Uit my (“Boeremag”) – dagboek

Mei 31, 2009

Ouma se panorama

Filed under: 2009 — ankoren @ 1:55 nm

Ouma(my skoonma) het die mooiste skildery gemaak van die panorama wat mens groet as jy uitstap by haar agterdeur…

031

Sy vertel my dat iemand eendag gesê het dat as daar ooit ‘n mens die vermoë gehad het om die natuur te slyp op ‘n doek soos  ‘n diamant, dit Pierneef was.

Hierdie was haar probeer om hom na te doen, en dit is vir my prentjie mooi!

Mei 20, 2009

19 Mei 2009 – Die Boeremagsaak se sesde verjaarsdag

Filed under: 2009 — ankoren @ 7:44 vm

Wat de ‘heck’?    is diè dag se storie…

dankie 6 verjaar

Mei 7, 2009

Spook-en-Maraai se dinge

Filed under: 2009 — ankoren @ 6:06 nm

                                                                                                                                                             image068

Storie op Praag se nuusblad:

 

http://praag.co.za/content/view/4801/386/ 

 

 

Mei 6, 2009

..nog ‘n dag…

Filed under: 2009 — ankoren @ 5:20 nm

aandwens1

April 29, 2009

vir my man…

Filed under: 2009 — ankoren @ 7:19 vm

skemerwens

April 27, 2009

April 2009 – die lekkerste daarvan…

Filed under: 2009 — ankoren @ 7:26 vm

skryfskool-21

April 19, 2009

Oujaar 2008

Filed under: 2008 — ankoren @ 3:21 nm

April 18, 2009

Uit laasjaar se dagboek: 27 Desember 2008

Filed under: 2008 — ankoren @ 7:27 nm

Deur die jare het ek gereeld en minder gereeld Excelsior besoek – maar het dit vandag op my kameralens vas gevang:

(…tot die onkruid wat in die gebroke teerstrate vrolik blom)

 

excels2 

Ons ou skool:

excelsior

 

Die Klein koshuis(Laerskool)  en Groot Koshuis(Hoërskool) : 

koshuise1

Maar die dekades het sy merk op die dorp gelaat:

..die huise veral…

huise-ecxelsior

 

                                                            

April 14, 2009

‘n Briefie: aan een van my Matriek-maats

Filed under: 2009 — ankoren @ 8:41 nm

matriekklas

Na al die jare: Hallo daar

 

Die wêreld gaan hard en taai sy gang. Alleen mense wat nie skrik nie, kan op die platte van hulle voete bly staan al tref die swaarste rampe hulle ook”

 

As ek dit reg het is dit die woorde van Ouma Willa, uit die boek van CM van den Heever, Laat Vrugte(1939). Hoekom die matriekklas twee jaar voor ons, wat dit as voorgeskrewe werk gehad het, my na haar vernoem het, weet ek na al die jare nog steeds nie. Miskien omdat iemand ‘n blik op my toekoms gehad het en gesien het dat ek dit sou nodig kry in my lewe, om op die platte van my voete te bly staan. En as jy nou gewonder het;  ja, dit was Bun se klas, hy wou my nooit vertel hoekom nie,  ek het hom meer as een keer gevra. O ja, ons het vir ‘n rukkie uitgegaan na skool. 

 

“…Ek onthou jou net as Ouma Willa… ek het met Frede gepraat… sy is in die Verenigde Arabiese Emirate… sy het my jou regte naam gegee…jy is een van die laastes van ons matriekklas na wie ek nog gesoek het.”  Ek het stom in my stoel terug gesit. Cassie was aan die anderkant van die foon en hy wil graag ‘n reünie reel. Eintlik, wou ek dit nog altyd gedoen het – ek was dan op die reünie-komitee. Ek en Frikkie, het Rentia voorgestel, sy’t nogal gesê ek het die kop vir sulke dinge. Ek wou nog, ‘n dekade gelede al. Ek sou nog. Ek is so bly hy het my voorgespring! Ek sal so bly wees as ons wel reünie kan hou, want eintlik is ek nog Ouma Willa.

