige fondse het om dinge te doen, soos vlerkelose engele in jou lewe is.

Daarom moes ek jou net sê:
Moedhou en vasbyt met jou poging om geld in te samel vir die MISSING CHILDREN-projek!

Groetnis

February 14, 2009

Paleis jurie.

Filed under: 1, Vir Platkuif van Bosparra — ankoren @ 7:49 nm

http://www.bosparra.com/?p=7290

 

Soos die Gemaskerde Sopbeen te reg opgemerk het, is daar in hof C van die Paleis van Justisie, aan die linkerkant voor ‘n ry banke wat dwars staan. Dit was die jurie se banke in die dae wat Suid-Afrika nog ‘n Unie was. Die dag wat die ‘Boeremag’-saak begin het, was dit egter die ‘persgalery’ en het die joernaliste styf daar ingepak gesit!  In die Rapport van 25 Mei 2003 het ‘n spotprent van dr. Lets Pretorius verskyn wat ‘n goeie weergawe van die gesigte daardie dag was.

En die koerante was vol! In Mandela’s dock. Groot skare wil vermeende Boeremaglede by hof sien. Regshulp rem verraadsaak. Who’s who in the right-wing Boeremag. ‘n Onderskrif onder ‘n foto van die Paleis van Justisie wat in die lug op geneem is, in die Beeld van 20 Mei 2003 lees: “So vry soos ‘n voël – ‘n swerm duiwe vlieg oor Kerkplein in Pretoria. Diè plein is gister oorgeneem deur polisielede en ‘n skare wat wou sien hoe die 22 vermeende Boeremaglede lyk. Die hoogverraadverhoor is in die geskiedkundige Paleis van Justisie aan Kerkplein tot Maandag uitgestel.”

Motley crew squeeze into dock on treason rap:  Jare later, het ons ook dit reggekry om oor diè berig te lag, al was dit daardie tyd nie snaaks nie: “So these are revolutionaries,” begin die berig en na jare, klink dit vir my nog steeds ietwat sarkasties.  Die mees gevaarlikste kriminele in die land? vra die joernalis haarself vêrder af. Twee, beskrywe sy – met hulle ronde gesigte, kleinerige neuse en vierkantige brilglase – as sou hulle lyk “as innocuous as a pair of chipmunks.” Vir oorlede Herman Scheepers het sy met sy swart hare en netjiese snor as Saddam Hussein beskrywe – hy het nogal so gelyk. Iemand wat sy beskrywe het as sou hy soos ‘n polisie-speurder lyk en natuurlik oom Vis met sy grys baard wat soos ‘n “closet Santa Claus” lyk.

‘n Dag of wat later was dit ons vrouens se beurt – ek het dadelik vererg my Boeremag-vriendinne geskakel en gevra of gaan ons nie daarop gaan reageer nie.  Die opskrif van die berig: “Khaki fashion parade attracts camp followers”They are like schoolgirls tying to attract their boyfriends attention…They laugh and they giggle, coyly waving and some even blow kisses as the make eye contact with their husbands or boyfriends. They are the wives and girlfriends of the 22 Boeremag members charged with high treason, sabotage and terrorism for allegedly plotting to overthrow the government with the aim of proclaiming a Boer republic…. they are immaculately dressed in their Sunday best, wearing layers of make-up, accessorised with perfectly styled hair. The mood was almost jovial as the groups joked and laughed. It was as if the severity of the life sentence their loved ones potentially face if found guilty of treason wasn’t uppermost in their minds.”

Die volgende dag het ons briewe na die koerant gefaks. Een Boeremag-vriendin het gesê dat ons trots is op ons mans en vir dit waar hulle voor staan. Sy het die koerant ook gevra om nie nou al te oordeel, maar te wag en kyk wat die hof besluit. Een, wat haarself Meisiekind genoem het, het gesê dat die arrogansie in die artikel juis die sterk bande tussen familie, vriende, vrouens en meisies so beklemtoon dat dit duidelik raakgesien kan word. Ek het vir die joernalis, ‘n briefie geskrywe en haar gevra of is sy jaloers omdat daar nog steeds na van 2 tot 30 jaar van getroude lewe nog steeds ‘n vonk tussen ons en ons geliefdes te bespeur is? Haat sy ons so omdat ons onder sulke omstandighede kan lag, is sy nie dalk bang dat ons dalk op die ou einde die laaste ook sal lag? Verag sy die manne in die bank net omdat hulle nie lyk soos terroriste, waarvoor hulle uitgemaak word nie, maar eerder soos die gewone, welopgevoede manne wat hulle wel is. – Dis tog duidelik dat sy die vorige groep wat daar gestaan, as helde ag vandag.

