Uit my (“Boeremag”) – dagboek

September 4, 2010

28 Augustus 2010 – Huldigingsgeleentheid vir oom HS van Blerk

Filed under: 2010 — ankoren @ 6:14 nm

Geskiedenis en tyd staan as genadelose beoordeellaars van elke mens se lewensloop.
As “gewetes van die volk” loop digters en skrywers meer deur as die res. Gewoonlik word hul eers na hul tyd geëer. Dit verg ʼn spesiale persoon en ʼn unieke geleentheid om ʼn huldigingsgeleentheid vir homself in persoon op ʼn byna 95 jarige leeftyd by te woon.
Dit was juis die gebeure wat op 28 Augustus 2010 in die Willie Marais Afrikanersentrum afgespeel het, toe die Aksie Vrouekrag van Donkerhoek, in samewerking met die Majuba Boerevolktrust ʼn huldigingsontbyt vir die skrywer HS van Blerk, aangebied het.
Gou was dit duidelik waar oom HS in sy rolstoel die gaste ingewag en gegroet het, dat hy die beoordeling van sy lewe met spesiale vermelding geslaag het. Uit elke nuwe aankomeling se gesig het opregte vreugde gestraal. ʼn Gevoel van toegeneentheid en dankbaarheid het in die atmosfeer gehang.
“die uurglas van my tyd loop leeg…”
“Ek span die boog van my kort lewe styf…”

Met die aanhaling uit die gedig, “Eerste nag” van Oom Hendrik het Henk van de Graaf sy huldigingstoepsraak ingelui. Hy het vertel dat dit die gevoel van die 26 jarige Hendrik Stefanus van Blerk was toe hy die eerste nag in die dodesel deurgebring het. As ʼn lid van die Ossewa-Brandwag was hy ter dood veroordeel vir die beskadiging van staateiendom. Dit was tydens die Tweede Wêreldoorlog toe hy as vurige nasionalis en volksvryheidsvegter gerebelleer het daarteen om vir die Smuts-regering, teen die Duitsers te gaan veg.
Mnr. Van de Graaf het voorts die skrywer se karakter aan hand van sy eie gedigte geskets. Hy het uit die gedig, “Ideaal” voorgelees en verduidelik dat HS van Blerk verwerping en moeite en verdriet geken het, maar dat die ideaal wat hy nagestreef het, hom gedra het. Uit die “Rewolusielied” het hy gemotiveer dat die oom dikwels die woorde: “You are fired” moes aanhoor – meestal oor sy politieke oortuigings, maar dat hy steeds onverskrokke die skandes van tyd aan die kaak gestel het.
By volks- en kultuurbyeenkomste is oom HS ook altyd tussen sy volk. Met sy skryfrykdom het hy menig volksorganisasie aan die lewe gehou. Sy grootste bydra in die Majuba Boerevolk Trust wat hy tot stand laat kom het en wat nou nog vir die bestuur van Majuba verantwoordelik is. Self het hy tot ʼn paar jaar gelede nog elke jaar die berg opgeklim om daar die geskiedenis, wat hom so na aan die hart lê te vertel.
“Oom Hendrik se lewe, waarby tannie Nell uiteraard onlosmaaklik verbind is, is een groot getuienis van die grootheid, die goedheid, die genade en ook die wil van God.” As slot het mnr. van de Graaf uit sy gedig, “Eed” voorgelees:
Ek sal die weg wat my beskore is, gaan…
…en as ek gebreek en mat van stryd op my knieë stort,
Sal ek die laaste treë na Bestemming kruip…”
Deur sy leeftyd het 64 boeke en omtrent 300 kortverhale uit die pen van hierdie volksman gevloei. Behalwe dat hy ses jaar in die tronk deurgebring het, het hy kennis gemaak met die spoeldelwerye van Lichtenburg, as mynwerker sy brood aan die Rand verdien, hout aangery uit Marico, rioolslote in die Goudstad gegrawe en die ellende van werkloosheid tydens die Depressie leer ken.
DuP du Plessis, voorsitter van die HS van Blerk-Stigting, het meer oor sy boeke vertel, wat ook daar te koop aangebied is. Die volledige Verkennersreeks oor Danie Theron is die heel eerste boeke wat in elektroniese formaat beskikbaar is. Van die skywe aan oom HS, die Verkenners en Aliena Beyers die voorsitster van Aksie Vrouekrag Donkerhoek, oorhandig.
Tydens die smaaklike ete wat bedien is, was daar musiek deur die Bosch-Meyer-trio en gedigte is deur Minkie Geyser voorgelees. Jan Beyers het boeke van oom Hendrik van Blerk opgeveil en ʼn bedrag van R3 000 is ingesamel. Daar is ook ʼn kort rolprent vertoon oor sy lewe. “As ek mense kon laat lag of huil, het ek geslaag” het hy oor sy eie skryfwerk vertel.
Om toegesluit te wees in die dodesel, het hy onthou (is behalwe vir die skok waaraan hy gely het) – het hom die lewe in twee wêrelde geleer ken. Die moeilikste daarvan; ʼn mens se “binnewêreld”. Die swart lissies aan sy uniform was vir hom simbolies om te rou oor sy eie dood. In hierdie eensame aanhouding was al wat hy gehad het om aan vas te klou ʼn gedig wat hy uit die Huisgenoot geskeur het. Sy grootste vrees was dat hy aan sy vyande vrees sou vertoon in die aangesig van die dood.
Ten einde is oom Hendrik met rolstoel en al op die verhoog getel. Hy het die vroue wat huldigingsgeleentheid gereël het met ʼn aanhaling uit ʼn gedig van Theo Wassenaar bedank: “Dit is skoon vir ʼn held dat vroue die laaste sal wees wat sy sterwende oog gesien het.”
Hy het genoem dat ons moet besef wat die vrou se rol in ons geskiedenis is. Hy het verwys na Sanna Smith en haar beroemde woorde: “Liewer kaalvoet en blootshoofs oor die Drakensberge dan onder die Britse gesag. …ons het rede om vandag nog dieselfde te sê want, dit is ʼn verlengstuk van daardie Britse vervolging wat ons vandag hier het waar ons tans is.”
Die musiekgroep, Ridder de Jongh, het hul lied geïnspireer deur die verraad, soos beskrywe deur oom Hendrik, gesing.
Deur die loop van die oggend is daar baie gelag en hier en daar ʼn traan weggepik. Menige het die saal verlaat met ʼn sagte glimlag op die gesig – ʼn teken van die warm gevoel wat die geleentheid om almal se harte gelaat het. In almal se gedagtes was die boog van ʼn lang suksesvolle lewe – gespan met liefde en opoffering …ʼn beoordeling wat goed afgeloop het en ʼn uurglas wat sonder spyt besig is om uit te loop.

Bl. 5 Die Afrikaner. 3-9 September 2010.