 ek-en-haasdas

 Ek het in die laaste kwartaal van standerd sewe by julle in die klas gekom en spreekwoordelik was ek onder op die leer. Die eerste aand in die koshuis het iemand noukeurig vir my die stukkende stoel opgestel en ek het baie onvroulik in die studiesaal op my rug beland. In standerd agt is ek saam met die standerd sesse ingesout en my skiewie naam was Kiewiet. (Van die dun beentjies het egter niks oorgebly nie…)

 

 Ons was so lank gelede in matriek, dat dit vir my voel of dit in ‘n ander leeftyd was! Ek het onder die stof en spinnerakke bo in die kas my dagboek van matriek gaan uitgrawe:  “M.A. Triek 1979 Liewe dagboek, Al my hartsgeheime om met jou te deel”, staan op die eerste bladsy. Daar is heelwat dae op die trant: “Vandag was ‘n loodgrys reëndag. ‘n Baklei-in-die-wiskundeklas-tussen-die-onderwyser-en….dag.” Frede en Marok se name die meeste agter die ‘en…’ Hul gevegte met my Pa het my die meeste ontstel, miskien omdat ek vir hulle die meeste omgegee het! Dit was my sleg van die Hoërskool, die feit dat ek by my pa moes klas kry.Dit het my egter gedwing om harder in wiskunde te werk as julle ander. Nou is ek nie spyt daaroor nie, dit het later in my lewe vrugte afgewerp. Op daardie stadium was dit egter vir my ekstra moeilik. Later het ek besef dit is deel van wie ek is, en dat dit opsigself ‘n goeie ding is: ek is Ou Bok se dogter.

 

Daar was ook vroeg in Januarie ‘n inskrywing – “Richard is in the army now.. I wonder how he looks in uniform…”. (Hy is Frede se boetie.) Raai, ek het so jaar of wat gelede op ‘n internet geselsforum daaroor geskrywe: oor die jaar 1978 en die manne in browns. Later in die jaar “Nog ‘n dag van matriek op sy rug, dankie tog. Dis nodig.” O, en dan het ek verlang, bladsye vol! Daar was darem briewe, ek het seker elke een wat ek ontvang het, aangeteken. Ai, dis darem lekker om verlief te wees! Een van my kammies se woorde staan ook daar: “…ek sal vir daardie Bosaap skryf en vir hom sê hy moet meer vir jou skryf, want jy lees sy briewe sestig maal oor!” Ek lees nog steeds briewe oor en oor(veral my man s’n) en herlees dit gewoonlik na ‘n tyd. Briewe in enige vorm, is nog steeds vir my soos ‘n lucky-packet, ek sal in daardie opsig nooit ouer as agtien wees nie!

 

Verder staan daar ook: “Jy weet Dagboek, die koshuis is darem ‘n snonsies plek. Lawaai, die onderwysers gil op die kinders, moedswillig lawaai hul vêrder…” Ek hou nog steeds nie van lawaai nie, veral nie dié in die tronk se gange nie, dit moet die letsels van ‘n koshuisbrak wees.

 matriekafskeid79

In Maart het ‘n man van UOVS ons kom toespreek, maar ek wou niks van Varsity weet nie, in my dagboek staan: “Ek trou met ‘n miljoenêr sodra ek klaar is met skool” Ek het dit nie opgeskrywe nie, maar ek onthou so goed dat ek dit vir jou gesê het, daardie selfde dag. Jy het daarop geantwoord dat ek dan maar met jou kan trou, want die soort miljoenêr waarna ek soek is een wat ryk is van binne… Ek het dit onlangs vir iemand vertel, en gespot ja, want van die miljoenêr het ek nie veel gesien nie – ek het met ‘n ‘tronkvoël’ geëindig! Toemaar, ek’s nie spyt nie! Ek is in groot rykdom aan hom gebind. Selfs al kan mens dit nie in materiële dinge meet nie – ek is immers nou ‘n-tronkvoël-se-vrou. 