Daardie tyd voel egter nou vir my soos ‘n ewigheid terug. Maar as ek my oë toemaak, sien ek weer hoe een van die vroue op aandag opspring, daardie eerste oomblik wat die begin van die saak was. Voor my geestesoog sien ek ook hoe al ons ander ook opstaan toe die mans van die selle onder af ingekom het, en my hele lyf slaan hoendervleis uit. Daar was ‘n gewyde stilte, soos ‘n heilige oomblik. Ek was op daardie oomblik net intens bewus van die lig wat deur die gekleurde venster bo ons geval het. Ek het geweet dat niks vir my weer dieselfde gaan wees nie… My man was omtrent ‘n maand lank in arres, op daardie tydstip ‘n jaar van te vore, toe ek een aand “wakker” geword het en opgekyk het in ‘n loodglasvenster hoog bo in die lug. Later het my man vir my vertel dat die venster in die dak vir hom ook ‘n dèavu was, aangesien hy terselfdertyd, gedurende die vorige jaar, in die Moot se polisieselle ook vir ‘n oomblik onder so ‘n venster gestaan het!

Daar was nog sulke oomblikke in daardie hof, wat my vir altyd by sal bly. ‘n Benoude oomblik soos die dag wat my naam beskuldigend deur die staat daar genoem is. Die rede was dat een van my briewe aan my man, wat by hom gekonfiskeer is, nie die tronk se stempel opgehad het nie… (Dit was in een van die vooraansoeke nog voor die saak regtig begin het). Daar was ook die dag toe Johan, of te wel JC, Smith die polisie-informant en die staat se eerste getuie deur die deur ingestap gekom het om sy getuienis te begin. Dit is ‘n oomblik wat ek agterna dikwels gewonder het, hoe het ek regtig gevoel op daardie presiese moment. Ek kan nie mooi onthou nie. Ook die dag toe Herman en Nelmarie getroud is, en ek en Esther op die trappe vir hulle gewag het. Ons het ‘n tronkkosblik vol konfetti geoes in die straat af – elke Jakarandabloeisel wat ons afgepluk kon kry!  Ons het bo gestaan en geluister hoe die ander manne uit die selle onder hulle toesing en toe Nelmarie uitkom het ons die konfetti in pers op haar laat reën. Dit was ‘n hartseer gelukkige oomblik! Ons het ons gou na die agterkant van die gebou gehaas waar Herman in die Njala sou uitkom. Ons het nog nooit so vinnig en hard gegooi, soos wat ons probeer het om ook van ons konfetti op die bruidegom te kry nie. Die Njalas het net sulke loergaatjies vir vensters. Agterna het my man my vertel dat Herman darem een blommetjie gekry het. Daardie dag het die geluid wat die Njala, met die wegtrekslag maak, my meer as ooit gepla: daardie wegtrek is ‘n geluid wat, al word ek honderd jaar, ek nooit sal vergeet nie!

Daardie joernalis het dalk meer beet gehad as wat ek op daardie stadium wou erken, en tog het ek van dag een af geweet dat hierdie nie ‘n maklike storie sou wees nie en ook nie gou sou verby gaan nie. Ek het nogal gereeld vir my een Boeremagvriendin vertel dat sy haar vir nege jaar moet gereed maak. Hoekom ek gedink het juis nege jaar? Ek weet nie, dit is maar wat by my op gekom het. Nege jaar is vir my net ‘n vreeslike lang tyd, dit is amper so lank soos tien jaar, met die verskil dat tien jaar afgebaken is in ‘n dekade. ‘n Dekade is iets: dis ‘n definitiewe tyd  – maar nege jaar wat amper net so lank is, is nie afgebaken nie. Dit is niks anders as ‘n verskriklike lang tyd nie. Ongedefinieerd soos die ses en ‘n halfjaar wat ons reeds met die saak besig is.

Net soos die Paleis ‘n plek is wat ‘n onuitwisbare indruk op my gemaak het, is die herinneringe aan die tyd wat ons dikwels daar gekom het, deel van die prentjies wat geskilder in verskillende nuanses, aan my lewensmuur sal bly hang!

February 10, 2009

Paleis van Hoogverraad

Filed under: Vir Platkuif van Bosparra — ankoren @ 12:27 nm

Dagsê Platkuif

In die begin was die “Boeremag” so baie in die nuus, dat ek myself byna bankrot aan koerante gekoop het. Na ‘n tyd het mense my dikwels gevra of gaan daar dan niks aan met die saak nie, want hulle lees niks daarvan in die koerante nie. Onlangs was die saak egter weer in die nuus, met Barend Strydom wat vir Adriaan van Wyk die vierde beskuldigde in die saak kom getuig het. In werklikheid gaan die saak nog dag vir dag aan, behalwe in resestye en wanneer daar om ‘n rede deur iemand gevra word dat dit moet afstaan. Dit kos die Staat reeds al miljoene en die oorkonde(elke dag se getikte rekord van alles wat gesê is) alleen is al meer as 32 500 bladsye.