Advertisements

Augustus 11, 2010

9 Aug 2010 – Katryntjie se Boeresport-dag en Herrie van die plakkerskamp.

Filed under: 2010 — ankoren @ 9:09 nm


Op pad na die dam toe, het ek die rooikopseunskind al teen die kant gewaar. Met sy voete in die water was hy met iets doenig, droomverlore in sy eie wêreld. Hy moes my ook raak gesien het, want toe ek oor die houtbruggie na die eiland toe stap, kom hy nader.
“Hallo. Wat is jou naam?” groet ek.
“Herrie” Ek verkyk my aan die sproete wat eweredig oor die neusie gesprei lê.
“Is jy nie bang jy val in die water nie?” vra ek.
“Nooit nie, Tannie.”
“Wat het van die eende geword?” Gesels ek verder.
“Hulle is daar oorkant op die wal. Kom, ek gaan wys vir Tannie.”
Hy draai om en ek stap agterna. Langs die houthuisie wat halfmas oor die dam gebou is, gaan hy op sy hurke sit.
“Sien Tannie, hier’s ʼn leertjie waarmee mens in die water kan klim.”
“Seker eers as dit somer is, die water lyk vir my maar koud!”
Hy lag. “Kyk Tannie, ek het ʼn pyp” en hy lig die stuk tuinslang uit die water uit. “Dis my… uhmm… ek’s ʼn olifant en hierdie is my… ‘n…” hy sukkel om die regte woord te onthou.
“Slurp” help ek hom reg.
Hy blaas yslike borrels deur die pyp in die water en glimlag triomfantlik op in my rigting.
“Bly jy hier?” vra ek.
“Nie hier nie, da’ anderkant.” Hy beduie na waar die houthuisies netjies in twee rye sy aan sy geplak staan. “Ons het drie keer getrek. Eers, wat nou weer? Uhmm… o, Kaap toe en toe na my tannie toe en toe hiernatoe.”
Na die blanke plakkerskamp. Hier by Kameeldrift (op die Brits-pad uit Pretoria uit) waar Katryntjie van Boere-eenheidforum, vandag ʼn kenmekaar- en boeresport-dag gereël het.
“O. Hoe oud is jy?”
“Agt.”
“Kyk” en hy lig die pyp uit die water. Met sy hand vee hy die water af. “Voel hoe voel die water” en hy hou sy nat hand na my toe uit.
“Brrr, pure winter” ril ek. Hy lag en lig die pyp hoër op, dit gly egter uit sy hande uit en voor hy nog kan raak gryp verdwyn dit onder die bruin water.
Oeps, daar is die olifant nou sy slurp kwyt, dink ek amper hardop. Wat ʼn verlies! Dit pla my egter meer, as vir Herrie. Hy draai om en kry ʼn stuk hout beet.
“Kyk, dis my boot” en hy gooi die hout op die water. Skaars het dit begin rond dobber of hy het ʼn yslik klip in sy hande… “Kyk, ek gaan hom nou sink,” hy gooi met soveel mag en mening dat die water oor ons spat.
“Kom ons gaan haal vir ons kos” stel ek voor.
Met die borde kos voor ons gaan sit ons wydsbeen bo-oor die eerste bankie en gesels verder soos ou vriende. Herrie vertel dat sy ma bedags in die eetsaal werk.
“Ek gaan gou vir Tannie wys hoe diep die dam is” In ʼn oogwink het hy sy broek sover as moontlik opgetrek en hardloop hy weer af water toe. Sy bene is lank genoeg – die broek word net-net nie nat nie.
Hy kom haastig terug en ons eet ʼn rukkie in stilte.
ʼn Witkop seuntjie kom verby en hy gryp hom nader: “Hierdie is my kleinste boetie.”
Ek herken hom dadelik as Jonatan van vroeër wat saam met sy vriend Dawid so ywerig aan die boeresport deelgeneem het.
ʼn Groter seun kom styf teen Herrie op die punt van die bankie sit. “Dis my maatjie, Henry. Hy is ook elf, nes my ouer boetie.” Hy kou haastig ʼn hap klaar en draai weer na Henry: “Vertel vir die tannie hoe ek my broer opneuk…”
“Haai, dis nie baie mooi…” begin ek, maar hy luister lankal nie meer nie.
“Daar’s hy!” Soos ʼn rooi blits hardloop hy ʼn groep seuns tegemoet, sy vriend agterna. Ek eien sommer die ouer boetie aan die sterk familietrekke, nog voordat Herrie sy voete onder hom uitduik. Die boetie is heelwat langer as hy en onbliklik is daar moeilikheid. Herrie laat spaander met ʼn wye draai, sy broer en ʼn klomp maatjies stommende agterna.
Nie lank nie of hy is terug en val met mening aan die bord kos weg.
“Hierdie is die lekkerste!” Met sy vurk ryg hy die pynappelblokkies tussen die gerasperde wortels op.
“Nee wat, ek dink die krummelpap is lekkerder.”
“Nee, ek hou niks van daai pap nie” Hy skud met mening sy kop. “Koekie-pap is lekker.”
“Dié is ook lekker” en hy wys na die noedelslaai “en die ook, en dié…”
Hy vat die stuk wors in sy hand: “Ek weet tog wat is hierdie om die wors”
“O, wat? Plastiek?” hou ek my dom.
“Nee. Derms.”
“Oe, kan mens dit dan eet?” ril ek kastig.
Hy lag en trek die velletjie af en sit dit heel in sy mond.
“Dis lekkerrr”
Die res van die wors hou hy in sy vuil handjie: “dis ‘mince’” beduie hy tussen die kouhale deur vir my.
Hy kou haastig klaar: “Okay” en daar trek hy, agter sy maats aan.
Ek pak op en gaan groet.
Voor ek in die kar klim wonder ek of die kind ‘Harry’ of ‘Herrie’ na aanleiding van Herman heet. Ek het nooit daaraan gedink om hom te vra nie. Ek het sommer aangeneem dat dit Herrie moet wees.
Ek hoop tog dat dit is – miskien kan ons eendag weer gesels en dan sal ek tog vir hom die geskiedenis van Herman die groot Germaan wat die Romeine verslaan het, vertel.
Hy behoort trots te wees om so ʼn naam te kan dra. Hy sal dit verstaan, want hy is ʼn gebore veroweraar. Hierdie blanke plakkerskamp is tans sy verowerde gebied en ek was bevoorreg dat hy my vandag op ʼn reis hierdeur geneem het.
Sy domein het alles wat ʼn mens se hart kan begeer. Ruimte en skoon blou lug, bome met koelte en die rustigheid van ʼn dam water. ʼn Houthuis om mens teen die elemente te beskerm. Familie en vriende om jou te koester. Mens kan hier so groot soos ʼn olifant wees as jy wil en as jy nie op die bootjies kan ry nie, is die dam is nie te diep om in te staan nie.
Elke dag het hier genoeg uitdagings en aan entoesiasme en vasberadenheid ontbreek dit ook nie.
Al is daar ʼn mate van verwaardelosing in Herrie se klere te lees en op sy gesiggie spore van swaarkry, is die sorge van die lewe nog niks wat hy op agtjarige ouderdom nie kan hanteer nie.
Voor ek by die hek uitry kyk ek vir oulaas weer tussen die huisies deur…
en ek wens met my hele hart dat die lewe vir Herrie altyd so sal bly – ʼn wye, wye wêreld gevul met onbeperkte moontlikhede!