 

 By die 19de Oktober het die kaartjie en ‘n foto van die matriekafskeid uitgeval: 

Die volgende Donderdag het ons gaan sêr en daardie Vrydag was dit Jool: ( Herken jy jouself? Ek was ‘n blommeverkoopster: “Master, wat van ‘n groot rooi roos vir die Mêrem?” het ek agter op my foto geskrywe. )

jool-79

   
 
En voor ons dit wis, het ons laaste skooldag aangebreek en ons meisies is in julle seuns se rugbyklere skool toe:laaste-dag1
 
 
 
  
Vol bravade het ek my tassies gepak in 1980, my matrieksertifikaat onder my arm vasgeknyp en op die trein geklim Pretoria toe. Bun was op die stasie om my te ontmoet, daardie eerste weke was hy die krukke wat my op my voete gehelp het. Ek was baie selfversekerd en vol ywer vir die toekoms, maar sou gou uitvind ek kom eintlik van die plaas af. ‘n Vriendin in die kamer langs my, in die jeugsentrum waar ek ‘n kamer gehuur het, sê eendag dat die nuwe ou wat by nou by haar vlerksleep nie genoeg “sex appeal” het nie. “uuhh,  se… wat se goed? Ek het nog nooit van so iets gehoor nie” wou ek doodeerlik weet…

 

 

 ‘n Paar blaaie van agter af in my dagboek het ek ‘n lys geskrywe van wat ek graag wou word, of gaan doen na skool: Ek wou trou(dit het ek darem), ‘n skrywer word(ek spook hard daaraan), treinwiele gaan oppomp(die onmoontlike probeer verrig, my Ma reken dat ek op my manier dit darem soort van reggekry het!), ‘n modeontwerpster (as ek oor kon kies – sou ek), ‘n kernfisikus(ek het die vak eers met ‘n her deurgekom),’n arbeidsterapeut(as ek oor kon kies sou dit my tweede keuse wees), ‘n ruimtevaarder, ‘n mikrobioloog(onder inspirasie van ons biologie onnie, Kysie Toetsee), of ‘n mediese tegnoloog(gelukkig het ek nie!). Die ander is so doodgekrap dat ek dit nie kan lees nie. Aanvanklik het ek by AEK te Pelindaba aansoek gedoen vir ‘n diploma in Chemie. Ek het toe ‘n Diploma in Fisiese Metallurgie gedoen, omdat die personeelbeampte, die dag wat ek moes ingeskrywe, vir my vertel het hoe ongelooflike interessante rigting dit is. En dit is. Ek het egter net ‘n paar jaar in daardie rigting gewerk, so moet my asseblief tog nie enige iets daarvan vra nie. Ek het hoofsaaklik op Zircaloy gewerk. Dit word gebruik om die buise te vervaardig, wat in kernreaktors gebruik word om die uraan in te ‘verpak’.  Later het ek weer ‘n jaar en ‘n half op Pelindaba gewerk in die Warmselle, daardie tyd nog in oprigting – waar alles ontleed sou word wat in Koeberg gebruik sou word. My lekkerste speelding daar was ‘n elektronmikroskoop. Student-wees was die wonderlikste tyd in my lewe! Om in ‘n navorsingswêreld te kon werk vir ‘n rukkie was vir my net ‘n voorreg. Natuurlik is Pelindaba vir my ‘n baie spesiale plek – ek en my man baie ure daar saam deurgebring as verliefde studente en later as jong getroudes. Ek is nog steeds, na (ses-en-)twintig jaar van getroude lewe, my man se  Aapstert.

 foto-oe

  Agter in my dagboek van matriek, is ‘n gediggie gekrabbel. ‘n Jaar of wat later terwyl ek op die Technikon in Pretoria gestudeer het, het ek dit in die posbus van die studentekoerant gegooi en die volgende uitgawe was dit op die voorblad, bo-oor ‘n vreemde ou se foto …en so het ek my man ontmoet. ‘n Vriendin het hom aan my voorgestel omdat ek graag skrywe en hy iemand gesoek het om vir hom woorde te skrywe vir ‘n lied wat hy vir vriende op hul troue wou sing. Raai, dit het Hondlie darem van my onthou, want in haar  e-pos van laasweek het sy gevra: “skryf jy nog?” En, nadat Koebêr my blog gelees het was haar kommentaar: “net soos jy altyd was – lief vir skryf!” Al het baie van my matriek-drome langs die dekades verlore geraak, sal ek nog altyd graag mense se harte wil aanraak met my pen.