Vyf jaar gelede, op 19 Mei 2003, het ons vroegoggend al bibberkoud gestaan op die trappe van die Paleis van Justisie, om verseker te wees van ‘n plek in die kleine hof C. Dit was ‘n dag vol vertoon - hierdie jaar was dit net ‘n doodgewone dag wat verby gegaan het. Daar was ‘n berig oor TV2 se nuus ‘n paar dae vantevore en ‘n radio onderhoud, ‘n dag na die tyd, met een van die regsverteenwoordigers, Paul Kruger oor Radio Pretoria. ‘n Opmerking van die advokaat wat besig was met kruisondervraging in die hof, dat dit die vyfde verjaarsdag van die saak is, is deur Regter Eben Jordaan met sy kenmerkende “O…” beantwoord.

 

Die naweek voor die 19de Mei deser het ek saam met ‘n vriendin by haar Pa in die Bosveld gekuier. Op sy koffietafel het daar ‘n boek gelê wat dadelik my aandag trek het: Die hof verdaag -  deur Kees van Dijkhorst.(‘n Afgetrede advokaat, regsdosent en senior regter van die Transvaalse Hooggeregshof). Daarin is ‘n interessante stukkie geskiedenis oor die Paleis van Justisie. Vanaf die eerste dag fassineer die plek my: Ek sal die gevoel van die gebou toe ek die eerste keer daar in gestap het, nooit vergeet nie. Dit is ‘n uitsonderlike plek. Omdat ek in myself begin twyfel het of ek reg onthou hoe die plek lyk, het ek laasweek weer terug gegaan, en vir ‘n wyle in die portaal gaan sit. Daar is iets oorweldigends aan die atmosfeer daar binne. Waar ek muisstil op een van die banke gesit het, met my oë beurtelings op die loodglasvensters en die figuurbelaaide koepel in die dak, het die trane vanself oor my wange begin loop. Miskien voel ek so omdat elke herinnering daar binne vir my emosie belaai is, het ek gedink. Maar, dalk lê daar op ‘n metafisiese vlak baie ander mense se emosies ook vasgevang tussen hierdie dakvensters, die patroontjie-vloere en glimmende houtwerk. Enige iemand anders, met ‘n fyn aanvoeling, behoort dit ook met die intrapslag aan te voel.

Ek het altyd gedink dat daar besluit was om die “Boeremag”-saak in die Paleis van Justisie te hou, omdat die Rivonia-saak daar was. Nadat ek die vertelling van Dijkhorst gelees het, is dit vir my duidelik dat die saak net nie op enige ander plek in die land kon begin het nie, as juis in die Paleis nie. Die plek se hele geskiedenis draai rondom hoogverraad, of beweerde hoogverraad en geskiedenis het mos ‘n manier om homself te herhaal!

In kort is van Dijkhorst se stukkie geskiedenis as volg, (meeste is woordeliks aangehaal):
“Gedurende 1882 het die Volksraad besluit om nie meer ander geboue te huur nie, en het die Hof weer sitting gehou in een of meer van die vertrekke van die Goewermentsgebou waarin die Volksraad ook gesit het. Die gebou was te klein om groot sake te akkommodeer en die 64 lede van die Reform Committee, die room van Johannesburg se society, het op aanklag van hoogverraad tereg gestaan in die Marksaal, waar die huidige Strjidomplein geleë is. Die beskuldigdes het saamgesweer ter ondersteuning van die Jameson inval. Die verhoor is gehou in April 1896 en die vier leiers is skuldig bevind aan crimen laesae maiestatis en benewens gevangenisstraf van twee jaar en verbanning van drie jaar met £ 2 000 elk beboet. Wat veral opspraak verwek het was die gerug dat die balk wat Kommandant Henning Pretorius saamgebring het na ‘n besoek aan Bedford in die Kaapkolonie en wat vroeër deel was van die galg wat te Slagtersnek gebruik is, aangewend sou word om die rebelle aan op te hang, as daad van geskiedkundige geregtigheid. Die vier is later begenadig en elk met £ 25 000 beboet en die res se gevangenisstraf en verbanning is opgehef. Die totale boetes was die dubbeld die boukoste van die Paleis van Justisie en dit is seker nie vêrgesog nie om te vermoed dat die Agbare President laasgenoemde in gedagte gehad het toe hy sy voorwaardes vir begenadiging vasgestel het.