Augustus 5, 2010

17 Julie 2010 – Agternagedagtes en Mymeringe. Paardekraal se klippe.

Filed under: 2010 — ankoren @ 1:54 nm

(vir Ben)
 
 
Die eintlike historiese gebeure lê diep verborge,
deur almal beleef,
maar deur niemand waargeneem nie.
C.G. Jung

Op Sondag, 18 Julie 2010, het die klippe wat die vorige dag by Paardekraal as verbintenis tot ʼn vryheidsideaal gestapel is, in die vroegoggend ʼn aardse rooi-bruin gloed gehad. Die Saterdag se verrigtinge, as herdenking van ʼn volksvergadering wat 70 jaar gelede by die Vrouemonument gehou is, het nog vars rondom die stapel gelê.

Getuies van nog ʼn historiese gebeurtenis wat hier beleef is…

“Enige nasie, net soos enige mens, wat nie onthou wie hy was nie, sal nie weet wie hy is nie en kan nie droom oor wat hy nog kan wees nie…” het Deon Opperman geantwoord op die toekenning wat die Verkenners aan hom en Sean Else oorhandig het vir die musiekblyspel, Ons vir jou.

Mnr. Andries Breytenbach, leier van die HNP en voorsitter van die Afrikanerfront, het gesê: “Rig u blik op die vryheidster wat wink daar voor. Luister na die taal van u Afrikanerhart en rig u skrede saam met u volk op hierdie vryheidspad.”

Paul Kruger voorsitter van die Volksraad Verkiesing Kommissie (VVK) het gevra: “Gaan (en wil) ons die generasie van die groot daad wees?”

Henk van de Graaf, het die amptelike verrigtinge afgesluit: “ons is in ʼn beter posisie as 70 jaar gelede om ons vryheid te herwin… Ons sal onsself moet uitpresteer om daar uit te kom.”

Die eerste klipstapeling op Paardekraal het 130 jaar ge-lede plaasgevind. Tydens ʼn volksaamtrek op 8 Desem-ber 1880 het Paul Kruger gevra dat elkeen wat nie gewillig was om saam te werk nie, óf gewetensbesware gehad het óf bang was, moes terug staan. Niemand het beweeg nie. Die ou president het die klippe tot getuie geroep. ʼn Spontane klipstapeling het gevolg en die monument is in 1890 daarbo-oor gebou, om altyd “die magtigste demonstrasie van eensgesindheid en vasberadenheid wat Suid-Afrika nog aanskou het” te gedenk.

Nonnie, die vrou van generaal De la Rey, het oor die gedenkfees wat later gehou is, geskrywe: “Ek en my drie kinders, ook die klein seuntjie van een jaar, het sy klip as gedenksteen self op die stapel geplaas.” Het sy langs daardie hoop klippe gestaan en geweet wat sy en haar man in besonder, maar heel haar volk sal offer vir vryheid?

Gedurende die Tweede Vryheidsoorlog (Januarie 1901) het die Engelse al die klippe onder die monument op waens gelaai en onder die treinbrug by Vereeniging in die Vaalrivier gaan gooi. Clive Derby-Lewis het die klippe later jare weer laat uitgeduik en die Verkenners het die klippe teruggebring Paardekraal toe.

Op Geloftedag, 16 Desember 2007, is hierdie klippe weer onder die Monument op ʼn hopie gepak. Tydens die geleentheid was prof. Eric Holm die feesspreker. Hy het verduidelik dat die Gelofte se derde been dié van ʼn volksverbond is. Net soos ons in terme van genekomplekse as van Europese afkoms geklassifiseer kan word, word ons in terme van idees in meenplekse uitgesonder, het hy verduidelik.

Hy het die kenmerke van ʼn verbondsvolk opgenoem wat insluit taal, kultuur en geskiedenis, ‘n unieke humorsin, Christelike etiek, hardkoppige ondernemingskap en ʼn eienaardige individualisme. “Mens kies of jy deel van die volk wil wees of nie. Jy aanvaar dit met die goeie en die slegte, net soos jy in jou gene noodgedwonge met die goeie en die slegte moet saamleef… anders as by gene is die keuse joune”

Nou lê hier ʼn vars hopie klippe voor die ou ingang na die monument. In verset teen die tirannie van die demokrasie – die gelykheidsdogma van vaal eendersheid waarin ons tans moet leef.

Mense is gevra om klippe van hul omgewing saam te bring en hul name en plekke van herkoms op die klippe te verf. In die hoop is baie klippe wat op die terrein opgetel is, maar daar is ook rivierklippe, graniet met name op gegraveer, ʼn klip afkomstig uit Lesotho en ook een versteende houtstomp uit Suidwes.

“Die klippe is vir my simbolies van die verskeidenheid in ons volk” het Ben Geldenhuys, president van die Verkenners aan die groepie mense wat tydens die stapeling langs hom gestaan het gesê. “Ons kan nie ons mense in kassies indruk nie.”

Later Saterdagaand, om die kampvuur, het Alwyn de Klerk (hooforganiseerder van die gebeure) die slotreël van die musiekblyspel, Ons vir jou, aangehaal: “Al lyk die toekoms hoe dood – hoe donker, ’n klein kool wat gloei in die wit as van sy verlede en al wat nodig is, is ʼn klein stukkie hardehout en ʼn windjie van verandering en kyk ..hoe hoog brand daai vlamme…!”

Met eerste daglig was al wat oorgebly het van die groot stomp wat laatnag op die kampvuur gerol is, ʼn gitswart kool op ʼn groot hoop gryswit as. Met die indruk van dun houtjies onder die kool waar dit nog effens gegloei het – breek dit soos ʼn belofte in twee – en brand met ʼn bloedvlam, warm genoeg om yster te smelt!

Het as artikel op die agterblad van die Afrikaner 30 Julie – 5 Augustus 2010 verskyn.

Julie 6, 2010

Konsentrasiekampkerkhof – Balmoral. 20 Junie 2010

Filed under: 2010 — ankoren @ 7:08 nm

Aan die voet van die gedenknaald waar die name van die gestorwenes dofwit op die donker plaat gegraveer is, staan die kerse kort voor sonop, helderwit met hul pitte swart verbrand in ʼn ry. 

Behalwe vir die gedempte geluide van enkele kampgangers wat onder die bloekombome begin ontwaak en die pad se gedruis, is die dag nog in ʼn sluimering.  Die ryp kraak onder my voete en my neus se punt brand.  Dit is ysig koud, maar om my is die natuur stil getuie dat dit hier nog veel kouer, as nou kan word.  

Ek doop my pen in die rooi robyn,

In die rooi van ons Boerebloed

Ek grif op die voorkop van elke kind

Onthou wat jou nasie moes boet!

Onthou” van H Martins.