 

Ou Goddy het op ‘n dag in die klas ‘n trou-lys gehad, wat ek in my huiswerkboekie neergeskrywe het: Melinda, Sunette, Casper, Sonja, Frede, Marok, Belinda, Vicky, Ben, Solly. Ek sien ek het Hondlie en Frikkie effe eenkant onderaan geskrywe.

 

 

Ek is met Koos du Plessis getroud in Pretoria op die 2de Oktober 1982.  

 troufoto1

Dit was die eerste helfte van ons eerste dekade uit matriek. Toe ons vyf jaar uit die skool was wou ek reünie reel, maar daardie jaar Julie 1984 is ons meisiekind, gebore.  Dit het ‘n totale ander dimensie aan ons lewens gegee. Die vreugde van haar in elke fase van haar ontwikkeling was al wat vir ons getel het. Aan die anderkant, die sukkelkant – tussen bottels en doeke en ‘n terugtrek van Secunda na Pretoria, geldnood en ‘n man wat sy eie baas wou wees, het ek nie eers weer aan ‘n reünie gedink nie. Ek wou altyd graag ten minste vier kinders hê, maar het darem vir Dolla wat my Ma noem en haar verloofde wat my graag as Skoonma aanspreek.

 Kort daarna het ons ‘n plaas gekoop. Reg langs my skoonouers, in Brits. Ons het begin tabak boer. Daar is niks op aarde soos ‘n land met uitgegroeide tabakplante met hul reusagtige blare nie. Ek het hart en siel begin boer. Maar, die tabakbedryf was op die afdraande pad – of dit was net nie vir ons bedoel nie. Die besproeiingsgrond was uitgeput, daar was te veel chloor in die tabak en die koöperasie het dit vir ‘n kwart sent ‘n kilo aangekoop. Boonop het ons ‘n virus opgetel op die plante en dit het ons gelaat met ‘n produksielening wat ons nooit kon teruggewerk kry nie. Ons het die tabak vir groente verruil. Op ‘n dag hoor ek ‘n swart vrou in die straat, voor die poskantoor na my beduie, maar ek verstaan nie regtig Tswana nie en vra haar wat sy van my skinder: “Nee, ek sê net vir die anner vrou jy’s die nonnie van die bortlos(wortels).” Seker omdat ek nooit kon staan en kyk hoe die mense werk nie, en sommer self lag-lag ‘n honderd of twee bossies wortels op ‘n smous se bakkie kon laai. Daarna het my man my gereeld die-nonnie-van-die-bortlos genoem.  

 

Daardie dekade en ‘n half wat gevolg het tot by 1999 was ‘n stryd om bestaan, vir my altans.  Ons het ‘n sandwerke begin, Koos het sandaanlegte begin bou. ‘n Vloed het verby gekom en ons het gestaan en kyk hoe die water als verwoes. Ons het noodgedwonge ons grond aan my swaer verkoop en ‘n ingenieurswerke begin, maar dit het ons tot niet gemaak op ‘n dag. Ons sou emmigreer, Nieu Zeeland toe. Koos het werk daar gekry. Hy was ‘n week daar toe kom hy met sy bondel klere en al terug. Hy het nie kans gesien dat ons, ons kind in ‘n land met geen bedreiging verder moet grootmaak nie. Ren, ons meisiekind, het te vinnig groot geword na my sin en goed op skool gevorder. Ek het by twee geleenthede Bloemfontein toe gejaag, om my Ma deur intensief te sien worstel – bang dat dit die laaste keer sou wees dat ek haar sou sien. Sy het heeltemal herstel( “om my skoonseun deur die tronk te sien,” terg sy my man gereeld.) Hy het begin patente ontwikkel en ek het weer begin werk in ‘n administratiewe pos. Met die sandwerke wat ons gehad het, het ek boekhoukursusse gaan doen en myself geleer. Ek verdien nog steeds my brood en botter en manlief-se-aandra-tronk-toe-kos in daardie rigting. Ek het daardie jare vir die moeilikste baas wat ek ooit teëgekom gaan gewerk, maar die waardevolste ondervinding ooit in my lewe opgedoen. Gedurende hierdie tydgleuf van my lewe was daar nie die energie oor om aan reünies te dink nie, ek het net gesukkel om te bly staan op my twee voete. My baas se naam was Charlé en my man het my graag Charlie’s Angel genoem. 