Die terrein waarop die Paleis van Justisie gebou is, was vroeër die eerste woonplek van Kommandant-Generaal Marthinus Wessel Pretorius en het later ‘n staatskool, kantoortjie van die mynkommissaris en pastorie van Ds AJ Begeman bevat. Die geboue is gesloop ten einde met die bouwerk te kan begin. Soos alle boubedrywighede was daar probleme. Die sandsteen se kwaliteit was swak en dit is verwerp. Sandsteen moes vanaf Vereeniging aangery word. Daar was ‘n tekort aan bakstene. Twee keer het die klipmesselaars werk gestaak en die terrein verlaat.

Die Kommandant-Generaal sou die hoeksteen lê maar die regters het beswaar gehad daarteen en President Kruger het dit toe gedoen op 8 Julie 1897. Die werk is vertraag deurdat die regering in 1898, terwyl die werk reeds meer as twee jaar aan die gang was, ter elfder ure besluit het om nog ‘n vêrdere verdieping by te voeg. Toe die Tweede Vryheidsoorlog uitbreek was die gebou nog nie voltooi nie. Na die Britse besetting op 5 Junie 1900 is die Paleis van Justisie gebruik as die “Irish Hospital” Met Lord Roberts se vertrek uit Pretoria is daar ‘n konsert gehou met twee dokters as soliste. Eers in 1902 het die gebou sy funksie as geregshof begin vervul.

Die Paleis het algaande te klein geword al is in 1965 kantoorvertekke op verskillende vloere verander en verbreek om plek te maak vir klein hofsale. Die Sinagoge is van tyd tot tyd ingespan wanneer ‘n marathon-saak gedreig het om die verloop van sake by die Paleis te ontwrig. Die bekendste strafsaak wat daar verhoor is, is die hoogverraadsaak teen 91 leiers van die Congress Alliance wat in 1956 begin het en jare geduur het. Uiteindelik is almal, waaronder Nelson Mandela, vrygespreek.

Die paleis van Justisie het ‘n sentrale rol gespeel by Republieke wording. Op 31 Mei 1961 het die eerste staatspresident CR Swart sy rede vanaf die balkon gelewer, terwyl trietsige reën probeer het om die entoesiasme te demp.

In 1975 het die Minister van Justisie beslis dat die Paleis van Justisie vir die Hooggeregshof behou moet word en dat ondersoek ingestel moet word na die moontlikheid om ‘n terrein op die hoek van Paul Kruger- en Vermeulenstrate aan te wend vir ‘n gebou wat dan oorhoofs met ‘n brug of deur middel van ‘n tonnel met die Paleis verbind is.”

Volgens Dijkhorst het “interessante graffiti verlore geraak deur dat die selle onder die gebou van tyd tot tyd uitgeverf is. In 1989 was daar nog Umkhonto We Sizwe slagspreuke en die name van bekendes op die mure uitgekrap, onder andere die Delmas Treason Trialists. Andere het agter hul name hul vonnisse aangeteken. In 1989 is begin met die bouwerk aan die Nuwe Hooggeregshof op die noordwestelike hoek van Paul Kruger- en Vermeulenstrate, Pretoria.”

Die ‘Boeremag’-saak was egter net vir ‘n paar maande in die Paleis van Justisie, want die hof daar is baie ongerieflik. Klein, swak verlig en met die swakste akoestiek! Ek wonder hoe het hulle in die ou dae hofsake daar aangehoor, of het ons gehoor verswak oor die gedurige lawaai waarin ons lewe? Dr Lets Pretorius het in sy boek van die Boeremag-sage ‘n paar spotprente daaroor geteken. Een nadat die regter spottenderwys gesê hulle moet ’saamsweer’ om die saak na die Hooggeregshof aan die anderkant van die straat verskuif te kry. ‘n Ander een waar die assessore vir die regter lanterns vashou sodat hy “lig op die onderwerp” kan hê.

Die nuwe Hooggeregshof in Vermeulenstraat is nou die gebou wat gereeld op die TV-nuus gewys word. Daar worstel ons manne nog steeds voort dag vir dag. Dit sal seker so bly(soos dit vir my lyk) ten minste tot die einde van volgende jaar!

… intussen kan ek darem nie kla oor ‘n vervelige lewe nie en droom ek elke dag van die dag wat my man by daardie deur uit sal stap…

Groetnis
Ankoren

Ns. Ek merk interessantheidshalwe op dat die beskrywing onder regter Ngoepe(1998- ) se borsbeeld wat daar staan saam met die van oud-regter CF Eloff(1991-1998) en hoogedele agbare Jacob de Villiers(Unie van SA) nog steeds die Hooggeregshof van TRANSVAAL is!
Uit ‘n Pretoria News van 2003 het ek hierdie pragfoto van die Paleis van Justisie gebêre.