 

Hoe moes dit gevoel het in die jare toe die konsentrasiekamptente hier ry aan ry gestaan het?  Hoeveel keer het die kapok wit oor die graspolle gelê?  Ek kruip dieper in my dikste baadjie in.  Hoeveel beskerming het die vroue wat eens hier moes staan se rokke teen die koue gebied, wonder ek. 

 

Sy sit op die seepkissie en nadink voor die kamptent, 

Oor die beleid van verskroeide aarde en moordkamp

Wat sy tol eis en boervrou en -kind dompel in ellend’…“ 

      “Die moordkamp”  van Linda Rademan

Gedurende die Anglo Boereoorlog, op 16 Junie 1900 het Lord Roberts proklamasie 5 van 1900 uitgereik, waarvolgens die Britte enige Boere wat weerstand bied se huis af moes brand en hul vroue en kinders (die “burgerlike bevolking”) as krygsgevangenes na kampe weg moes voer. 

Deur die duur van die oorlog het al te saam 22 000 kinders en 6 000 vrouens met hul lewens in sulke kampe geboet.  Vier jaar gelede is daar deur ʼn groep mense besluit om die gebeure elke jaar rondom die 16de Junie op Konsentrasiekampdag te herdenk. 

Tydens hierdie jaar se herdenking staan ek in stil bepeinsing, op Sondag 20 Junie 2010, by die ingang van die kerkhof op Balmoral.  Ek wag dat die son die dag begroet.  Hier, net langs die N4 tussen Bronkhorstspruit en Witbank is naastenby 400 mense begrawe.  Die gemiddelde ouderdom van die kinders op die gedenkplaat is vier jaar. 

Die kindergraffies eens afgewit strek in rye agter my uit en in my gedagte herleef ek weer die gebeure van die vorige dag.

Volgens kommandant Peet Dorfling van die Boerekommando was die hele naweek se rëelings ʼn spanpoging. 

Lede van verskillende Boerekommando’s (o.a. Bapsfontein, Balmoral en Pretoria) het vroeg die Saterdagoggend vanaf Bronkhorstspruit op die Groblersdalpad uit vertrek vir ʼn perderit van 47 km.  Net na 15:00  het hul aangekom op die terrein by die Volksmuseum, wat net reg langs die kerkhof is.  Met hul aankoms het van hul vrouens, saam met ander belangstellendes,  lede van die Boerekampeerbeweging en die BKRB  reeds kamp onder die bloekombome opgeslaan. 

Teen ongeveer 16:00  is almal byeengeroep vir die vlaghysingseremonie en is die verrigtinge amptelik geopen.  Die eerste taak wat die vrouens en kinders opgelê is, was om die pakke kerse in korter kersies op te sny.  Hierdie meer as 300 kersies is daarna staan gemaak, een of meer op elke graf in die kerkhof.  Kinders van alle ouderdomme het ywerig meegehelp.  Teen sononder was alles gereed. 

Na aandete is almal by die kerkhof saamgeroep vir die hoofgebeure van die naweek.  Perderuiters in die donker pad met fakkels aangery gekom en dit aan vrywilligers oorhandig.  Hierdie fakkeldraers het tussen die rye grafte deur gestap, terwyl helpers elk met ʼn kers in die hand, al die ander kersies vanaf die fakkel aan die brand gesteek het.

Almal is weer na die gedenknaald geroep waar twee vroue getuienisse en vertellings van vroue wat in sulke kampe was, voorgelees het.  Daar is ook gedigte deur jong dogters voorgelees.  

Sy sit daar in die kamptent

Haar lappop knel sy vas

Want haar mammie is reeds gister

Verlos van haar aardse las

So kry hul haar ook later

Daarby haar lappop lê

En laat haal ʼn ou seepkissie 

Om haar en haar lappop 

In die aarde weg te lê

                                                “Die lappop”  Dries Kriel.  .

Na samesang is die kerse weer uitgedoof en het almal na die kampvuur verskuif.  Twee kitare is te voorskyn gehaal en daar is vrolik saamgesing.  

“’n Toekoms te bou in verset teen die verlede,” het ʼn aanhaling van iemand by my opgekom terwyl ek stil, tot laatnag om die kampvuur na die ernstige gesprekke oor die politieke situasie waarin ons, ons tans bevind geluister het.  

Die gesig van die brandende kerse op die grafte sal my lewe lank by my bly. 

Vir vryheid en reg. 

Elke vlammetjie wat gebrand het, het ʼn geofferde lewe voorgestel. 

Die herinnering aan die lewe self het tasbaar om almal se harte gevou.  Kinders het met gedempte vreugde meedoen.  Groot manne het trane weggepik.  Jong verliefdes het stywer teen mekaar gestaan en enkelinge het verwese weggekyk. 

Vanoggend staan die kersies koud en kil.

As die son sy eerste strale met rooigloed oor die grafte gooi dink ek daaraan dat die winter gebreek is.  More draai die son. 

Balmoral, met sy Volksmuseum en kerkhof is ʼn hartseer getuienis van diep, diep winter in ons geskiedenis, maar ook die blydskap dat daar altyd weer ʼn somer kom. 

Geen trane meer.

Net die hartseer wat hier binne sit.

Grof geskaaf deur baie seer.

Al wat bly, 

Net die glo… more bring weer nuwe hoop. 

                                                                        “Die kamp” deur  JH Stapelberg.

 

 

Notas: 

* Verkorte weergawe het verskyn in Die Afrikaner. 25 Junie – 1 Julie 2010

* Gedigte uit bloemlesings Stemme uit die Suiderland 2005 en 2008. Uitgegee deur die GHA. 

Julie 5, 2010

12 Junie 2010 – 110jarige Herdenking van die Slag van Donkerhoek.

Filed under: 2010 — ankoren @ 6:15 nm

“Ons weerstand sal die wêreld verstom,” het Ben Geldenhuys, president van die Verkenners, met Paul Kruger se woorde sy historiese vertelling ingelui.  Hy het op 12 Junie 2010 tydens die herdenking van die slag van Donkerhoek, 110 jaar gelede, die geskiedenis wat aanleiding tot die slag gegee het kortliks opgesom: 

Nadat genl. Cronjé in Februarie 1900 oorgegee het en Bloemfontein gedurende Aprilmaand geval het, was die Boere baie moedeloos.  Op 5 Junie het Lord Roberts Pretoria binne gemarsjeer en die Vierkleur afgehaal.  Baie het die stryd gewonne gegee, omdat hul soos Lord Roberts gedink het dat die oorlog verby is.  Mnr. Geldenhuys het vertel dat hy hom dit kan voorstel hoe Roberts die stad in gemarsjeer het, sy troepe singende met ʼn blaasorkes vir begeleiding.…dat oorwonne ‘volksgenote’ hom langs die pad toegejuig en sulke kleinerige Britse vlaggies rond geswaai het. 