 

 Die laaste amper driekwart van die dekade wat nou pas verby is, was my lewe in ‘n warboel van een interessante ek-en-koosvoorval op die ander.

Ek het wel aan ‘n reunie gedink, maar dit het net by ‘n gedagte gebly. Om eerlik met jou te wees, ek het maar redelik onlangs eers weer my voete begin vind. Ek het ook geleer dat mens kan bly staan – al val jou binneste om  – dat die wêreld gaan nog steeds hard en taai sy gang. Op 5 April 2002 is Koos gearresteer in die sogenaamde Boeremag-saak as beskuldigde nommer 3. Uit die media behoort jy darem seker al daarvan te gehoor het, maar laat ek jou betyds waarsku dis baie meer gekompliseerd as watter beeld jy ook daarvan het! Skielik was my man as RooiKoos bekend. Ons kind was in matriek. Die “Boeremag” het die oorheersende storie van my lewe geword. Al was nog nie een dag maklik nie en het ek al baie laag gaan draai – is dit seker die beste ding wat in my lewe met my gebeur het! As dit dan niks anders is nie – is dit ‘n unieke ondervinding. Die Boeremag het my geweldig baie geleer, van dinge wat ek gedink het ek weet (anders as die ‘sex appeal’). Ek moes uitvind ek weet eintlik niks! Maar hierdie jare had ook sy glorie-momente: My swaer se dogtertjie was vier toe Koos gearresteer is en die kind wou nie ‘n woord met my praat nie. (Ek was dan die tannie wat die vreeslike ding oorgekom het!) Op ‘n dag stap ek egter by my skoonma in die kombuis in en sy sit by die tafel en teken. Skielik spring sy van die stoel af en hardloop my tegemoet: “ek het jou tog gistraand op die Tee-Vee gesien!”  Nou, meer as ‘n halwe dekade na die tyd is sy al ‘n langbeen meisiekind, maar van daardie dag af gesels sy land en sand aanmekaar met my!

 

As mens kan praat van die luukse van ‘n terugblik; kan ek vandag vir jou vertel dat die positiefste van hierdie tyd seker is dat ek vir jou, soos Bart Nel, kan sê: Ek is Anita, ek is nog steeds sy.

Iewers in my hart is ek nog die meisiekind wat graag voor studietyd in die skemering op die trappies by die groot koshuis se kombuis, met jou oor die lewe wil filosofeer. Soos drie dekades gelede… ten minste weet ek darem nou al dat ek weet dat ek nie weet nie! Saam met my man het ek heelwat filosowe se werk bestudeer die laaste jare, asook diep sielkunde. Altans, hy het dit in detail gedoen en ek het bolangs probeer bybly. Dis wonderlik interessant en ek stel regtig daarin belang. Camus het gesê: “I am not a philosopher and I know to speak only of what I have experienced.” Dink net hoe lekker sal ons nou kan gesels, elk met drie dekades se ondervinding!