 

paleis-van-jusitsie

 

 

 

  

 


February 8, 2009

11 Augustus 2008

Filed under: Vir Platkuif van Bosparra — ankoren @ 7:13 nm

Nadat Platkuif weereens gevra het skrywe ek oor ‘n melodie van ‘n tronkdeur

11 Augustus 2008

Platkuif

Ek is jammer dat ek so lanklaas van my laat hoor het, maar ek het so bietjie in die laaste tyd my wysie verloor!

‘n Tyd gelede, terwyl ek vir ‘n voorskrif wag, kyk ek na die afgemerkte parfuum in die apteek, en toetsspuit die een aan. “Het jy die fliek gesien?” vra ek vir Lucy. “Seren-in-dipitp-e-ty, soos altyd knoop my tong oor die woord, “ek meen Serendipity. Die storie gaan daaroor om toevallig iemand raak te loop en iets so waardevols soos liefde te ontdek” “Nee, ek kyk nie na flieks nie,” antwoord sy. “Hoekom nie, ek is mal oor ‘love stories’ soos diè een.” “Hoekom martel jy jouself so?” wil sy weet (- sy weet, sy het ook die pad gestap). “Nee wat, dis nie altyd ‘n marteling nie, ek kyk dat ek kan weet hoe – ek is mos besig om my eie ‘love story’ te skrywe,” lag ek.

Later is die TV-reeks  “Song vir Katryn ‘ op die kassie. Die eerste keer wat Katryn vir haar Ma in die tronk gaan kuier het, het ek eintlik besluit ek gaan nie weer na die storie kyk nie. Want sommige dinge pla mens meer as wat jy wil erken. Een daarvan is die klap van ‘n tronkdeur en dit is iets waarna ek nie in my eie sitkamer kan luister nie. Maar, later sing Jinx: die melodie van jou lewe, is op ‘n vals snaar geskrewe… Ek kyk toe wel na elke episode -  meer oor die song as die storie en elke keer op die kassie en in C-maks klap die tronkdeur my onderstebo. Wyl Jinx sing: jou oë die weerkaatsing teen ‘n muur van klip, van yster en pyn -  die deure van ‘n sel en gebarste gebede begin ek soos Katryn woon in die kamers van ‘n donker verlede( hede, in my geval) sonder deure, sonder vensters wat na buite kan sien en drome en wense en wonde en woorde - maar, Katryn het ‘n song – ek sukkel met ‘n kakofonie.

 

Tog begin ek so langsamerhand met ander oë na die melodie van ‘n tronkdeur luister - tot ek dit amper vir jou op die notebalk kan neerpen. Dit begin met ‘n stadige tempo terwyl jy staan en wag vir die bewaarder met die sleutel. Die sleutels rinkel sag teen mekaar, maar as dit in die slot kras is dit onmiddellik hard – fortissimo. ‘n Noot of twee vêrder kom dit teen jou aangeslaan as daardie slot oop of toe ruk. Dis ‘n ‘klak’ wat in ‘n enkel noot in jou murg kom sit. Dis die klank van verloor, wat ‘n letsel op jou siel laat. Ek sien ook hoe almal wat saam met my voor die deur staan, na die melodie luister. Is dit ‘n kind van jou agter daardie slot; (kan jy saam met my in die Ma en Pa se oë kom kyk) is dit ‘n liedjie sonder ‘n wysie. Is dit jou Pa of Ma; loop jy net soos Katryn met die eensaamheid van ‘n hawelose lewe. As dit jou lewensmaat agter daardie deur is, kom die vraag al met die heel eerste klap by jou op: did we dance till the end of love of is ons liefde ‘n stille rivierstroom wat vir ‘n onbepaalde tyd kan vloei om beton en deur tralies heen? Jy loop die paadjie alleen-leen-leen – want diep in jou wese die eensaamheid, die eensaamheid

Die melodie van ‘n tronkdeur is nie noodwendig vreemd aan ander nie. Al het ek op ‘n tyd gedink dit is net aan my en Katryn, en die mense wie ek weekliks in Potgieterstraat raakloop, bekend. Later het ek agter gekom dat ‘n tronkdeur se klap nie eintlik ‘n melodie is nie, maar ‘n rusteken in mens se lewe. Dit ruk alles tot stilstand. Dit dwing jou om na jou melodie tot dusvêr te luister, die potlood op te neem en die toon te verander. Elke mens loop daardie rusteken een of ander tyd raak. Daar, waar jy die note verloor. Dit hoef nie noodwendig ‘n tronkdeur te wees nie. Soms is dit die sagte sjhhoes van die hospitaaldeur, die skel breek van ‘n glasdeur, die pneumatiese toemaak van ‘n vliegtuigdeur, selfs net die toeklap van ‘n doodgewone deur of soms net ‘n woord of twee. Dit is daar waar jy besef Sir John Barbarolli was reg: Die lewe gee ons ‘n skoon blad met musiekbalke en ‘n hele toonleer note, wat jy speel en hoe jy sing is elkeen se eie keuse en uitdaging.