Solank Kruger net nie gevang word nie, het van die Boere op daardie stadium bly glo, staan hul nog ʼn kans.  Onder die aanmoediging van Pres. Steyn, genls. Christiaan de Wet en Louis Botha, het ʼn handjie vol Bittereinders hul stryd voort gesit.  Pretoria was reeds ontruim en die Volksraad het ʼn tydelike regeringsetel te Machadodorp ingestel.  Generaal De la Rey is na Boekenhoutkloof en generaal Botha se magte het hulself ingegrawe op die eskarp op die plase Donkerhoek en Kleinfontein. 

Hier in die omgewing van Donkerhoek het die Britte, met 14 000 man, 66 veldkanonne en 6 swaar kanonne, op die 11de Junie die Boere begin bombardier.  Die Boere was 6000 man, met 22 kanonne en een Long-tom.  Die Engelse het die Boere gedwing om na die hoogste kop, genaamd Diamond Hill, te konsolideer.  Hier het die beslissende slag van Donkerhoek op 12 Junie 1900 plaas gevind.  Die Boere het gewen met min verliese aan hulle kant.  Die Engelse het na die slag as “the Battle of Diamond Hill” verwys.

Hierdie slag was deurslaggewend om die Boere weer moed te gee.  Dit was ook die laaste keer in ons geskiedenis wat die Boere volgens die ou konvensionele manier met kanonne teen die Engelse geveg het. Hier het hulle die eerste keer die tegniek gebruik om die kanonniers te bestorm terwyl hulle besig was om die kanonne te herlaai.  Die Boeremagte sou voorts die ongelyke stryd vir nog byna twee jaar voort sit met guerrilla-oorlogvoering. 

Die Donkerhoek Verkennersjeug dit hulle plig geag om hierdie merkwaardige oorwinning van die Boeremagte met ʼn Volksfees te herdenk. 

Die feestelikhede op 11 Junie afgeskop met ʼn Cantus waartydens die Donkerhoek Cantus Gilde gestig is.  Verskeie mense het dan ook sommer op die historiese Tandem-plaas in Kleinfontein, waar die fees plaasgevind het, gekamp.

Saterdagoggend is die verrigtinge daar onder die mooi bome voortgesit.  Tydens die vlaghysing seremonie is die Vrystaatse vlag en die Vierkleur gehys.  Ds. Jurie Venter het geopen met skriflesing en gebed. 

Na mnr. Geldenhuys se historiese vertelling het die groep Ridder de Jongh almal vermaak met hul liedjies, onder meer Boereprinsessie en Volkstaatmeisie.  Die Donkerhoek Aksie Vrouekrag het gesorg vir pannekoeke en worsbroodjies en ʼn gesellige kuierdag is op Donkerhoek deurgebring. 

Die spreker het afgesluit deur te sê dat daar vandag ook weer vreemde vlae in Pretoria se strate deur ‘volksgenote’ gewaai word. Alhoewel daar nie ʼn orkes is om te speel nie, weergalm die Soweto blaasbalke oorverdowend deur die strate… 

Juis daarom, het hy gereken is dit so prysenswaardig dat die  gewaai word. Hoewel daar nie

lae in Pretoria deur ‘ensionele manier die Engelse terug geveg het. Hul sou voorts dieDonkerhoek Verkennersjeug die herdenkingsdag gereël het. Almal wat teenwoordig was kon die jong manne se mening deel dat in die situasie waarin ons volk ons tans bevind, ons weer daardie soort van inspirasie (wat die oorwinning van Donkerhoek gebring het) nodig het.  

Deur die Slag gereeld te herdenk kan ons ook moed skep om ons ongelyke stryd suksesvol voort te sit.  Van die jong manne daar het sommer net na afloop van die verrigtinge begin planne beraam om ʼn meer uitgebreide fees aanstaande jaar aan te bied. 

Soos gepubliseer in Die Afrikaner 18-24 Junie 2010, onder die opskrif Keerpunt in volksgeskiedenis gevier.

Junie 8, 2010

7 Junie 2010 – Sewe jaar en sewe maande

Filed under: 2010 — ankoren @ 10:47 vm

“Ek het maar die pakkies goed saamgebring, vir ingeval – jy weet” sê oom Jan Vermeulen met so skewe laggie as ons laatoggend op die 7de Junie 2010 by die Hooggeregshof se hek uitstap.

“Gelukkig is daardie dae nou verby en hoef ons Oom nie weer te sien nie,” lag ek terug “Sjoe, dit klink nou baie ongeskik, maar gelukkig verstaan Oom wat ek bedoel…”

“Ja-Nee. Solank ek net nooit weer Potgieterstraat toe hoef te gaan nie.”

“Ek wou nog vra: hoe oud is Oom nou?”

“Een-en-tagtig”

“Nou wanneer het Oom so oud geword?” Ek het eerlikwaar gedink hy is nog in die sewentig. “ En nog steeds het Oom een maal elke maand van Brandfort af Pretoria toe gery om vir Jurie te kom kuier… vir sewe jaar en sewe maande…”

Hy val my in die rede “In die begin elke veertien dae, maar later het ek te sleg geword en het dit toe maar net een maal elke maand gedoen.”

Regter Eben Jordaan het pas borg aan sy seun, Jurie Vermeulen, toegestaan. Hy is beskuldigde nr. 16 in die Boeremagsaak. Hy staan saam met nog negentien ander beskuldigdes tereg op klagte van onder meer hoogverraad en terrorisme. In sy uitspraak het die regter dit duidelik gestel dat Jurie die enigste een van die beskuldigdes is, wie se borgaansoek hy kan aanhoor.

Jurie se vorige borgaansoek was gedurende Julie 2007, voor Regter Jerry Shongwe. In daardie aansoek het hy gesteun op ʼn verslag van ʼn maatskaplike werker oor die verbrokkeling van sy gesin, sy verhouding met sy vader en sy minderjarige seun. Die seuntjie was ʼn ses maande oue baba toe hy in hegtenis geneem is en moes tot op hede sonder ʼn pa groot word. Die bevinding was egter dat Jurie ʼn gevaar vir die samelewing inhou en dit nie in die belang van geregtigheid sou wees om hom op borg vry te laat nie.

Regter Shongwe is intussen na die Appèlhof. Dit is dus nie moontlik vir die beskuldigde om nog ʼn borgaansoek op grond van nuwe feite voor hom te bring nie. Regter Jordaan het gelyk gegee dat hy as regter in die verhoor, in elk geval ten volle op hoogte van al die feite is en het ingestem om die aansoek aan te hoor.

Die kern van die betoog in die aansoek was dat elke persoon die reg het op ʼn spoedige verhoor.

Regter Jordaan het mnr. Bandjes, Jurie se regsverteenwoordiger, gelyk gegee in sy betoog dat Jurie nie “een van die groot visse was nie.” Hoewel die regter hom nie kan uitlaat oor wat sy bevinding op die einde van die saak sou wees nie (“tussen hakkies ‘wanneer’” die saak eendag tot einde kom – het hy met nadruk gesê) beskou hy sewe jaar en sewe maande in aanhouding reeds as ʼn lang vonnis.
Ook het hy genoem dat hy na ʼn verhoor van sewe jaar nie die advokate hul taak beny om hom toe te spreek oor elke beskuldigde nie. Nog minder beny hy die staat hul taak. Dan verwys hy nie eens na homself en sy assessore wat alles moet beoordeel nie. Hy het ook genoem dat hy lankal “opgehou het om te voorspel” wanneer dit alles eendag tot ʼn einde sal kom.