 

 Jou eerste woorde in jou e-pos: “Van almal mis ek jou die meeste, jy moet my asseblief als vertel wat jy beleef het tot nou toe” het my laat gly in hierdie nostalgie waarin ek nou byna verdwaal het.  Deur die dekades het ek skrik leer ken wat vir mens voel of jou ingewande gaan dubbeld knoop, heeltemal anders as die skrik wat jou net laat wip. Maar, al het ek so bietjie gesukkel om staande te bly, staan ek nog stewig op die platte van my voete. Dit gaan goed met my!  

 

 Dit was wonderlik om van jou te hoor

 

dankie vir die foto van jou

na al die dekades

glim die lag en terg

presies dieselfde in jou oë

 

daar loop vertel-paadjies deur

 jou gesig en die grys in jou baard

 

 

van

 

jou stryd teen die hard en die taai

 van hierdie lewe

 

 

 

… nes myne!

 

Groetnis

Anita

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Uit ‘n ou dagboek – wende 22 Junie 2006

Filed under: Vervloë dae — ankoren @ 12:50 nm

Ek sukkel behoorlik om ‘n mooi foto van Marietjie-Maraaitjie(dis nou een van my viervoetige kinders) geneem te kry, tot sy nou die aand agterkom ek wil eintlik aangaan met my meisiekind se geslagsregister en die familieboek nodig het: Toe sit sy doodstil…

marietjie-maraai

Toevallig nadat my rekenaar gesteel is vroeër vanjaar, moes ek nou al my rugsteun data deursoek en het ek afgekom op my eerste storie oor haar wat ek geskrywe het vir Praag se geselsforum op 22 Junie 2006:

So ‘n goeie vyftien jaar gelede, het ons langs die grootste kampvuur(wat ek nog gesien het) gesit en gesels daaroor dat in die ou voorgeskiedenis se tyd die mense sonnewende gevier het. Ek het in die vlammeprag gesit en kyk en begin droom, en vir myself ‘n prentjie van sonnewende-fees in my geheue ingebrand. Van kuier rondom ‘n vuur, ‘n sonnewende-fees soos in daardie dae. ‘n Vreugde vuur, met ‘n atmosfeer van opgewondenheid. Daar het die gedagte by my begin spook dat mens ‘n wendevuur altyd in jou hart aan die brand moet hou, en niks en niemand moet toelaat om dit te blus nie.

 

Want elke moeilike situasie verander een of ander tyd en elke winter het ‘n wende…

 

Soos  u weet staan ek die afgelope tyd in ‘n winter in my lewe, sedert my man op 5 April 2002 homself aan die polisie oorgegee het, in die Boeremagsaak. Ek het my bes gedoen om daarby aan te pas, ek het dinge aangeskaf om die winterkou uit my lyf te hou. Vir jare lank het ek vergeet van ‘n wendevuur, net gespartel van winternagte na witgerypte môres. Soms gevoel of ek tot in my hart gevries is. Tot ek, ‘n tyd gelede ‘n dag belewe het, wat soos swart ryp op my toegesak het. ‘n Dag waarvoor ek vir weke lank ‘n “undo”-knoppie(soos ‘n rekenaar s’n) gesoek het, wyl ek al te seker wis dat ek dit nooit sal vind nie. U ken mos swart ryp, as jy vroegoggend by die venster uitkyk dink jy: Goed, dit het nie laasnag geryp nie, maar as jy buite kom sien jy aan jou plante dat jy skade het.  Op die koop toe is dit skade wat  nie herstel kan word nie. Swart ryp in jou siel is seker die slegste wat jou kan oorkom, veral as jy agterna daaraan dink dat jy kon toegemaak het voor die tyd. Jy het gewoonlik niks anders as verwyt oor nie..

 

Maar, toe kry ek kort daarna vir Marietjie-Maraaitjie persent. Woelig, ‘n handvol, die tweede rol toiletpapier wat ek verflenter van die badkamervloer af opgetel het, het ek nogal gedink: hierdie twee rolle is nou al amper ‘n brood se geld en nou was dit net twee maal ‘n paar minute se katte-pret.