My man vertel vir my dat musiek uit diep, diep emosie gebore word. Ek nooi jou kom luister saam met my na die melodieë, wat oral om my eggo, wyl ek vir jou gunstelinge uit my musiekrak speel:

- laatnag deur my elektroniese posbus: ” is dit wat werklik saak maak jou gesin en baie van ons dom mense vind dit eers uit as ons dit verloor..” Onder die Jakaranda boom langs die hof die volgende dag het ek weer aan die woorde gedink en aan Jinx wat sing in Jakaranda strate: die spore na geluk loop in sirkels en draaie en lei my weer terug na die huis. Maar uit my CD-rak haal ek die Second Waltz…

- “Moeder Natuur het my in die katabasis afgesleep” “ek worstel, dit gaan nie goed met my nie” Luister na die Stradivarius as die Wolga lied speel. Dit is die lied van ‘n eensame soldaat, ‘n song vir alle eeue. As mens lief is vir klassieke musiek is daar niks op aarde wat tegelyker tyd vreugde en seer kan spel soos ‘n viool nie. Tog interessant, dat die weëklank van grootse treurigheid sielsmusiek altyd soet maak. Soos ‘n tronkdeur se klap kan dit jou bring by die besef van wat werklik saak maak. Van Marcus Aurelius se Meditasies lees die een: “Jou sielesfeer bly getrou aan sy vorm as dit nie uitgerek word of ineenkrimp of verstrooi word of ineenstort nie.” En ‘n ander: ”Wat ook al met jou gebeur, dit is van ewigheidsher vir jou berei; die ingevlegtheid van oorsake het jou hele bestaan, en wat daar tydens gebeur, van ewigheid af in een kleed saamgeweef.” Net soos note en rustekens op ‘n notebalk.

- Op my selfoon ‘n Boeremag-vriendin se SMS: “ek is vis nog vlees, ek is nie ‘n weduwee nie, ek is nie geskei nie, ek voel of ek in ‘n vakuum lewe, (getroud, maar manloos) Ek weet nie hoe om aan te gaan met my lewe nie!” Hoor jy die melodie van ‘n amper gebreekte snaar? Verpletter teen die wêreld se harde wand, versplinter in die niet van die hemel se some? Sal ek Annie’s song vir haar speel? You fill up my senses, come fill me again… Of miskien liewer: I have a dream. Eendag sal die tronkdeur vir oulaas klap, dan kan ons die dubbel strepies trek op die notebalk van hierdie blad. Daardie dag kan sy en haar man weer voor begin, met ‘n lewe vol drome en op ‘n nuwe notebalk hul eie gesamentlike melodie.

- In die siekekamer van ‘n jong moeder waar ek weerloos en stom saam met haar gesin staan: “…my onkoloog is baie positief, ek gaan baie lank chemo kry, maar ek sien kans daarvoor, ek wil net graag by my man en kinders wees…” Haar ingesonke oë laat skielik haar man se woorde, twee weke gelede by my opkom: “Ek sê vir jou, ek het ge’crack’ toe hulle haar uit die operasiesaal gestoot het.” Ek wil graag Greig se Oggendstemming uit die Peer Gynt Suite vir hulle opsit, want in daardie rustige herhalende melodie lê daar vir my die belofte dat elke dag, wat hoe donker ook al kan raak, more weer met ‘n oggend breek.

- “Nadat ek na middernag met die inbrekers in my huis slaags geraak het, slaap ek nie meer snags nie. My vrou en kinders is my alles, ek moet hulle beskerm!” Die man het moeg met sy wilde oë weggekyk. En ek het dadelik gedink aan ‘n ander man wat op die radio vertel het, hoe hy sy oorlede broer se bloed van die mure af moes skrop, na ‘n soortgelyke voorval. Voor my musiek-rak het ek lank gestaan, vir hierdie man kon ek niks vind. Nie ‘n song van enige aard nie. Nie ‘n enkele melodie. Hy het my laat wonder hoe klink die melodie van ons volk? Het ons dit iewers op ‘n berg in die nag tussen De La Rey en de Klerk verloor? Kan ons probeer om ‘n nuwe melodie te skrywe? Een van hoop? Of gaan ons die wysie laat vervaag?