Gedurende hierdie saak het hy reeds 40 ander aansoeke ook moes aanhoor. Die jongste is die aansoek van die drie Pretorius-broers (beskuldigdes 19,20 en 21) – wat om Krygsgevangene-status aansoek doen.

Hy het in kort die huidige situasie op gesom: Johan Pretorius (nr. 19) het vanaf 10 Maart tot 21 April deser sy getuienis in hoof afgelê. Die ander regsverteenwoordigers het kort daarna hul kruisondervraging voltooi maar nadat die Staat ʼn driekwart dag besig was, het Johan geweier om verder te getuig. Die aansoek om Krygsgevangenskap het daarop gevolg.

Hy het gehoop dat die aansoek voltooi sou wees voor die aanbreek van die reses, maar op die 2de Junie het die applikante se regsverteenwoordigers gevra dat die saak uit gestel word tot na die reses, die 19 Julie 2010.

Die saak het na regte op die 21ste April tot stilstand gekom. Aangesien die regter baie tyd nodig sal hê om ʼn uitspraak op hierdie aansoek voor te berei, voorsien hy dat die saak self nie voor Augustusmaand sal hervat nie.

Omdat Jurie reeds getuig het, is sy indruk van sy persoonlikheid dat hy nie ʼn geweldadige persoon is nie en glo die regter dat die herinnering van sewe jaar en sewe maande agter tralies hom sal weerhou daarvan om enige verdere misdrywe te pleeg. Hy het weer ʼn keer na hom verwys as ʼn “kleiner vis in die saak.”

In belang van geregtigheid het hy borg van R50 000 toegestaan.

“Dan groet ons maar.” Oom Jan is nou baie haastig om sy seun by die tronk te gaan oplaai.

“Dag Oom. Sê groete vir die Tante.”

Hy draai om en stap weg. Vir ʼn ruk kyk ek hom agterna. Hy dra swaar in elke hand aan ʼn inkopiesak gevul met kruideniersware. ‘…net vir ingeval’ die regter anders sou besluit het. Mens weet nooit nie. Dis ʼn lang reses wat voorlê. Gelukkig kan dit alles nou weer saam gaan huis toe.

Ek is so bly, maar die hartseer bekruip my.

Sewe jaar en sewe maande vir hom – agt jaar en twee maande vir sommige ander van ons…

Ek dink aan die ondersoekbeampte wat Jurie geterg het dat hy net moet onthou dat hy nou nie meer die baas is, as hy by die huis kom nie. Ek sien voor my geestesoog hoe bek-af sy medebeskuldigdes gaan staan en toekyk hoe hy oppak en C-maks se stof van sy voete afskud. Aan Herman Scheepers wat kort voor sy dood, ook in die jaar 2007 die laatste een was wat dié voorreg gesmaak het…

Ek kan nie besluit hoe ek voel nie.

Miskien was my boodskappie aan Jurie se vrou ʼn paar minute tevore instinktief die samevatting van al die emosies wat nou skielik dreig om my onder te kry:

Boeremagvriendin,
Ek is so jaloers op jou – ek kan vrek.
Ek is so bly vir jou part – ek dans ʼn riel.
…ek wens jou toe dat jou vreugde altyd sal bly!

Junie 1, 2010

5 April 2010

Filed under: Ongekategoriseerd — ankoren @ 9:24 nm

die reën loop kronkelpaadjies
oor die kar se ruite

in hierdie omgekeerde déjà vu oomblik
is dit net jy wat dringend skort
asof ons saam op ʼn lang reis
iewers heen oppad moes gewees het

as ek my verbeel dat jy langs my sit
kan ek die alleen besweer
en jou hegter bind
aan die leemtes van my enkelskap

deur agt jaar se foonoproepe
tronkbesoeke en
nog-net-drie-minute-oor se kuiertyd

worstel ek steeds teen die opstand
van jou afwesigheid

wyl jy my rustig leer
van ʼn dieper vind

Mei 11, 2010

Kantlynnotas vir die Vrouegalery… Moedersdag 2010

Filed under: 2010 — ankoren @ 6:43 vm

Ten einde ʼn besoek aan die Boeremagvroue-galery na waarde te skat, dien die volgende notas vermeld te word:

Die keuse om die vroue betrokke in die saak as ʼn galery voor te stel, is gemaak na aanleiding van Marcel Proust se siening: “It is only through art (and books) that we can escape from ourselves and know how another person sees a universe which is not the same as our own…”As Boeremag-vriendinne bespreek die vroue dikwels onder mekaar, dat hul in ʼn totaal ander wêreld lewe as hulle ander vriendinne. Om te deel in hierdie wêreld, wat vreemd is om te verduidelik aan iemand wat nie daarmee te doen het nie, is u genooi om hierdie galery in die kuberruimte te kom besoek.

Veral aan die begin van die hofsaak was hierdie vroue se doen en late in die media uitgestal kompleet soos ʼn skildery teen ʼn muur. Elkeen se grootste taak was en is nog steeds om haaks teen daardie muur te hang. Die wye wêreld, as ruimte van die galery, het vir haar – sonder hom aan haar sy – verdwaal-groot geword. Sy moes leer om die werklikheid van elke dag se bestaan en die eng twee-by-vier-ruimte waar haar maat gevange gehou word, (en sy noodwendig in gees saam vasgekeer is), te balanseer. Haar rol het skielik verander na die van versorger, deurdat haar en haar man se welstand daarvan begin af hang het of sy hierdie balans kon vind en behou.

Die Duitse digter Rilke se unieke siening van die huwelik dat twee eggenotes ‘beskermers van mekaar se afsondering’ moet wees, het in hierdie galery besonderse betekenis gekry. Elkeen van die vroue wat hier uitgestal is, word beoordeel na die wyse waarop sy, haar en haar lewensmaat se saamwees as enkeling voortdra. Sy leer ook van Rilke verstaan dat “gemeenskaplikheid net in die versterking van twee ‘naas mekaar bestaande eensaamhede’” tot ‘nie-besittende’ liefde kan lei. Na jare besef sy ook dat die uitbou van gemeenskaplikheid in die diepste sin, met afstand en afsondering bitter min te make het.

Hoewel sy dikwels teen haar eie onmag te staan kom, leer sy om in die liefde van ʼn man te skuil wat bereid was om alles vir sy volk te offer.