 

As ek saans voor die rekenaar sit en werk, is haar gunsteling tydverdryf om oor die toetsbord te hardloop of om op my skouer te klouter en af te spring om die bewegende letters op die skerm te vang. Sy hou my so besig, dat ek agter is met alles! Maar ai, as ek in daardie gesiggie kyk sien ek net die ene lewensvreugde. Haar kraalogies blink en die hele wesentjie skree: “Dis so lekker om te lewe – ek kan bars daarvan. So lekker dat ek nie weet wat om met myself aan te vang.” So tussen die gewoel deur het sy weer ‘n wendevuur in my hart aangesteek en hoe hoër die vuur gebrand het, hoe duideliker het die wete geword, na die swart ryp staan ek nou in dié wende van my lewe. Marietjie-Maraaitjie was net nodig om die vuur te kom aansteek.

 

Ek het begin dink aan die innerlike vreugde wat mens so maklik in die winters van jou lewe laat doodryp. Dit het my oë laat oopgaan vir die ander ‘Marietjie-Maraaitjies” wat daagliks ongesiens by my verby gegaan het. Die lewe self sweer mos saam om Marietjie-Maraaitjies altyd op presies die regte tyd, as jy dit die nodigste het, vir jou aan te stuur.

 

Daarom het ek vanoggend toe ek die son sien opkom gedink ek wil u, al die geselsgenote hier, vandag nooi om langs my by my wendevuur te kom sit. Dat ons rondom ons moet kyk en sien dat dit winter is in ons dierbaar Suid-Afrika. Winter wat jou tande op mekaar laat klap; plaasaanvalle; kapings; moord; doodslag; bure, vriende en familie wat ons begrawe; voertuie en ander besittings wat gesteel word(sommige onvervangbaar); onsekerheid; kinders, broers en susters, vriende wat ons op die lughawe groet omdat hulle hul lente elders in die wêreld gaan soek; op politieke terrein verwagtinge wat doodryp nog voor hul wasdom kon bereik – ons kan heeldag daaroor sit en bibber…

 

Marietjie-Maraaitjie het pas uitgevind dat sy kan boom klim en terwyl ek na haar staan en kyk, het my gedagtes om die boompie by my agterdeur begin draai. Elke winter ryp sy swakste lote dood, elke lente dra hy trosse blomme en in die nasomer het daar onder die boompie soveel klein boompies opgekom, dat dit met groot moeite uitgekap moet word.

 

Wintertyd in die natuur is tog ‘n rusperiode, ‘n tyd wat plante hul wortels laat sterk word. Hul hulself voorberei op die besige lente en somer wat wag. Persoonlik, kan ek u vertel dat ek al meer winters in my lewe beleef het, dat juis dít my sterk gemaak het. Dat ek in hierdie winter, ‘n baie spesiale verhouding met my man gebou het, en ek met trots na ons dogter kan kyk, dat ek na ‘n nag van swart ryp vir u kan sê nou staan ek in my wende en daar brand weer ‘n vuur in my hart.

 

Kom, nestel teen my aan langs my wendevuur en weet dat die ergste winter in ons geliefde land eers ná die wende kom. Net soos die boompie voor my agterdeur sal ons van ons lote met die ryp verloor,  maar ons wortels sal sterker word!  Daar sal gewis en seker ‘n lente weer wees. ..’n Winter kom nie op ‘n spesifieke datum nie, so ook lente, somer of herfs. Maar die wende kom altyd op die regte tyd. ‘n Wende is ‘n gegewe – dis vasgestel. Geen winter of somer kan bestaan daarsonder nie.

 

Ek wil my vandag verstout om te sê, na wat ek die afgelope tyd op hierdie geselsforum gelees het, ek WEET ons staan weer in ‘n wende in ons volksgeskiedenis. Dat, nie net ek alleen nie, maar dat almal wat vir my dierbaar is saam met my staan in hierdie wende…

…as ons net kan deurwinter, sal ons in die somer ‘n oesfees hou…

 

 

« Vorige BladVolgende Blad »

Blog at WordPress.com.