Jan Scholtz se woorde en Valiant Swart se melodie sit aan my, dit draai heeldag en aldag in my kop. Dis ‘n weerklank wat sê, daar’s liefde en vrede, miskien. Nie miskien nie, beslis. Met ‘n strooi-storie soos diè in my gemoed, kan ek die tronk se deure trotseer. Ek weet as ek sterk genoeg kan word, ek op my eie wysie vir einste daardie tronkdeur sal kan sing: you rise me up, so I can stand on mountains!

Ek skrywe vir jou, in my sit-/studeerkamer vol van die Strauss walse soos net Andrè Rieu dit kan laat klink. My vingers wals saam oor die toetsbord se klawers, daar is vir die eerste keer in maande vrede in my gemoed. Ek dink in die besonder aan briefies in my e-pos wat ek, in die laaste tyd onbeantwoord gelaat het. Half-bekende gesiglose vriende, wie se woorde my soos melodieë van hul eie omvou. Wat soos jy, my so mooi gevra het om te skrywe en ek oorweeg het om jou in die steek te laat, omrede die wysie vir my te erg geraak het. ‘n Ander een, wat gereeld vir my vertel dat ek moet moedhou en aanhou, die eerste keer nog voordat ek (of hy) geweet het hoe nodig ek sy woorde nog gaan kry! Ook ‘n gewaardeerde vriend wat my by uitstek geleer het hoe nodig dit is om met jou oë te luister en jou ore te sien.

En dis my liedjie vir vanaand. Ek hoop jy en al die ander parras het songs wat rock!
Groetnis


  • ns. Ek kan die Afrikaanse vertaling Marcus Aurelius se Meditasies van Francois Bredenkamp by enige iemand wat in sielekos belangstel, aanbeveel. (Dit is by Protea Boekhuis beskikbaar).
  • Die kursief is aangehaal uit liedjies se woorde, meeste daarvan uit Hawelose lewe, van Valiant Swart.

September 24, 2008

My eerste briefie aan Platkuif

Filed under: Vir Platkuif van Bosparra — ankoren @ 7:28 nm

5 Mei 2008

 Platkuif, dagsê

 

Na ek jou versoek aan my om oor die ‘Boeremag’ te skrywe, het ek nogal gedink:- Platkuif kan mos maar dink wat hy wil. Ek stel nie belang om hom nog van die ‘Boeremag’ te vertel nie. Wat anders vertel mens in elk geval van so ‘n flop-storie soos dié en hoe verduidelik mens dat dinge sò ingewikkeld kan wees, dat mense dit in elk geval nie glo nie…”

 

Maar toe onthou dat ek en my Boeremag-vriendin eendag, nie so lank gelede, op die sypaadjie gestaan het om vir ons mans te waai… Dit het so half ‘n gewoonte geword, om elke keer as ons kan, dit te doen. Wanneer die hof vir die dag verdaag word die gevangenes weer geboei in die selle onder die hof. (Die boeie word elke keer aangesit wanneer hulle vervoer word, maar verwyder sodra hulle weer in die tronk of in die hof is. Net Herman en Rudi se voetboeie bly in die hof die heeltyd aan, aangesien hul eens ontsnap het). Hulle word dan almal in die ‘beestrok /pampoenwa wat nou nie meer geel is nie’ (vangwa) gelaai, wat hulle dan met luide sirene begeleiding van die Njalas en ander voertuie tronk toe gevat. Deesdae is die vertoon darem ‘n fraksie van wat dit in die begin was. Al is daar is nog steeds 20 of meer swaargewapende Taakmag-lede om hulle te vergesel, word baie kalmer gedoen. In die begin dae was dit ‘n sirkus, met soveel vertoon en so luid as moontlik. Hul is met so ‘n spoed vervoer, dat die bande met die wegtrek slag op die teer geskree het… tot ‘n polisieman eendag amper die vangwa omgegooi het. Dit het in die hof gaan draai, met dié dat van die geboeide ouens binne-in seergekry het en die Regter het mooi gevra vir beter samewerking. Die laaste jare gaan dit beter) …Ons staan dan gewoonlik op die sypaadjie en waai vir hulle, wanneer die wa onder die hof uitgery kom en in die straat afdraai.