Delacroix het meestal sy inspirasie gevind in die digkuns. Hy kon homself vereenselwig met die passie en aspirasies van digters soos Dante, Shakespeare en Byron. Tog, het die emosie rondom werklike gebeure hom ook aangegryp en met die skildery, Liberty Guiding the People het hy die Julie Revolusie van 1830 uitgebeeld. Alles in die skildery is so werklik soos wat dit gebeur het, behalwe vir die allegoriese figuur van Marianne. ʼn Robuuste vrou, uit die gewone klas, wat nog steeds gesien word as die simbool van vryheid en rede.

In ʼn brief aan sy broer, het Delacroix geskrywe, dat selfs al het hy nie vir sy land geveg nie – hy tenminste daarvoor geteken het! Volgens oorlewering was sy uitbeelding van die Revolusie so sterk dat die Direkteur van die Skone Kunste gedurende 1831 die skildery gekoop het en dit met die gesigkant na die muur opgehang het! Die skildery word ook beskryf as ʼn fragment van die werklikheid en ʼn ideaal – ‘n tema sentraal in die univers van die vroue van die galery.

Die uitgestalde vrou moes haar ook losmaak van skindertonge en verwyte net soos die skilder Frans Hals. Met sy skildery van Catherina Hooft, (waar sy sit met die kind op haar skoot) het hy aan die wêreld bewys dat hy nie die dronkaard was soos algemeen aanvaar nie. Gerald Davies het jare na Hals se dood uitgewys dat slegs ʼn vaste hand die oorvloedige detail van kant so meesterlik sou kon teken soos op hierdie skildery en dat dit onmoontlik sou gewees het vir ʼn sestigjarige alkoholis.

Salvador Dali se gesmelte horlosies stel volgens sommige kritici die irrelevansie van tyd voor, maar hy moes verstaan het, wat die vroue van hierdie galery moeisaam moes leer … dat tyd rondom enige iets kan vou… dat dit vreeslik lank kan neem om ongelooflik vinnig verby te gaan. Gelukkig ook dat tyd ʼn genadegawe is wat mens naderhand net die goeie laat onthou en die slegte laat vergeet.

Rosetti is in verskillende fases van sy skilderwerk deur die ideaal van vrou-wees geïnspireer. Om dit uit te beeld het hy ten eerste sy suster, Christina en later sy vrou Eleanor as modelle gebruik. Na sy vrou dood was hy nie in staat om weer te werk nie. Na tien jaar waarin sy as konstante inspirasie vir hom gedien het, was hy verpletter, totdat hy die vrou van sy leerling William Morris ontdek het en as model van die laaste van hierdie drie fases gebruik het. Haar skoonheid het hom geïnspireer tot die mooiste van sy werke – Die Dag-droom. Vir elke vrou kan dit wees soos ‘n droom wat waar word, om te weet dat sy as inspirasie vir iets moois en groots gedien het.

Meer as enige ander vrou staan hierdie vroue gereeld voor die raaisel van vrou-wees, daarom is die Mona Lisa sentraal geplaas in die galery. In ‘n handboek van kunswaardering is daar geskrywe dat daar in die sagte gelaatstrekke van die Mona Lisa ʼn glimlag lê wat deur groot kunskritici geroem word as “die suiwerste beliggaming van die ewige raaiselagtige in die vrou.”

Die skryfster MER het ook haar antwoord op die raaisel van vrou-wees in ʼn skildery gevind – die Madonna van Raphael.

“ʼn Vrou se lewe is om bewys te wees van die noodsaaklikheid en die onmisbaarheid van Goedheid. Goedheid… is opregtheid, liefde, getrouheid by al die werksaamhede van die lewe. En in haar(Madonna) oë… is die uitdrukking van een wat al die feite en waarhede van die lewe onvervaard in die gesig kyk, wat vir geen kennis bang is nie, en wat oor alles kan oordeel uit die opregtheid, die getrouheid en die liefde wat daagliks werk in haar hart… Sy is… die verwesenliking van die mens se Moeder-ideaal. Sy is die ewig-vroulike, wat die mens ontwikkel en beskaaf. In haar is al die eenvoud van alle eenvoudige getroue vroue, al die wysheid van alle verstandige ervare vroue, al die kennis van alle geleerde vroue, al die fynheid van alle fynbeskaafde vroue, almal se strewe opwaarts, van watter aard ook, is in haar verenig” (Aangehaal uit die boek van Jaap Steyn, Die honderd jaar van MER.)

Millet se Gleaners, is in die negentiende eeu met gemengde gevoelens ontvang. Die sosialistiese, realistiese kommentaar wat dit gelewer het, was een te veel vir die kunswêreld. Dit het skerp vrae gevra. Volgens sommige kritici is party nog steeds vandag relevant in politieke kuns. Is dit geregverdig om aan mense wat so ʼn minderwaardige taak verrig – soos om koringare op te tel na die oes – groter menswaardigheid toe te ken? Kan die verrigting van so ʼn alledaagse taak, ʼn persoon as individu laat uitstaan bo ander? Kan brutaliteit deur die prag van kuns versag word? Verdien die alledaagse om na die mistieke verhef te word?

Tog het die skildery die grootste ‘gleaner’ van alle tye – die Bybelse figuur Rut – in herinnering geroep en is dit bekend as die kunstenaar se meesterwerk. Hierdie skildery is vir die moeders van die vroue opgehang. Die vroue wat getrou gaan waar hul dogters moet gaan. Wat ook gereeld kom kuier en alles – wat in die haas van die oes sorgeloos bly lê het – bymekaar maak. Daar kan met reg gesê word dat hierdie die waardevolste skildery in die hele galery is.

‘n Item wat ‘n groot rol in die vroue se lewens speel en na vele oorweging nie in die galery opgehang is nie; is ‘n spieël. Net soos die dramaturg Deon Opperman by monde van sy karakter, Sarie Marais, ʼn lewensmaat uitbeeld as ʼn spieël waarin jy na jouself moet kyk – is die glas in die besoekhokkie voor die tralies, die dubbel-spieël waarvoor die vrou van ʼn politieke gevangene gereeld gaan staan. Die moed om te kyk ontbreek haar soms… daarom gaan staan sy eerder voor hierdie mooi uitgestalde skilderye waar sy inspirasie kan vind en met grasie kan vergestalt wat die Engelse noem: ‘to endure…’

Hierdie galery sou egter nooit sinvol kon bestaan as dit nie vir die besoekers was nie. Vreemdelinge, vriende en familie wat deur die jare steeds hul bystand aan die vroue bied, finansieel sowel as emosioneel. Mense wat deur hul woorde en dade, die swaarkry deel, help om kinders deur Universiteit te kry, motors padwaardig hou, politieke ideale lewend hou en gereeld moed inpraat. Mense wat die vroue soms ʼn honderdrandnoot of meer in die hand stop – gewoonlik op ʼn tydstip wanneer dit dringend nodig is. Mense wat so konstant en ruim bydra dat hulle name met verdienste op ʼn ererol by die ingang aangebring kan word.

My innige dank aan almal, besoekers en ook lesers wat die tyd afgestaan het om die galery te besoek, op welke manier ook al. Dit is wat die galery laat voort bestaan, wat keer dat die stof en spinnerakke van moedverloor die vroue oorval.