 

So staan ons dié dag en waai tot die konvooi voertuie om die hoek verdwyn. “Hier staan ek en jy, Poppie. Ons waai vir ons mans en daar gaan hulle. Weg van ons af. Is dit nie absurd nie?” vra sy vir my.  Ek wou, soos altyd, vir haar sê: “Toemaar, eendag sal dit anders wees en dan sal ons lag oor al die absurditeite van nou,” maar toe ek opkyk sien ek haar oë vol trane.  En net daar slaat die ding my mos onderstebo en begin ek soos ‘n graadeentjie tjank. Onwillekeurig maak ek die situasie toe nog meer absurd, want daar staan ek en sy toe kliphard en grens, op die sypaadjie soos twee graadeentjies op hul eerste skooldag.  Al verskil is net, ons is al heelwat ouer en dis vergeet-se-tyd nie meer ons eerste dag by hierdie skool, genaamd die ‘Boeremag’ nie. Al is ek reeds ses lange jare hier, en sy bietjie minder, sommige dae verloor nooit daardie gevoel van die-eerste-dag-skool-toe nie. Die onbekende in. Gedwing in ‘n ding waarvoor jy-voel-jy-is-nie-reg-nie. Vasgevang in ‘n moet-maar-net.  Iewers in jou agterkop iets wat knaag: ek-wil-nie-hier-wees-nie. Tog is jy dag vir dag getrou aan die leer. Self al sou mens, soos sommige van ons vriendinne, besluit om die skool te verlaat, deur jou man te skei, is ek oortuig daarvan dat mens hierdie skool in jou wese met jou saam dra. Of jy nou een maand, ses jaar of langer hier was, jy bly ‘n graadeentjie in die skool en jy dra die res van jou lewe die skool se naam. Tog is dit die beste leerskool van die lewe wat ‘n mens seker kan kry. Al het ek self ‘n paar toetse liederlik gedop, moet ek eerlik wees oor wat ek geleer het. Van tronk en verraad, politiek of te wel geskiedenis in wording, die dodelike magspel daaromtrent, maar ook die noodsaak daarvan, informante en intelligensie operasies, menseverhoudings en psigologie, liefde, trouheid en geloof, vasbyt, moed, en durf -  ja, maar veral ook die meeste oor myself.

 

My Ma het ‘n gesegde van “dis ‘n matriek wat ek lankal geslaag het.”  Verwysende na moeilike dinge wat sy reeds geleer hanteer het.  Miskien is dit ook die enigste positiewe ding wat daaruit mag voortvloei, dat sommiges van ons ‘n sekere matriek moes skrywe, terwille van onsself. Party dinge is lekker en interessant om te leer. Ander jy kry nie ‘gekop’ nie, dit maak doodeenvoudig nie sin nie. ‘n Aantal is doodgewoon pynlik, in die ergste graad. ‘n Mens gaan nie skool toe omdat jy op ‘n dag ‘n bevlieging gekry het nie, jy gaan sodat jy toegerus kan word vir die lewe.  Dit geld vir almal van ons. Ek weet, ek is nie alleen nie. Hierdie skool het my geleer om dit in mense om my, in skole van hul eie, se lewens ook raak te sien. In die ‘Boeremag’-skool, waar ek beland het, is dit egter net so bietjie meer ontbloot. In plaas van ‘n jaarblad te haal, beland ons soms op die TV of die voorblad van die koerant of in ‘n bespreking op die internet… (Miskien, is dit die beste ding wat nog in ons volk se geskiedenis gebeur het… maar, dit sal net tyd ons leer).

 

“Life is not a private affair.

A story and its lessons are only made useful if shared”

Dié woorde van Dan Millman is my inspirasie om aan te hou vertel van die skool waar ek beland het.   

Net sodra ek weer ‘n kansie het, vertel jou meer.

 

Groetnis

Ankoren

 

 

Ns.

Ai tog, hoekom sit jy daardie foto van die Boereoorlog by jou pos oor my “(Boeremag)”-dagboek? Ek hoop nie dis die enigste ding waarmee jy my wil assosieer nie! Moet my nie verkeerd verstaan nie, ek het ‘n rak vol boeke oor die Boereoorlog, en ek lees en gesels graag daaroor en wil graag nog meer daaroor weet. Maar, dis ‘n oorlog wat in my Oupagrootjie se tyd verloor is. Dit het nie direk met my of die ‘Boeremag’ baie te doen nie. Oeps, maar nou het ek te gou gepraat, want ek sal seker vir jou iets in ruil moet stuur.  Ek weet nie wat nie.  Miskien, is dit wat ek sou verkies het, iets wat in die toekoms lê…daarom sal ek maar volstaan (vir eers) met dié een. Ek sit heel agter saam met ‘n Boeremag-vriendin en voor is die jongstes van die kinders van die manne in die tronk.  Die foto is geneem deur die Pretoria News, na ons einde-van-die-jaar-partytjie, Desember 2006.

 

Want, meer as in die geskiedenis, glo ek in die toekoms!

 

 

Blog at WordPress.com.