‘n Besonderse Dankie aan my moeder, Ma-Rensie. 

April 19, 2010

Ons manne se staan – 9 April 2010

Filed under: 2010 — ankoren @ 8:48 nm

 

My kind”, het Tant Nonnie eendag (lank gelede—toe ek nog in die bondel gevry het) vir my gesê, “jy moet altyd eers mooi kyk hoe ’n man in sy sokkies staan, voor jy met hom deurmekaar raak.”

 Vrydag, 9 April 2010 op Ventersdorp, tydens Eugene Terre’Blanche se begrafnis, het die angsgedagte van wat op ons wag en of ons sal bly staan, my vir ʼn oomblik oorval.  Ek het Tant Nonnie se raad onthou en die skoene van die manne oral om my, deur my kameralens betrag…

                                                                     Gesoute velskoene soos die grysbaarde wat hul dra.

Modieuses – met naamplaatjies en al – vir die jeug wat graag wil spog.

Klimskoene, tekkies

— haastig sportief, avontuurlustig. Altyd reg vir aksie.

 

                           Blink gepoetsde skoene wat by hul kisklere pas— eerbiedig en gedienstig.

 

                     Skoolskoene wat as bestes dien.

 

Flukse skoene, met nerwe af getrap…

Plaasboerskoene wat stewig kan vastrap. 

Tant Nonnie ,

Dankie dat u my geleer het om mooi te kyk.

Vandag het ek weer moed geskep.

Ek het hoop vir my volk –

wat ook al op ons wag …

Ons manne staan sterk! ”

Maart 30, 2010

Blaaie wat uitgeval het… 5 Jan 2008

Filed under: 2008 — ankoren @ 9:56 vm

5 Januarie 2008

Vandag 5 Januarie is Giel Burger, beskuldigde nr. 7 in die Boeremag se verjaarsdag.

Rondom Maandag die 19de Mei 2003 (die dag waarop die saak begin het) was daar in ʼn Engelstalige koerant ʼn uiteensetting van die strukture van die “Boeremag”.  Bo-aan is die opskrifte “THE TOP COMMAND” “SENIOR OFFICERS” en “OFFICERS”. Ook “THE INNER CIRCLE”. Eerste sin onder laasgenoemde lees “these men formed the top structure of the Boeremag Ek lees en ek lees weer ʼn keer, maar ek sien geen Machiel Burger nie en dis al of die name te min is wat genoem word.

Nou hoe nou, wonder ek? Tot ek omblaai, – die berig was so geplaas dat dit te wyd vir ʼn A4-boek is en ek het die laaste kolom op die volgende blaai geplak:

THE FOOT SOLDIERS
ACCUSED NUMBER 7: Machiel Adriaan Burger (46)
FROM: Postmasburg
ARRESTED: August 12 2002, On bail of R10 000.
JOB: A colonel in the Defence Force.
ALLEGATIONS ON CHARGE SHEET: Was asked to prepare all the war vehicles and find keys to weapon stores”

Ek sal ʼn paar dinge van hom my lewe lank onthou.

“Die oom wat so lekker en snaaks lag, dat jy sommer lag omdat hy lag” het Cézanne hom geëien, toe ons wou weet of sy weet watter een van die ooms oom Giel is.

Hy het ook niks van die gedagte om oupa te word gehou nie, maar gloei deesdae van trots as mens na sy ses maande-oue kleindogter vra.

As ek hom bel op sy verjaardag gee hy altyd die telefoon vir Kobie, sy vrou ook aan, sodat sy ook kan groet. Meer as een maal het hy ook vir my die foto’tjie van haar as skooldogter wat hy in sy beursie dra, vir my gewys – sy skoolkys wat nou nog hou! Hy maak ook geen geheim daarvan dat die kilometers tussen hulle hom nie aanstaan nie.

Sy Ma het mos hoeka al daar in die begin jare vir my vertel dat “goeie soldate, goeie minnaars is,” Sy weet, want sy was met ʼn soldaat getroud – al was hy ʼn kapelaan – hy is ten eerste ʼn soldaat, het sy verduidelik. Haar seun is ook ʼn soldaat, het sy trots bygevoeg.

Op ʼn dag het ek en ʼn vriendin saam met van die borgouens gaan koffie drink, tydens ʼn hofverdaging. Die gesels gaan hoofsaaklik oor die eerste dae na hul arrestasie(min of meer vier jaar van te vore). Hy lag en hy vertel hoe opgewonde hulle hele gesin was omdat hy het net die vorige week toestemming gekry het vir ’n subsidie kar: “al wat die Staat my toe gegee het, was ’n gratis rit in ’n “police van” Pretoria toe, ’n paar weke gratis verblyf, en ’n verdere vier jaar in die stad waarvoor ekself moes opdok”.

Sy oë gaan sommer so toe van lekkerkry as hy voorts vertel dat nog nooit was iemand so bly om hom te sien, soos Jacques Olivier(beskuldigde nommer agt) wat, (en hy beduie met sy hande weerskante van sy gesig) deur die tralies geloer het, toe hy in die polisieselle ingestap het, nie. Die grootste glimlag wat hy ooit in sy lewe gesien, beduie hy.

Later daardie dag vertel ek dit oor die telefoon vir Emmaret, en sy vra dadelik of onthou ek dan nie die ander storie wat Deon van hulle verblyf in die polisieselle vertel het nie? [Ek haal haar aan soos sy dit op 13 Desember 2007 op die geselsforum, Boerevryheid vertel het.] “Dat daar ‘n ‘dame van die nag’ in gebring en toegesluit was in ‘n sel… en sy was gou bewus van die feit dat die klomp mans (ONS manne!) (o.a. Die miljoenêr boer, einste kolonel Giel, nog ʼn luitenant-kolonel en ʼn majoor) ook daar toe gesluit was…

Sy roep toe uit haar sel…. “Polisieman! Polisieman!? bring vir my ‘n sigaret! ”

“Polisieman??? …”  niemand antwoord, of bring vir haar ‘n sigaret nie en sy besluit om ‘n ander plan te maak!

Terroriste!!! Terroriste!! Roep vir my ‘n polisieman!!’ ”

Ook sal ek die een keer onthou wat ek hom verleë hartseer gesien het…

By die herdenking van die 11de dag van die 11maand, het Willem Ratte vertel dat nadat hy(wat Willem is) gearresteer was, hulle hom terug geneem het Lohatla toe onder streng polisiebegeleiding, vir uitkenning of so iets. Hy het gesê dat daar diè dag ook grootkoppe van die Weermag teenwoordig was.

Teen daardie tyd was hy al gewoond daaraan dat mense weg gekyk het as hulle hom gesien het, maar dat iemand van vêr oorkant op die paradegrond vir hom gewaai en geskree het:

“Hallo Willem, hoe gaan dit?”

Toe hy opkyk was dit Giel Burger.

…Willem Ratte het dit van pas gedink om dit te vertel op ʼn dag van trou…

Volgende Blad »

Blog at WordPress.com.